Blou Bul-‘aanranding’: Dossier nog nie beskikbaar

Dylan van der Walt buite die hof (9 Maart 2018). Foto: Phillip Bruwer

Dylan van der Walt (20), die Blou Bul-o.21-rugbyspeler wat daarvan verdink word dat hy Louis Pienaar (38) buite ʼn Pretoriase nagklub aangerand het, het Vrydag vlugtig in die Hatfield-landdroshof verskyn.

Volgens die klagstaat staan Van der Walt, van Brakpan aan die Oos-Rand, tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy word daarvan beskuldig dat hy Pienaar na bewering herhaaldelik geslaan het.

Van der Walt het met oefenklere, ʼn kleefbroek en plakkies by die hof opgedaag. Aanklaer Lizelle September het hom voor die verrigtinge begin het aangespreek oor sy kleredrag en gesê hy moet die hof respekteer.

September het aan landdros Lidia Painter gesê die staat wag nog vir die dossier van die polisie en het daarom vir uitstel gevra sodat die bewyse aan Van der Walt se regsverteenwoordigers oorhandig kan word.

Walter Ewart, van Diemieniet Prokureurs wat Van der Walt verteenwoordig, het nie beswaar teen die uitstel gemaak nie en gesê hy moet verdere instruksies van sy kliënt ontvang sodra die dossier ontvang en deurgegaan is.

Painter het die saak tot 22 Maart uitgestel.

Van der Walt is tans uit op R1 000 borgtog. Sy borgtog is verleng.

Buite die Hatfield-landdroshof in Pretoria. Foto: Phillip Bruwer

Maroela Media het vroeër berig Van der Walt het homself in Januarie op versoek van die polisie oorgegee. Hy het dieselfde dag in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Van der Walt word daarvan beskuldig dat hy Pienaar, ʼn IT-spesialis, in November by ʼn nagklub in die ooste van Pretoria aangerand het. Pienaar was lank in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die Wilgers-hospitaal. Hy het bloeding op sy brein opgedoen en moes onder meer ʼn operasie ondergaan om drukking op twee plekke op sy brein te verlig.

Pine Pienaar, Louis Pienaar se pa, het vroeër aan Maroela Media gesê die kuierplek het vir die aand toegemaak en sy seun was nog op die dansvloer toe daar ʼn groep rugbyspelers, onder wie Van der Walt, daar aangekom het. “Soos ons verstaan, het ʼn woordewisseling ontstaan. Louis en sy neef, Christian Cronjé, is toe na buite, waar Dylan hom in die parkeergebied van agter van sy voete af geslaan het. Hy het hom nog ʼn hou gegee, voor hy saam met mense in ʼn voertuig geklim en weggery het,” het Pine gesê.

Cronjé het ʼn bewustelose Pienaar na die naaste hospitaal gehaas, waar hy in die waakeenheid opgeneem is.

Lees die vorige berigte oor die voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Schalk ·

Dink jy ons howe verdien enige respek? Ek het geen respek vir ons howe en nog minder die regstelsel.

Manie Strydom ·

Johann ek stem saam hy is alreeds in die moeilikheid oor sy ongedisiplineerde houding nou gaan hy net aan ,rugby word nie in die tronk gespeel nie net huis -huis.

Karen ·

Schalk jy spreek woorde so reg in die kraal van elke krimineel. Onthou tog sou jy ooit slagoffer word van misdaad om daardie selfde minagting aan die lug te bring. Maar wag dalk staan jy klaar in die bank dienooreenkomstig jou weersin in die regbank!

Pieter ·

Miskien moet iemand dit net onder sy aandag bring dat hy nie in Brakpan is nie.

moeksie ·

Pieter… rerig onvanpas… dit is nou dis respekvol teenoor almal wat in Brakpan bly.

Manie Strydom ·

Johann ek stem saam hy is alreeds in die moeilikheid oor sy ongedisiplineerde houding nou gaan hy net aan ,rugby word nie in die tronk gespeel nie net huis -huis.

Vellies ·

Hierdie seun het duidelik n probleem met disipline en is dit sy skuld of sy ouers maar hy behoort mos te weet wat reg en verkeerd is en in Pretoria kan jy nie mense aanrand en soos n hierjy by die hof opdaag nie dit is immers nie Brakpan nie.

TLC ·

OMW hul trek nie meer in kerke met respek aan nie hoe sal hy dan try om vir n kurrupte regstelsel aan te trek . Maar toemaar ek kon lekker smile vir jul kommetaar

Sad ·

Ek n groot blou bul ondersteuner maar daai mannetjie heeltemal te windgat en dis resoekvol ….regte vris Chris

Boksbok ·

Kultuur van geweldadigheid in ons land. Dis nie beperk tot kleur of geslag nie. Die seun gaan eendag die verkeerde ou aanrand en gaan hy nie so gelukkig wees Maar ongelukkig is geweld in sommige huishoudings alledaags.

Dankie pa ·

Dankie pa dat pa my lief gehad het en so af en toe met die lyfband op die regte spoor gehou het. Nooit ooit sou ek my aan sulke vergrype skuldig maak.

PJC ·

Dit lyk vir my ook of hierdie outjie te groot vir sy skoene is en geen respek vir ander mense het nie. Indie die teendeel bewys word sal ek nederig om verskoning vra.

Vonnie ·

Ek wed jou hy was op skool deel van die leerlingraad dalk nog sommer hoofseun. Dit is mos waaraan ons vandag kinders se leierskap meet. Solank die skool net wen op die rugby en atletiek veld gee ons nie n vlerrie om vir respek vir jou medemens nie. Dit is mos sussies wat ander met respek behandel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.