Bloemfonteinse skool rou ná oudmatrikulant sterf

Franco Cloete (Foto: Verskaf)

Onderwysers en leerders aan die Hoërskool President Steyn in Bloemfontein is in rou gedompel nadat ʼn oudleerder Saterdagaand in ʼn motorfietsongeluk dood is.

Die 19-jarige Franco Cloete is op slag dood toe sy motorfiets teen ʼn ligte voertuig in Walter Sisulu-weg in Bloemfontein gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici en die brandweerdiens omstreeks 22:20 na die toneel ontbied, waar hulle die voertuig en motorfiets in die middel van die pad aangetref het.

Paramedici het Cloete se lewelose liggaam langs sy motorfiets in die pad aangetref. Hulle het ook op ʼn 30-jarige man afgekom wat steeds vasgekeer was in die ligte voertuig se passasiersitplek. “Albei mans is op die toneel dood verklaar,” vertel Meiring.

Met paramedici se aankoms op die toneel het twee vroue, ook insittendes van die voertuig, op die toneel rondgestap. Een van die vroue het matige beserings opgedoen, terwyl die ander een ongedeerd van die ongeluk afgekom het. Die beseerde vrou is per ambulans na die naaste hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

Cloete (met die blonde pruik) het altyd tyd gehad vir ‘n grappie. (Foto: Verskaf)

Cloete het in 2018 aan Hoërskool President Steyn gematrikuleer. Hy het op die leerlingraad gedien en het ook vir die skool se eerste rugbyspan gespeel

“Ek sal nooit dáárdie onvoorbereide toespraak vergeet nie. Hy het gepraat oor sy drome. Hy het vertel van sy grootste droom om eendag ’n onderwatersweiser te word,” sê Carla Wydeman, Cloete se Afrikaansonderwyser.

“Hy was altyd ʼn bok vir sports. Hy was baie betrokke by die skool. Toe ek hom en sy vriende vra om deel te neem aan die revue, het hy met oulike idees vorendag gekom en die humor in die produksie ’n hupstoot gegee,” vertel Wydeman.

Danielle Doubell (19), oudhoofmeisie van Hoërskool President Steyn en ook ʼn goeie vriendin van Cloete, sê sy sal hom onthou as iemand met ʼn mooi hart wat altyd die beste vir almal wou hê. “Hy was ʼn karakter op sy eie. Hy was die grootste nar. Hy wou net almal altyd laat lag het. As ek aan hom dink, sien ek hom met ʼn glimlag.”

Cloete sou eerskomende Donderdag 20 geword het en was besig met sy tweede jaar van vakmanskap by SA Trucks Bodies in Bloemfontein. Cloete se ma, Aletta Gough, vertel haar geliefde seun het groot drome vir die toekoms gehad. Hy sou ná sy vakmanskap op ʼn olieboot gaan werk het as onderwatersweiser.

“Hy het die mooiste hart gehad en was geliefd onder sy vriende. Hy was ʼn mooi mens. Ek het iets as ma reg gedoen,” vertel Gough.

Cloete het vir die skool se eerste rugbyspan gespeel. (Foto: Verskaf)

Nog ʼn goeie vriend van Cloete, Darren Fourie (19), het sy hartseer uitgespreek oor Cloete se dood. Hy is die tweede vriend wat Fourie aan die dood moes afstaan. Hy onthou Cloete ook vir sy vriendelikheid en humorsin.

Brent Gresse (19) vertel hy en Cloete was vanaf graad 8 af boesemvriende. “Hy was verskriklik snaaks gewees, vol energie en het baie goeie rugby gespeel. Hy het altyd 100% ingesit vir wat hy wou bereik het.”

Cloete laat sy tweelingsuster, Venessa, sy stiefbroer, Ethan Gough, en sy oudste suster, Marchelle Cloete, agter.

