Blou Bul-speler in hof ná ‘verkragting’

Argieffoto

Die jong Blou Bul-speler wat in hegtenis geneem is nadat ʼn saak van verkragting teen hom aanhangig gemaak is, het Maandag in die New Brighton-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Die rugbyspeler staan tereg op ʼn aanklag van verkragting nadat ʼn 18-jarige vrou ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het. Die beweerde voorval het plaasgevind ná ʼn aand van kuier in KwaMagxaki in Port Elizabeth.

Volgens die polisie is die man op 28 Desember in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het verlede week in ʼn kort verklaring die inhegtenisneming van die jong losvoorspeler bevestig. Die speler het verlede seisoen vir die Bulle se 0.19’s gespeel.

Daar word verneem die speler het saam met die vrou en ʼn vriend gery toe ʼn rusie ontstaan het. Die voertuig het tot stilstand gekom en die rugbyspeler het na bewering die vrou uit die motor geruk, haar glo in ʼn beboste gebied verkrag en weggery.

Tydens Maandag se hofverrigtinge het die staat die hof versoek om die saak uit te stel om hom ʼn geleentheid te gee om ʼn profiel van die beskuldigde saam te stel. Die profiel sluit in ʼn agtergrondondersoek om te bepaal of die beskuldigde enige vorige veroordelings of hangende sake teen hom het.

Die staat het aangedui hy sal gereed wees om volgende week met die borgtogaansoek voort te gaan, selfs al is hierdie profiel nog nie afgehandel nie. Die verdediging het versoek dat die uitstel op ʼn finale basis toegestaan word.

Die rugbyspeler, wie se naam nie genoem kan word totdat hy formeel gepleit het nie, was in die beskuldigdebank in ʼn paar jeans en ʼn kraaghemp geklee. Hy het aan die publiek in die openbare galery geglimlag tot die ontsteltenis van lede van die gemeenskap wat gekom het om die 18-jarige beweerde slagoffer te ondersteun.

Die saak is tot 15 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

'n Saak het 2 kante ·

Indien daar bo redelike twyfel ‘n rede is om te glo hy kan skuldig wees, sou ek dalk ook gesê het arrogant, maar mede spelers beskryf hom as ‘n “gentle man” wanneer dit by vroue kom. Niemand weet regtig wat agter toe deure gebeur, so ons moet dalk net eers die hele storie hoor voordat ons kan oordeel. Indien hy skuldig is, voeg ek ook arrogant by en moet hy maar sy straf vat, indien nie, wil ek op haar skree en hoop dat sy behoorlik deur die regstelsel vasgevat word, so iets kan ‘n speler ruineer. Ek weet self nie watter een sal die ergste wees. Manne los die girls tot jou sport loopbaan klaar is, jy het nog jou hele lewe om op te vang, regtig man, dit is net moeilikheid, hul hang soos vinke aan die drade in lang rye…… dit beteken net moeilikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.