Bloukrans-moorde 186 jaar later: ‘Ons sal nie vergeet’

(Foto: Verskaf)

Deur Marné Pienaar

Op ’n grondpad tussen Estcourt en Colenso in KwaZulu-Natal staan ’n monument wat die massagraf van 185 kinders, 56 vroue, 41 mans en meer as 200 knegte aandui.

Op die nag van 16/17 Februarie 1838 het die mees tragiese oomblik in Afrikanergeskiedenis afgespeel, die grootste kindermoord in ons land se geskiedenis. Ure lank het geweld en slagting soos ons dit nie ken nie, voortgeduur en moes die Voortrekkers marteling verduur.

Die wreedaardige moord en slagting by Bloukrans en Weenen is ’n duistere hoofstuk in die geskiedenis – ’n hoofstuk wat ʼn mens dikwels wil oorslaan om nie die volle waarheid van die slagting hoef te bedink nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) onthou vandag die tragiese gebeure van die Bloukransmoorde; onthou die menige heldedade wat vele lewens gered het; onthou die wrede dade wat aan ons voorouers gedoen is en bring hulde aan húlle wat weer uit die as moes opstaan en aangaan ten spyte van die wanhoop.

Toe Bloukrans plaasgevind het, minder as twee weke na die moord op Retief, was die Voortrekkers nog nie bewus van hul leier en sy manskappe wat nooit sou terugkeer nie.

Die moord op Retief en sy manskappe en Bloukrans was ook maar net die begin van die verskriklike jaar. ʼn Mens kan maar sê dat die Slag van Italeni in April 1838 twee leiers gekos het. Eers Piet Uys met sy dood tydens die slag self, waar pa en seun saam tot die dood toe geveg het en toe met Potgieter wat na die Slag van Italeni as ’n lafaard bestempel is en toe verder getrek het.

Gerrit Maritz se dood in September 1838 het hulle feitlik leierloos gelaat.

Die wonderwerke by Bloedrivier is skielik soveel groter wanneer ʼn mens al die historiese gebeure in berekening bring en besef dat die Voortrekkers totaal en al op hulle knieë gedwing was.

Daar is altyd ’n groter mag wat inspeel op die toeloop van gebeure. Die Voortrekkers destyds, en selfs ons vandag, kan die oorwinning nie aan eie mag toeskryf nie, maar die eer van die oorwinning totaal en al aan God gee.

God werk met ’n plan.

Vandag sit ons weer met ’n enorme krisis van veiligheid en moorde wat plaasvind in ons land en op plase.

Ons vind ons krag en ons hoop in God. Nie in eie mag en krag nie.

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is.” Romeine 8:28 (AFR20)

God is in beheer – soos wat Hy in 1838 in die donkerste nag van Afrikanergeskiedenis was. Soos wat Hy was op 16 Desember en net soos wat Hy nog altyd was en altyd sal wees.

Dáárin kan ons altyd vertroosting en hoop vind.

Die FAK treur vandag oor die 185 kindertjies wat met vrees in hulle harte vermoor is. Ons treur oor die 56 vroue wat om die lewe gebring is. Ons treur oor die 41 mans wat hul lewens opgeoffer het om ander te beskerm en ons treur oor die meer as 200 diensbodes wat ook tydens die slagting geval het.

Ons onthou.

Ons sal nie vergeet nie.

  • Marné Pienaar is ʼn mediabeampte by die FAK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wildemien ·

Nie een van hierdie hoofstukke betaan eens meer in ‘n Geskiedenis boek nie.

Gaitsigubib ·

Dis ons werk om ons kinders te vertel. Ons het n gelofte gemaak. Lees op en vertel jou kinders, en neem veral kennis van die inhoud van die gelofte self.

Bolandse Nooi ·

Ek wonder wat die “ou” mense, die Voortrekkers sou gesê het as hulle die SA van vandag sien, met die moord ratio per dag nou alreeds oor die 80 … dan klink 185 mense wat in 2 dae hul lewens verloor het, in ‘n ‘mini-oorlog’ nie so erg nie. Dit is dan maar iets wat vandag heel allerdaags geword het in die “nuwe SA” onder die “nuwe regering” van 1994. Maar immer tog, laat ons nooit ons geskiedenis vergeet nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.