Bloulig-beskuldigde in hof oor belastingbedrog

Argieffoto (Foto: Stephan Wusowski / Pixabay)

Die saak teen Vimpie Phineas Tlafelang Manthata, sy maatskappy en twee ander is tot 30 Julie 2024 in die Palm Ridge-landdroshof uitgestel om hulle kans te gee om die dossier te bestudeer. Die staat het die dossier, voor die saak in die hof voorgekom het, verskaf.

Manthatha se prokureur het tydens die hofverrigtinge versoek dat ʼn bevel uitgereik word wat die media sal verbied om daaroor te berig. Hy voer aan dit veroorsaak “beduidende skade aan sy kliënt se reputasie as sakeman wat internasionaal handel dryf”.

Sy medebeskuldigde, Daniel Rothman, het ʼn soortgelyke aansoek ingedien. Hy voer aan hy is ʼn bekende professionele boekhouer wat ʼn rekeningkundige praktyk bestuur.

Senior staatsadvokaat Tilas Chabalala van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, het sterk beswaar aangeteken teen dié twee aansoeke. Chabalala het daarop gewys dat die media ʼn reg tot vryheid van uitdrukking het en die algemene publieke belang verteenwoordig. Hy het bygevoeg dat die mediaberigte slegs die objektiewe feite oor die saak bevat. Daar is geen bewyse dat laster gepleeg is teen die beskuldigdes nie.

“Die hof het met die staat saamgestem en die aansoeke van die hand gewys,” sê Henry Mamothame, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat.

Manthata staan tereg op aanklagte van bedrog en oortreding van die Wet op Belastingadministrasie tydens die belastingjare 2016/2017 en 2018/2019. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die nasionale tesourie het glo verliese van R27 miljoen gely weens valse belastingopgawes. Hy word aangekla saam met sy maatskappy, Instrumentation for Traffic Law Enforcement. Judy Rose, wat as ʼn belastingpraktisyn aangestel is by die maatskappy en Daniel Rothman, ʼn geregistreerde belastingpraktisyn wat dienste aan die maatskappy verskaf het, is saam met hom aangekla. Die drie is vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.

Manthata is ook een van die beskuldigdes in die sogenaamde bloulig-korrupsiesaak. Sy maatskappy het blou ligte, sirenes en radio’s aan die Johannesburgse metropolisie verskaf. ʼn Tender van R191 miljoen is tussen Maart 2016 en Maart 2017 aan sy maatskappy toegeken.

Voormalige waarnemende polisiekommissaris Khomotso Phahlane en sewe ander, insluitend Manthata en sy maatskappy, staan tereg op aanklag van bedrog, korrupsie en vervalsing in die bloulig-saak.

“Ná die aanklagte teen Phahlane en sy medebeskuldigdes aanhangig gemaak is, het die ondersoekdirektoraat sy ondersoek uitgebrei na die belastingnakoming van die maatskappy. Die saak is na die SAID verwys vir ʼn deeglike ondersoek,” het Mamothame bygevoeg. Die ondersoek het onthul dat sommige van die belastingopgawes vals inligting bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cassie Carstens ·

Sluit hulle toe en gooi die sleutel weg. Lyk my staatskaping is steeds aan die gang. Het hy R192miljoen se werk aan die polisie gelewer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.