Blou Bul-speler stel bekende PE-prokureur aan

Betogers buite die New Brighton-landdroshof. Foto: ANA

Die o.21-Blou Bul-rugbyspeler wat tereg staan op ʼn aanklag van verkragting het Maandag weer in die New Brighton-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn, dié keer met ʼn nuwe regsverteenwoordiger.

Die rugbyspeler staan tereg op ʼn aanklag van verkragting nadat ʼn 18-jarige vrou einde Desember ʼn saak teen hom by die polisie aanhangig gemaak het. Die beweerde voorval het plaasgevind tydens ʼn aand van kuier in KwaMagxaki in Port Elizabeth.

Die rugbyspeler, wie se naam nie genoem mag word totdat hy formeel gepleit het nie, word verteenwoordig deur die bekende Port Elizabethse prokureur Danie Gouws.

Gouws het onlangs ook vir Chantelle Coutts verteenwoordig, die minnares van Christopher Panayiotou wat skuldig bevind is vir die huurmoord op sy vrou.

Daar word beweer die speler was saam met die vrou en ʼn vriend in ʼn motor toe ʼn rusie ontstaan het. Die voertuig het tot stilstand gekom en die rugbyspeler het na bewering die vrou uit die motor geruk, haar glo in ʼn beboste gebied verkrag en weggery.

Gouws het Maandag tydens die hofverrigtinge gesê hy is nie in ʼn posisie om met die rugbyspeler se formele borgtogaansoek voort te gaan nie. Hy het gesê hy het tyd nodig om voor te berei en die borgtogaansoek sal in die vorm van ʼn verklaring geskied.

Dit beteken die rugbyspeler se regspan sal hom nie na die getuiebank roep vir die borgtogaansoek nie.

Die saak is tot 22 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.