‘Bly stil’, beduie rower, toe klap skoot wat man in kop tref

(Foto: Max Kleinen/Unspplash)

ʼn 69-jarige inwoner van Andeon, in die weste van Pretoria, ontvang steeds hospitaalbehandeling nadat hy uit die slaap wakker geskrik en ʼn rower langs sy bed hom summier in die kop geskiet het.

Nico van Vuuren, voorsitter van sektor 4 van die Hercules-polisie se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê hy het Dinsdag omstreeks 01:45 talle boodskappe van ʼn inwoner op dieselfde kleinhoewe in Renetstraat ontvang wat hom van die voorval ingelig het.

“Daar is verskeie huurders op die kleinhoewe. Die 69-jarige man en sy vrou woon in ʼn huis wat in twee gedeel is. Die egpaar het glo al geslaap toe twee gewapende verdagtes hul huis binnedring. Die ligte was af en die televisie aan.

“Die vrou het glo iets gehoor en wakker geword; toe sy opkyk, was die verdagtes egter reeds in hul slaapkamer.

“Sy wou nog gil, maar een van die verdagtes het met sy vinger na sy mond gewys en haar beveel om stil te bly.

“Haar man wat langs haar in die bed was, het kort daarna wakker geword en regop gesit, waarna die verdagtes verskeie skote op hom afgevuur het. Een van die skote het hom in die kop getref,” sê Van Vuuren.

Die verdagtes het glo oomblikke later gevlug sonder om enigiets te buit.

Die man het die kopskoot oorleef en is na die Kalafong-hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Volgens Van Vuuren het die aanvallers, glo albei kort in liggaamsbou, by ʼn deur ingekom.

“Die honde is ook verlede week op dié hoewe vergiftig,” sê Van Vuuren.

“Marius Engelbrecht van Loyal Security was in die omgewing. Hy was besig om ʼn inbraak te ondersoek toe hy ʼn klomp skote hoor.

“Hy was eerste op die toneel.

“Ons het dadelik nooddienste, asook die polisie en sekerheidsmaatskappye ontbied,” sê Van Vuuren.

Dit is boonop die sewende aanval in net meer as ʼn maand in dié omgewing, sê Van Vuuren.

“Vanaf 28 Oktober tot 21 November was daar altesame vyf plaasaanvalle. Op 26 November het die sesde aanval plaasgevind en Dinsdagoggend was dit die sewende.

“Dit sluit nie ander gewapende rooftogte in nie,” sê Van Vuuren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Ek is seker IEMAND sit agter al hierdie aanvalle wat skielik orals in Pretoria plaasvind. Malema het dit mos wyd en syd aangemoedig op die podium

Sean ·

So word die veterane een vir een van kant gemaak Reg onder ons neuse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.