Bloemfonteiners moet sélf oor vullisverwydering kan besluit

Argieffoto (Foto verskaf deur AfriForum)

AfriForum het Donderdag ’n dringende beroep op die Mangaung- metropolitaanse munisipaliteit (Bloemfontein) gedoen om geen vullisverwyderingsrekeninge te stuur aan inwoners wat aansoek gedoen het om die kansellasie van dié munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste nie.

Meer as 600 huishoudings het reeds, met AfriForum se hulp, hiervoor aansoek gedoen omdat hulle, weens die metro se swak dienslewering, eerder voortaan van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik wil maak.

Inwoners se aansoeke behels die kansellasie van die munisipaliteit se diens in dié verband en gevolglik ook kwytskelding van betaling daarvoor. Aansoekers is egter intussen ingelig dat die metro glad nie hul aansoeke gaan oorweeg nie. AfriForum het daarom dié aangeleentheid met die metro opgeneem en oorweeg nou om verdere stappe te doen.

“Baie huishoudings in Bloemfontein maak gebruik van privaat vullisverwyderingsdienste omdat Mangaung se dienslewering uitermatig swak en sporadies is,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake. “Munisipale vullisverwydering vind soms weke lank glad nie plaas nie en skep al vir etlike jare geweldige frustrasie onder inwoners. Mense het genoeg gehad van die onbevoegde metro en daarom wil AfriForum ’n alternatiewe oplossing bied.”

Coetzee voer aan dat die metro se verordening insake vullisverwydering voorsiening maak vir die inwoners om aansoek te doen vir kansellasie van dié munisipale diens en vir kwytskelding van betaling daarvoor.

“Die Mangaung-metro versuim in sy grondwetlike plig om volhoubare vullisverwydering aan sy inwoners te verskaf. Dit is daarom irrasioneel om te eis dat inwoners moet betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie. Die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste en die aanstelling van privaat diensverskaffers kan ’n volhoubare alternatief vir veral deeltitelskemas en komplekse wees omdat dié dienste beter en goedkoper sal wees.”

“Inwoners van Bloemfontein behoort te kan kies of hulle privaat of munisipale vullisverwyderingsdienste wil gebruik. Ons is bereid om die hof te nader en alles moontlik te doen sodat die inwoners van Bloemfontein hierdie reg kan uitoefen. Daar is verskeie privaat kontrakteurs wat reeds jare lank al hierdie diens aan inwoners lewer en oorgehaal is om hierdie diens in sy geheel by die metro oor te neem. Die enigste struikelblok is tans die dubbele betaling van vullisverwyderingsdienste, maar AfriForum beplan om hierdie struikelblok binnekort uit die weg te ruim,” benadruk Coetzee.

Volg hierdie skakel om aansoek te doen vir die kansellasie van munisipale vullisverwyderingsdienste in Bloemfontein en om te registreer vir die lewering van hierdie diens deur AfriForum.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riette ·

Ek wens dieselfde kan in Emfuleni gebeur. Geen verwydering van vullis in Drie Riviere nie maar die townships word weekliks gediens.

Kokerboom ·

Na 30 jaar van ANC wanbestuur behoort inwoners van dorpe en stede geraak SELF die bestuur oor te neem.. Ek voel dis hul demokratiese reg!

SjN ·

Dieselfde by ons in Noordwes, hul is onbevoeg om dienste te lewer, privatiseer eerder en betaal bevoegde mense wat die werk wil en kan doen.

Jean ·

Ek kan nooit verstaan hoekom die regering niks doen, dan maak die publiek ‘n plan om dit te doen, en dan wil die regering eweskielik iets doen, maar om jou te verhoed.

Amelia ·

Dieselfde in pretoria maar as jy nie betaal nie is hul gou om krag te sny Mense gooi vullis langs strate wat dus nou n groter probleem word met rotte en vliee stank ens

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.