Blonde haarlokke vir kankerpasiënte

Sandi Pitchers Keel se nuwe haarkapsel nadat sy haar blonde haarlokke vir kanker geskenk het (Foto: Verskaf)

’n Avontuur-junkie van Mondeor, Johannesburg, by wie ’n seldsame soort kanker gediagnoseer is, het haar lang blonde haarlokke afgesny. Dié hare wil sy nou aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) skenk.

Neuro-endokriene kleinselkarsinoom, met paraneoplastiese sindroom, is verlede jaar by Sandi Pitchers Keel (58) gediagnoseer. Dit is ʼn seldsame, aggressiewe soort kanker wat as longkanker begin. Die diagnose is gemaak toe Keel in die hospitaal opgeneem is ná ʼn motorfietsongeluk.

Dokters het aanvanklik vir Keel gesê dat sy minder as ’n jaar oor het om te leef. Sy het egter ’n tweede mediese opinie gekry wat haar op peperduur behandeling geplaas het. ’n Geldinsamelingsveldtog is vir Keel begin om haar mediese uitgawes rondom hierdie behandeling te dek.

Zane Groenewald, bemarkingsbestuurder van BackaBuddy, vertel Keel – wat onder haar vriende as “DirtBarbie” bekend staan – was op 17 Desember verlede jaar in ’n motorfietsongeluk onderweg na die Oos- en Wes-Kaap. Haar rymaat het naby die Gariepdam per ongeluk agter teen haar motorfiets vasgery.

Keel is al vir die afgelope 18 jaar deel van ‘n motorfietsgemeenskap (Foto: Verskaf)

Keel is al die afgelope 18 jaar deel van ’n motorfietsgemeenskap.

“Keel het nie ernstige beserings opgedoen nie. Die skade aan haar motorfiets het haar egter sowat R38 000 uit die sak gejaag,” vertel Groenewald.

Keel het tien dae lank by haar suster se huis in Jeffreysbaai aangesterk voordat sy teruggekeer het na haar huis in Johannesburg.

Presies een maand ná haar ongeluk is sy in die Mulbarton-hospitaal in die stad opgeneem vir simptome wat insluit hoes en braking.

“Om Keel se natriumvlakke te help verhoog, is sy op ʼn drup geplaas wat haar arm erg laat swel het. Om die swelling te verminder, het dokters ʼn binneaarse antibiotika toegedien wat haar in anafilakse skok gestuur het. Dit het haar lewe in gevaar gestel.”

Op 4 Februarie is Keel na die Donald Gordon-hospitaal oorgeplaas waar sy ’n operasie ondergaan het om die wond aan haar arm – waar die drup geplaas is – te herstel. Sy het ook vir ʼn gastroskopie gegaan wat ʼn uitgebreide infeksie van wanvoeding aan die lig gebring het.

“Dit was eers nadat dokters ʼn reeks bloedtoetse gedoen het dat hulle die wortel van Keel se simptome gevind het. Dit is toe dat die seldsame kanker gediagnoseer is.”

Pruike vir kankerpasiënte

Keel vertel haar lang blonde hare was haar trots (Foto: Verskaf)

Volgens Groenewald het Keel op 16 Februarie uit haar hospitaalkamer gesluip en haar haarlokke by ’n plaaslike salon laat afsny. Sy het by die salon met ’n nuwe kort kapsel uitgestap en haar haarlokke by Kansa afgelaai voordat sy teruggekeer het na die hospitaal.

“My lang blonde hare was my trots. Ek het geweet dat ek iewers vorentoe op my kankerreis gaan verloor, so ek het gedink hoekom dit mors as dit goed gebruik kan word om ander kankerpasiënte te help wat pruike nodig het vir hul kankerreise. En daarom was dit ’n maklike besluit om te neem,” sê Keel in ’n verklaring van BackaBuddy.

Keel het dit as een van die beste ervarings van haar lewe beskryf en gesê dit is “iets wat elke vrou ten minste een keer in hul leeftyd moet doen”.

Peperduur behandeling

Toe Keel twee dae later uit die hospitaal ontslaan is, het ʼn onkoloog vir haar gesê dat sy minder as ʼn jaar het om te leef. Volgens Groenewald het Keel nie dié diagnose aanvaar nie en ʼn tweede opinie gekry.

“Wanneer jy vir my ’n beperking stel, gaan ek jou verkeerd bewys,” vertel Keel.

Keel is vir ʼn gespesialiseerde behandeling gestuur, aanbeveel deur mediese en bestralingsonkoloë wat belowende resultate getoon het.

Groenewald sê die behandeling hou egter ʼn risiko in vir Keel se genetiese harttoestand, bekend as Marfan-sindroom, wat die liggaam se bindweefsel aantas. Bestraling kan Keel se reeds vergrote aorta verder verwyd, waarvoor sy noukeurig gemonitor sal moet word.

“Om Keel se gewasse te behandel het dokters ʼn uitgebreide plan opgestel wat bestaan uit chemoterapie en 33 opeenvolgende bestralingsessies.”

’n Skaregeldinsamelingsveldtog is op BackaBuddy geskep om Keel met haar mediese uitgawes te help. Keel is tans nie in staat om te werk nie weens haar siekte en haar mediese fonds dek nie al die uitgawes nie.

Sedert die bekendstelling van die veldtog is meer as R87 500 ingesamel met bydraes van 53 vrygewige skenkers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiptol ·

Dirt Barbie, jy is ‘n inspirasie en motivering vir almal met jou onselfsugtigheid en positiewe uitkyk op die lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.