
Wikus Pienaar en Tiffany de Kock. Pienaar is in die ongeluk dood en De Kock se toestand is glo steeds kritiek. (Foto: Facebook)
Die jong Bloemfonteinse ma wat verlede week deur ’n vragmotor van voor op haar fiets getref is, is glo steeds ’n kritieke toestand in die hospitaal.
Maroela Media het verlede week berig dat Wikus Pienaar (26), die pa van Tiffany de Kock se twee maande oue babaseun, in die ongeluk dood is en dat sy na die Mediclinic Bloemfontein gehaas is.
Natasha Nel, vermoedelik ’n familielid van De Kock, het op Facebook geskryf dat De Kock se toestand steeds “kritiek” is en dat die familie deur ’n “vreeslike tyd” gaan.
Sy het ’n navraag van Christa Temple op Facebook beantwoord. Temple blyk geen verwantskap met De Kock of haar familie te hê nie en het ook aangedui dat sy haar nie ken nie, maar vir haar bid.
Nel is ook op Facebook gevra of die familie bereid sal wees om ’n Facebook-blad vir De Kock te skep sodat die publiek oor haar toestand ingelig kan bly omdat baie mense belangstel en vir haar bid.
Nel het egter gesê dat die familie nie daarvoor kans sien nie, maar dat hulle die gebede opreg waardeer.
Die ongeluk het op die N8 tussen Bloemfontein en Kimberley plaasgevind. Kol. Thandi Mbambo het bevestig dat die polisie ʼn klag van strafbare manslag ondersoek.