Cloete se begrafnis vind Vrydag 11:00 by die Bikers Church in Bloemfontein plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dubbelloop ·

Weet nie regtig nie maar ek glo dat dit net weer n motoris was wat voor die bike ingery het. Sal ook nie snaaks wees as dit by n kruising was nie. Waarom my stelling, ek ry self motorfiets en 95% van sulke ongelukke word veroorsaak wat ek hier gesê het. Dit is baie sad en ons dink aan die families.

Francois Joubert ·

Oogetuies het bevestig dat die motor voor die motorfiets ingery het. Daarom ook dat die motor teen die kant getref is.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hierdie is tragies en ek simpatiseer met die familie…..maar wat jy hier sê Dubbelloop, is absoluut belangrik. Saam met jou stelling van motoriste wat by kruisings voor motorfietsryers in ry………..is dit ook baie belangrik om op te let dat dit meesal gebeur wanneer motorfietsryers jonk en onervare is. Ek en my vriende ry al motorfiets vir baie jare…….en ons doen dit so: As ek ‘n kruising nader KYK ek vir die motorbestuurder…as ek sien hy kyk NIE vir my nie, pas ek my spoed en my posisie so aan dat ek ‘n ongeluk kan voorkom indien die motorbestuurder voor my sou in ry. ‘n Motorfietsryer is uiters blootgestel omdat daar NIKS is behalwe ‘n valhelm en beskermende klere indien ‘n ongeluk sou gebeur nie. Ek sien daagliks om my motorfietsryers wat teen angswekkende spoed deur kruisings jag…….moenie dit doen nie, dit kan jou jou lewe kos. As jy wil jaag…gaan jaag op ‘n baan. In die verkeer moet jy wakker wees, oplet, ander mense se gedrag voorspel, en so ry dat jy ‘n ongeluk kan vermy…..of indien nie, jouself beskerm. Dis maklik om die motorbestuurder te veroordeel…….maar ‘n motorfiets wat deur verkeer vleg teen 100km/uur beweeg teen 28meter per sekonde…..As jy jou oë knip is een sekonde verby…..en dit vat 1,6 sekondes vandat jou oë ‘n problem sien totdat jou voet die rem trap. Mense moet net begin dink…..

Niklaas ·

Voel so jammer vir sy moeder en susters. Groot verlies. Motorfietsryers moet altyd besef…in enige ongeluk sal hy wat op die motor fiets is , die slegste daarvan afkom. Die mense in die motor het n baie beter kans tot oorlewing. So, wees ekstra paraat en bedag en dink vir die ander ou in die kar , (want hul dink soms nie)

Ronel ·

Gemaskerde Sopbeen, ek sê dankie en wil graag op jou kommentaar antwoord, want ek was die passasier in die motor. Ek wil nie veroordeel, nog skuld uitdeel, maar sê; dat my hart breek vir Franco en sy familie, my vriend Willem (wie die media nie eers moeite gedoen het om op te volg oor wat ń ongelooflike spesiale mens hy was. Hy was 42 en ook ń oud Bloemfonteiner.) en sy dierbare mense, en ook die bestuurder van die “ligte voertuig”. Ek het altyd my maroela berigte aanvaar as die waarheid en eerlik, maar na hier verskriklike gebeurtenis het ek besef: Ek sal nooit weer die media vertrou nie, en as jy ń ooggetuie is, oppas wat jy sê t.w.v. sensasie. Dit is ń feit: SPOED EIS LEWENS. Sterkte aan elkeen in die proses van genesing. Dit gaan ń lang pad wees.

anna ·

@ Ronel, ek is verskriklik jammer dat dit met julle moes gebeur, ek ken Willem al baie jare, en ongelukkig moes 2 mense hul lewens verloor wat onnodig was. Niks wat berig word sal die mense kan terug bring nie en soos jy noem gaan oor sensasie en vir wat? Hy was net een dierbare mens. Die gaan verseker ‘n lang pad wees, veral vir sy ouers en suster.

Petoors ·

Baie sterkte aan die families aan beide kante en ook aan die pa van Franco

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.