Blou Bul-speler hoor oor borgtog

Betogers buite die New Brighton-landdroshof. Foto: ANA

Uitspraak is Donderdag gelewer in die borgtogaansoek van die o.21-Blou Bul-rugbyspeler (19) wat teregstaan op ʼn aanklag van verkragting en roof.

Die rugbyspeler, wie se naam nie genoem mag word totdat hy formeel gepleit het nie, is in die New Brighton-landdroshof op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy moet op 27 Maart weer in die hof verskyn wanneer hy na verwagting sal pleit.

Hy word verteenwoordig deur die bekende Port Elizabeth-prokureur Danie Gouws. Die rugbyspeler staan tereg op ʼn aanklag van verkragting nadat ʼn 18-jarige vrou einde Desember ʼn saak teen hom by die polisie aanhangig gemaak het. Die beweerde voorval het plaasgevind tydens ʼn aand van kuier in KwaMagxaki in Port Elizabeth.

Gouws het tydens slotbetoë vir die aansoek om borgtog aangedring dat sy kliënt nie die vrou verkrag het nie, maar dat die vrou toenadering tot hom gesoek het.

Gouws het gesê die twee het seks gehad, maar dat albei daartoe ingestem en dit in ʼn motor plaasgevind het wat naby die bepaalde partytjieplek was. Albei het die partytjie bygewoon.

Gouws het ook gesê daar is onbetwisbare bewyse dat die vrou die rugbyspeler se beursie gesteel het terwyl hulle by McDonald’s was.

Hy het ook gevra hoekom sou die beskuldigde die vrou se familielid saamneem na die motor as hy van plan was om haar te verkrag.

“Dit maak nie sin as jy iemand gaan verkrag dat jy ʼn ooggetuie saamneem nie. Daar is wesenlike teenstrydighede in haar verklarings. In die eerste een is sy in die bosse ingesleep en verkrag en in die tweede het sy huis toe geloop en is van agter aangeval,” het Gouws gesê.

Hy het bygevoeg dat dit “selfs meer bisar” raak dat die vrou nie om hulp geroep het of haar familielid in kennis gestel het dat sy verkrag word nie.

Staatsaanklaer Nontshumayelo Balicawa het toe gesê dat mense verskillend reageer op verkragting.

Balicawa het gesê die beskuldigde is ʼn bekende rugbyspeler en die gemeenskap sal geskok wees as hy vrygelaat word op borgtog. Sy het ook die verdediging se argument betwis dat geen bloed aangetref is toe die vrou deur ʼn forensiese verpleegster ondersoek is nie.

Sy het verder die verdediging se eie kundige gekritiseer omdat hy nie teenwoordig was by die mediese ondersoek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

Van wanneer af is daar “toeskouers” by ‘n mediese ondersoek van ‘n moontlike verkragtingslagoffer? In daardie geval, sal baie min mense, soos wat reeds die geval is, dit aanmeld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.