Blouapie van smokkelaars gered

(Foto: Bloemfonteinse DBV)

ʼn Span inspekteurs van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) is na die Lesotho-grens by Van Rooyenshek naby Wepener ontbied.

Twee persone wou ʼn klein blouapie oor die Suid-Afrikaanse grens na Lesotho smokkel.

Die span, saam met hoofinspekteur Reinet Meyer, het hul na Van Rooyenshek gehaas, het die DBV in ʼn verklaring gesê. “Die blouapie was baie gedehidreer en verhonger. Tydens ondervraging het een van die verdagtes gesê hy het die wilde apie in Carltonville in Noordwes gevind. Hy wou dit vir tradisionele medisyne gebruik het.”

Die apie was op ʼn baie kort ketting, nie langer as 20 cm nie, en is ook in ʼn hok aangehou. Daar was nie enige kos of water in die hok nie.

Die voertuig van die verdagtes is geskut en die persone is in hegtenis geneem op aanklag van oortredings van die Wet op Dierebeskerming.

Die blouapie is tans in die versorging van die Bloemfonteinse DBV en word gemonitor.

“Die Bloemfonteinse DBV beskou hierdie voorval in ʼn baie ernstige lig, aangesien die apie oor twee provinsies heen vervoer is sonder enige permit. Hy is byna oor die grens van Lesotho gesmokkel.”

Die Bloemfonteinse DBV glo alle wilde diere moet wild bly en maan die publiek om enige tipe dieremishandeling aan te meld.

“Ons wil graag ook die immigrasiebeamptes by Van Rooyenshek bedank vir hul uitstekende werk en dat hulle so vinnig reageer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

GEMORS! Sluit hulle in hokke toe sonder kos en water!! Kan dit nie verstaan hoe al die hordes van ander lande hier inkom nie, seker korrupte beamptes op die grensposte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.