Bloemfonteinse eiendomsagent van bedrog aangekla

(Foto: Maroela Media)

ʼn Eiendomsagent van Bloemfontein is gedagvaar om volgende maand in die landdroshof in Bloemfontein te verskyn op aanklagte van onder meer bedrog en die oortreding van die Wet op Eiendomsagentsake. Dit nadat die 38-jarige eiendomsagent glo geweier het om die deposito van ʼn huis aan ʼn kliënt terug te betaal toe die huis nie meer beskikbaar was nie.

Die klaer beweer dat sy in Mei 2017 R135 000 aan GANS Property Investments oorbetaal het vir die koop van ʼn huis in JB Mafora Square in Bloemfontein. Nadat die geld oorbetaal is, het die beskuldigde glo vir die klaer gesê die huis is nie meer beskikbaar nie, maar dat ʼn ander eiendom gesoek sal word.

“Die klaer het egter die aanbod van die hand gewys en daarop aangedring dat die geld aan haar terugbetaal word,” sê ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke. “Die klaer het toe verskeie kere probeer om die geld terug te kry, maar die beskuldigde het later vir haar gesê dat GANS Property Investment finansiële probleme ervaar en dat die kliënt op ʼn later stadium terugbetaal sal word,” sê Steyn.

Volgens Steyn het die klaer steeds nie haar geld teruggekry nie en is die saak aan die Valke oorhandig vir ondersoek.

“’n Dagvaarding is Vrydag uitgereik vir die beskuldigde om op 27 Julie in die hof te verskyn,” sê Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.