Bloemhof-onluste: “Polisie werk saam met betogers”

Die situasie in Boitumelong op 8 April. Foto: SAPD

Die situasie in Boitumelong op 8 April. Foto: SAPD

Raadslede van die Lekwa Teemane-munisipaliteit het die polisie daarvan beskuldig dat hulle met betogers van Boitumelong, Bloemhof in Noordwes saamwerk.

Thandi Modise, premier van Noordwes, se kantoor het in ʼn verklaring gesê Modise is Donderdagmiddag tydens haar besoek aan die omgewing hieroor ingelig. Haar besoek volg na ʼn week se gewelddadige diensleweringsbetogings in die gebied.

“Modise is in kennis gestel dat sommige polisiebeamptes buitebande aan die betogers verskaf sodat dit aan die brand gesteek kan word,” het Lesiba Kgwele, Modise se woordvoerder, gesê.

Modise het Donderdag met die munisipaliteit se burgemeester Moeder Makodi, raadslede en bestuurders van die polisie by die Bloemhof-polisiestasie vergader.

Kgwele het gesê die premier het ʼn in-diepte ondersoek versoek om te bepaal wie die onluste aanhits, sodat die skuldiges vervolg kan word. “Ons verwag van wetstoepassers om genadeloos te wees en om te verseker dat diegene wat probeer om ware gemeenskapkwessies te kaap, die volle mag van die gereg voel,” het Modise gesê.

Inwoners van die buurdorp, Boitumelong, het verlede week met gewelddadige diensleweringsbetogings begin. Betogers het Maandag die N12 versper en verskeie besighede, ʼn munisipale gebou, gemeenskapsaal en vyf huise afgebrand. Die huise behoort aan die burgemeester, twee raadslede en twee polisiebeamptes.

Die betogings het Dinsdag na Coverdale in Christiana uitgebrei, waar die gemeenskapsaal afgebrand is. Altesaam 12 huise van polisiebeamptes is Dinsdag in Boitumelong aan die brand gesteek. Winkels in Bloemhof wat aan uitlanders behoort, is Woensdag geplunder en betogers het die dorp se paaie met brandende bande versper. Altesaam agt skole in die gebiede word ook ontwrig.

Kqwele het gesê ʼn totaal van 136 betogers is sedert verlede week in hegtenis geneem.

Intussen is ʼn spesiale verkeerseenheid na die gebied ontplooi om verkeer te reguleer en indien nodig enige vragmotors te vergesel wat van die N12 gebruik moet maak. – SAPA

Lees ook:
Tiener in Bloemhof doodgeskiet
Bloemhof brand weer
ANC versoek kalmte in Bloemhof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

werkloos 44 ·

Die hele spul Val uitmekaar.Onthou net dit was die oorspronklike plan van aksie
Wat die ANC geloods het teen apartheid.Niemand het seker oorgedra wat om te doen
Nadat mag verkry is Nie!!!so hulle het maar aangehou op dieselfde trant.
Ek het deesdae vreeslik baie vry tyd op hande danksy regstellende aksie.
Drie grade en n rits kawlifikasies en diplomas beteken mos niks.
In elk geval ek verloor Nie moed Nie aangesien een of ander tyd gaan die wiel draai en
Die hele storie in hulle gesigde ontplof

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.