BLSA skors KPMG as lid

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Die raad van Business Leadership South Africa (BLSA) het KPMG as lid van dié sakeliggaam geskors.

BLSA het Vrydag in ’n verklaring gesê die besluit is geneem om KPMG te skors hangende die uitkoms van ’n onafhanklike ondersoek na die organisasie se beweerde optrede rakende staatskaping in Suid-Afrika.

Volgens BLSA was hy in gesprek met KPMG en is die organisasie die geleentheid gegun om sy saak te stel. “BLSA erken die aansienlike stappe wat KPMG aangekondig het om sy leierskap te verander en ’n proses van kulturele verandering te begin.”

BLSA het gesê die liggaam kan hom egter nie blind hou vir die erns van KMPG se gedrag nie. “Ons moet die voorbeeld stel en dit begin by ons lede. Hoewel KPMG in Suid-Afrika homself erg in die steek gelaat het, erken BLSA dat die oorgrote meerderheid van KPMG se personeel toegewyde, eerbare en ywerige individue is wat nie by staatskaping-aktiwiteite betrek word nie. Hulle en die maatskappy is steeds ’n bate vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.”

Volgens BLSA noodsaak die situasie ’n spoedige onafhanklike ondersoek en volledige openbaarmaking van KPMG se kant af om die omvang en rol van individue betrokke by staatskaping te ontbloot.

KPMG het die laaste paar maande erg onder skoot gekom nadat die #GuptaLeaks-e-posse aangevoer het die firma was die ouditeure van ʼn Gupta-maatskappy wat glo in 2013 belastingbetalers se geld gebruik het om vir ʼn susterskind se buitensporige troue by Sun City te betaal.

KPMG het verlede week aangekondig Trevor Hoole, uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika, en etlike ander senior lede van die ouditeursfirma het bedank. Hoole het uit die direksie van KPMG en as uitvoerende hoof bedank, terwyl Steven Louw as bedryfshoof en risikobestuursvennoot bedank het.

Ahmed Jaffer het ook uit die firma bedank en as voorsitter van die direksie uitgetree.

Die volgende vennote sal ook die firma verlaat: Mike Oddy, hoof van die ouditafdeling en direksielid, Muhammad Saloojee, hoof van belasting en direksielid, Herman de Beer, voormalige hoof van forensiese ondersoeke en direksielid, John Geel, hoof van die adviesraad, en Mickey Bove, risikobestuursvennoot en transaksieadviseur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Luke ·

Vraag. Nou maak ek droog…… Bedank gou gou….. En gaan sit in my Villa in Spanje en drink my $1000 wyn. En dan wat? En dan waaaaaaaaaaat?

Swannie ·

As jou eerste bottel $1000 wyn op is, maak jy die 2de een oop !

MH ·

Een na die ander begin die lakeie val, maar die hoofkrimineel sit nog steeds onaantasbaar en giggel.

Piet Pille ·

MH, jy is reg maar die hoof krimineel is nie die hoof nie maar die hoofnar, sy laggie is aangeplak en senu-agtig want sy tyd raak min. Soos hulle val kom dit nader aan hom.

Pop ·

Die hoofnar gaan nooit iets oorkom nie.yk dit of Mugabe al iets oorgekom het. Zuma gaan lag lag ook nog baie jare sit waar hy sit.

Pieter ·

Moet asb nie KPMG as n totale korrupte oudit firma afskryf nie. Daar is honderde eerlike werknemers wat ook gesink gaan word as KPMG geen verdere kontrakte gaan kry nie.

Robert Stoltz ·

Dit is so, maar daar is dié gesegde: jy word geken aan jou vriende

Willie ·

Daar is X hoeveelheid werk vir audit firmas is die land, as KPMG vou, dan moet iemand anders die werk doen. Dan moet die eerlike mense maar vir die ander firmas gaan werk.

Willie Wetie ·

Willie, ‘n bietjie kennis is uiters gevaarlik. Sodra jy my by een van daardie “ander firmas” kan inkry, sal ek my opinie oor jou verander. Intussen kan ek vir jou wys hoeveel van die 3 800 KMPG personeel (in SA) probeer aansoek doen het vir werk by die ander “groot 3″…….en dit nie gekry het nie “omdat hulle by KPMG gewerk het!!”

Johann Marx ·

Mag almal van julle ‘n korrupte baas hê, wat deur sy dade julle almal julle inkomste, mediese fonds, pensioen, eiendom, voertuig en toekoms kos…….sonder die kans om êrens anders in diens geneem te word omdat jy by jou maatskappy begin het VOOR die korrupte baas……en dit op jou CV staan……dan praat ons weer. As jy nie in hierdie posisie is nie……………hou jou mond dig toe!!!

Proefvlug ·

Tong in die kies opmerking…. dalk moet KPMG SA vir Bell Pottinger vra om hulle PR beleid te hanteer en saak reg te stel…

Dit is hartseer dat die gewone eerlike werker benadeel word deur direksie en ander senior bestuur se swak besluite

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.