Bloemfontein-onluste: Talle vas; premier gryp in

Minstens 19 mense is reeds in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige protesoptrede. (Foto: Twitter)

Die premier van die Vrystaat het Dinsdag met belanghebbendes vergader oor die afgelope twee dae se gewelddadige protesaksies in Bloemfontein.

Sisi Ntombela het met verteenwoordigers van Mangaung Community Concern, Mangaung Business Forum, Samwu en die leierskap van die Mangaung-metro vergader.

Volgens Sello Pietersen, die premier se woordvoerder, is tydens die vergadering beraadslaag oor die belangrikste bekommernisse wat deur die verskillende belanghebbendes geopper is. Dit sluit onder meer in die gebrek aan dienslewering, toegang tot sakegeleenthede en gesonde munisipale bestuur.

“Daar is ooreengekom om ’n gedetailleerde, ondertekende ooreenkoms op te stel wat bindend sal wees vir alle belanghebbendes en wat al die aangeleenthede uiteensit, asook die tydsraamwerke vir implementering en monitering. ’n Gesamentlike projekbestuurspan, bestaande uit al die belanghebbendes, sal op die been gebring word om te verseker dat die ooreenkoms geïmplementeer word.”

Volgens berigte is tydens die vergadering ooreengekom dat Tankiso Mea, Mangaung-metro se stadsbestuurder, verwyder sal word. ’n Raadsvergadering sal glo binnekort hieroor gehou word.

Daar sal volgens Pietersen nou verseker word dat skole weer oopmaak en dat mense kan gaan werk.

“Ons stem saam dat kwessies wat deur die leiers van ons gemeenskap geopper is, eg is en dat dit dringend ondersoek moet word. Die stand van ons munisipaliteit is nie op die gewenste vlak nie, en juis daarom het die provinsiale regering ingegryp,” het Ntombela gesê.

Intussen is minstens 19 mense reeds in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige protesoptrede.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is minstens 13 winkels wat aan buitelanders behoort tydens die betogings geplunder.

Die verdagtes sal na verwagting vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van openbare geweld.

Die 57-jarige veiligheidswag wat na bewering ’n 15-jarige seun tydens die openbare geweld doodgeskiet het, sal ook vandag in die landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Riaan ·

Nog ‘n ondersoek komitee en nog ‘n belofte. Die lot is baie goed om wette te maak en komitees te stig. Maar glad nie enige basiese idee van hoe om selfs die simpelste goed te laat werk nie.

Frank ·

Dis korrek, as daar onder verrotting is, gaan soek oorsaak heel bo!! Dis gewoonlik waar dit begin.

Johann ·

Met die mooi sypaadjies in die foto is dit glad nie Bloemfontein nie, eerder Mangaung.

my opinie ·

Ek bly hier… Ek skaam my dood vir die plek… En van sy mense. Rosestad is nou Doringhool

Misky ·

Hoekom het hulle nie gaan protes en brand op Ntombela se sypaadjie en oprit nie? Sy is die een wat nie haar werk doen nie en waar die probleem lê.

Jakes ·

SA het n muishond geword wat feitlik daagliks verder verval omdat wetteloosheid en anargie die norm geword het. Feit is dat daar niks gedoen word deur n onbekwame regering wat vrot is van bo tot onder. Ek skaam my om n burger van SA genoem te word en dat my land binne 26 jaar tot n ashoop gedaal het.

Samuel ·

Gaan dit werklik oor dienslewering , of is daar onderliggende politiekery aan die orde?

Heinrich ·

Maar kom stemtyd dan trek hulle maar weer die kruisie by die party waarteen hulle nou so betoog het. There is no cure for stupid…

Anton ·

Al wanneer mens die Vrystaatse regering sien is wanneer hulle met hulle blou ligte verby jou jaag op pad Sandton toe.
Wat die betogers aanbetref: You get what you vote for :-)

ES ·

Wat soek die 15-jarige wat doodgeskiet is tussen die betogers? Hy moet mos besig wees om onderrig te kry. Dis a.g.v. die “verkeerde onderrig” van jong mense dat hierdie land in die toestand is wat dit is.

My siening ·

My nuttig het die premier opgestaan van more en gesien daar is iets aan die gang. En wie verteenwoordig hy? DIE ANC!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.