Bloudruppelverslag: Net drie dorpe sukkel met drinkwater

AfriForum-blou-en-groenwaterdruppelverslag-2017-02

Bloudruppelwatertoetsing wat by Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein gedoen is. Foto: Verskaf.

Die gehalte van Ellisras in Limpopo, en Heilbron en Villiers in die Vrystaat, se drinkwater het nie vanjaar aan die nasionale standaarde vir blouwaterdruppelstatus voldoen nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Mei en Junie vanjaar die gehalte van 156 dorpe se drinkwater getoets vir hul jaarlikse blou-en-groendruppelverslag. Die verslag se uitslae is Dinsdag in Centurion bekendgemaak. Luidens die verslag het die drie munisipaliteite van dié dorpe nie die nodige watergehaltestandaarde vir drinkwater geslaag nie.

Die watermonsters wat by Ellisras geneem is, het E.coli bevat, terwyl Heilbron en Villiers se drinkwater hoë konsentrasies van fekale kolivorme ingehou het.

AfriForum het die gemeenskapslede van die dorpsgebiede gewaarsku om nie die water te drink nie, terwyl die betrokke munisipaliteite kennis ontvang het om die gehalte van hul water reg te stel.

“Opvolgmonsters dui aan dat die Ngwathe-munisipaliteit wat Heilbron se watergehalte bestuur aan AfriForum se versoek gehoor gegee het en dat die water nou skoon is. Die Lephalale-munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir Ellisras se water, het ook sedertdien opgetree om die dorp se watergehalte te verbeter, maar die drinkwater is esteties nog nie op standaard nie en voldoen dus nie aan die bepaalde gehaltestandaarde vir drinkwater nie,” het Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Volgens Pawson gaan die dorpe Villiers en Qalabotjha, wat binne die jurisdiksie van die Mafube-munisipaliteit is, onder swak waterdienste gebuk. “Die munisipaliteit hier het in geheel verbrokkel en lewer tans min of geen dienste nie. Gevolglik het die gemeenskap self die watersuiweringswerke oorgeneem en verskaf onafhanklik van die staat skoon drinkwater aan dié dorpe.”

In 2016 het AfriForum 132 drinkwaterstelsels getoets en sewe munisipaliteite het in die genoemde jaar nie aan die nodige gehaltestandaarde vir drinkwater voldoen nie.

“Dié sewe munisipaliteite het vanjaar egter die toets geslaag wat vir ons ʼn teken is dat die druk wat AfriForum as ʼn burgerregte-waghond op munisipaliteite toepas, vrugte afwerp.”

Pawson het egter aan Maroela Media gesê die organisasie is bekommerd oor die bestuur van rioolbestuur.

“Sedert 2013 is die land se waterbronne onder druk ná droogtes wat in groot dele van die land voorgekom het en steeds dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap affekteer. Gemeenskappe moet aandring op hul reg om toegang te hê tot skoon, lopende water en moet die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur gereeld die gehalte van drink- en rioolwater te monitor.

“Die watertoetse wat AfriForum gedoen het, toon kommerwekkende resultate, veral wat betref swak rioolbestuur, en dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en ’n tekort aan bekwame personeel om waterinstellings te bestuur. AfriForum het die dorpe wat nie binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val nie, gewaarsku en die betrokke munisipaliteite versoek om die waterstandaard binne 24 uur te herstel,” het Pawson bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna Botha ·

Kyk ASB na die Hennoprevier deur Centurion my kos trek skoon suur van die vrot reuke !

Michael ·

Volg Europa se voorbeeld n proses van reverse osmosis en dan osoon behandeling eers dan is die water veilig om te drink skoner as party van SA se gebottelde water.

vrikie ·

Kan AgriForum dalk noem by watter laboratoruim die analises gedoen is, net 3 in die hele land wat nie voldoen het aan SANS 241 is onmoontlik

tokkie ·

Ek was nie eers groente met kraanwater. Weet nie waar kom hulle aan 3

bronkies ·

Bronkhorstspruit se water sal ek nie drink nie, al sê hulle dis drinkbaar. Drinkbaar beteken net jy gaan nog diaree kry en siektes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.