Bloemfontein dalk binnekort sonder water

Argieffoto

Argieffoto

Bloemfontein en Botshabelo kan moontlik teen Augustus sonder water sit, het die burgerregte-organisasie AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

“AfriForum het ʼn ondersoek gelas nadat die Rosestad die afgelope paar maande watertekorte ondervind het,” het CW Els, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir die Vrystaat, gesê. ʼn Onafhanklike ondersoeker vir AfriForum het die verslag saamgestel oor watervoorsiening in die Mangaung-gebied.

“Die inligting wat gebruik is vir die verslag is algemeen beskikbaar, maar die verslag lig ook talle tegniese punte uit wat verband hou met opgaarkapasiteit, leweringsvermoë en die toestand van al die pompstasies en ander watersuiweringsaanlegte,” het Els bygevoeg. “Dié vooruitskatting word gegrond op die reënseisoen in die opvangsgebied wat verby is. Die damme se vlakke is baie laag, en teen die huidige gebruik is waterlewering nie volhoubaar tot die volgende reënseisoen nie.”

AfriForum het ʼn dringende vergadering met die Mangaung Munisipaliteit belê om uit te vind of hulle bewus is van die situasie. “Water in die Vrystaat is ʼn probleem, en as ʼn stad soos Bloemfontein nie die situasie kan hanteer nie, watter kans het dorpe soos Kestell of Reitz?” wou Els weet.

Die Mangaung-munisipaliteit het nog nie op die bewerings reageer nie.

Els sê AfriForum wil met die munisipaliteit vergader om inligting te vergelyk en oplossings te bespreek, maar die munisipaliteit kan eers oor twee weke met die groep vergader. “Inwoners het die reg om te weet indien hulle binnekort ʼn probleem op hande gaan hê,” het hy bygevoeg.

Die departement van waterwese het op 14 Maart ʼn kennisgewing in die Staatskoerant publiseer oor waterbeperkings, maar die metro het dit glo geïgnoreer. Die departement het ʼn 15% waterbeperking op huishoudelike en nywerheidsgebruik in Mangaung, insluitend Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu aangekondig. Hy beperk die gebruik van water vir besproeiingsdoeleindes in die Modderrivier-opvangsgebied bo die Maselspoortdam met 50%.

Nteliso Ntidi, streekshoof van die departement, het aan die plaaslike gemeenskapsradiostasie OFM gesê die kennisgewing van 14 Maart is opgeskort, aangeskiet die droogte in die gebied opgeklaar het. Ntidi het gesê die departement ondersoek nou weer die watersituasie in die Caledon- en Modderriviere om te bepaal of waterbeperkings nodig is.

Els sê die vraag moet gevra word waarom die ongewilde besluit van waterbeperkings vir Mangaung nog nie geneem is nie. Hy sê die situasie is kommerwekkend, aangesien die hoofwaterbron vir Bloemfontein, die Rustfonteindam, teen die huidige watergebruik, nog net water beskikbaar het vir 235 dae. “Die Groothoekdam het nog water vir 180 dae van 26 Maart,” het hy gesê.

Mangaung se primêre waterbronne is afhanklik van reënval.

Volgens AfriForum was inwoners in die Estoire-gebied in Bloemfontein Vrydag al vyf dae lank sonder water.

“AfriForum sal met die munisipaliteit kommunikeer en inwoners op hoogte hou van die situasie,” het Els bygevoeg. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.