Bly weg van duur skoolklere, pleit kommissie

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Dit is weer daardie tyd van die jaar vir menige ouers om hul hand diep in die sak te steek om hul kind vir die nuwe skooljaar toe te rus. Met dié dat die pryse vir skooluniforms dikwels buitensporig hoog is, doen die Mededingingskommissie weer ʼn beroep op skole en verskaffers om die prys van skoolklere sover moontlik te beperk.

Die kommissie waarsku opnuut dat hy die prys van skoolklere sal monitor en slaggereed is om verskaffers te vervolg of te beboet indien hulle versuim om te voldoen aan die riglyne vir skoolklere, wat daarop gerig is om teenmededingende gedrag by skole uit te skakel.

Dié riglyne vir skoolklere behels onder meer dat dit so generies moontlik moet wees sodat dit by ʼn groter verskeidenheid van handelaars gekoop kan word. Eksklusiwiteit moet beperk word tot items soos skoolwapens wat by spesifieke handelaars gekoop kan word; skole moet ʼn mededingende proses volg wanneer hulle verskaffers aanstel en daar moet meer as een verskaffer wees sodat ouers ʼn wyer keuse het van waar hulle items kan koop. Die ooreenkomste wat met sulke verskaffers aangegaan word, mag ook nie onbepaald wees nie.

skoolskoene-2

(Argieffoto)

Maroela Media het verlede jaar berig een stuk kleredrag kos ouers tot R500 terwyl dit tot R3 000 kan kos om vir ʼn graadeentjie skoolklere by ʼn eksklusiewe verskaffer te koop.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het toe reeds gesê skole moet jaarliks na hul prioriteitslys kyk en dit aanpas na gelang van heersende ekonomiese omstandighede.

“ʼn Skool kan byvoorbeeld nie voorsiening maak vir luukshede in ʼn tyd wanneer dit broekskeur gaan met die meeste mense nie. ʼn Skool moet besluit wat is nóú belangrik. Volgende jaar lyk die prioriteite dalk anders, maar wanneer mense swaar kry, moet dit in ag geneem word,” het Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, gesê.

Die Mededingingskommissie het intussen weer ʼn beroep op ouers gedoen om teenmededingende gedrag wat skoolklere betref fyn dop te hou.

Die kommissie nooi nou skole om ʼn onderneming te onderteken dat hulle aan mededingingsbeginsels sal voldoen wat skooldragverkryging betref en hulle daartoe sal verbind om seker te maak hul skooluniforms is bekostigbaar.

Die kommissie vra voorts van ouers, beheerliggame, gemeenskapstrukture en die regering om waaksaam te wees en enige vorm van oortreding via e-pos by [email protected] of die kommissie se SMS/WhatsApp-lyn by 084 743 0000 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Skooldrag is peperduur en dit behoort nie eksklusiewe winkels verkoop te word nie. Dit kom neer op uitbuiting. Die skoolklere wat reeds by ketting groepe verkoop word is meer as voldoende en het dieselfde standaard reg deur die land. Die sakwapens kan deur die skole self verkry en verkoop word. Ek hou van die voorstelle soos gemaak in die berig en die opmerking dat die pryse gemonitor gaan word.

Willem ·

Nou hoe nou gemaak met n skool waar ouers die skooldrag SLEGS BY DIE SKOOL kan koop?? Die hoërskool op my tuisdorp se skooldrag is SLEGS by die skool te koop. Dit word in geen klerewinkel op ons dorp aangehou nie. My dogter moes meer as n jaar wag vir haar skoolbaadjie en dit het R500 gekos!

Racheltjie Debeer ·

Ons kind se skool dring aan op bruin skool skoene, iets wat haas onmoontlik is om te vind. Maar jy kan dit ten duurste by die skool se klerewinkel koop. Ons skool se skoolwapen is op die hemde geborduur, so hulle dwing mens om R250 vir 1 kortmou seuns hemp te betaal, waar PEP R250 vra vir 3 hemde. ‘n Pullover kos R380 en ‘n atletiek hempie R350. Dis belaglik. Ek hoop jy gaan jou kind se skool aangee, Willem, want ek gaan beslis ons skool aangee.

Helgard ·

My kind se skool dring aan op wit tekkies vir een dag per week vir LO, onmoontlik om te vind vir onder R1000 as jou kind groter as no 8 dra.

Maar net vir die skool mail gestuur en gese as hulle paar vir onder R300 kan vind sal ek dit koop anders dra hy sy gewone tekkies.

Hulle het ook begin met snert van unisex LO broek-rok vir meisies en seuns wat R400 so kos, Vir hulle vinnig link gestuur na die kompetisie kommisie, dit het darem stil stil weggegaan.

Antoinette ·

Skoolklere is baie duur, maar moenie al die gelde vergeet wat betaal moet word voor die kinders enige handboeke kry. Ek moes R2700.00 betaal voor die skool begin om haar boeke te kry. Dit is nie eers die skoolfonds, skryfbehoeftes of busgelde nie.

Racheltjie Debeer ·

Ja nee, mens betaal deur jou nek aan skoolfonds en dan moet jy nog eers ‘n administrasie fooi betaal vir die handboeke, wat dikwels in ‘n haglike toestand is, voor jou kind dit ontvang. Sentrum fooie vir rekenaar toepassings tegnologie, R400 vir fisiese wetenskap boeke, geheue stokkies, alles kos geld. Iewers maak iemand ‘n “killing”.

Elmarie ·

Ek het nie meer kinders op skool nie maar het absolute simpatie met ouers. Skoolklere se pryse is ‘n onding. Willem ek dink julle moet jou skool by hierdie mense in die berig aankla dis mos absoluut onaanvaarbaar!

Zilla ·

Altwee my kinders is by staatskole (hoerskool). Hoekom moet daar formele en informele wintersdrag EN somersdrag wees? LO klere word een keer per kwartaal gedra (ook somer en winter verskillend)? Alles is ‘gebrand’. Stem 100% saam met @Marius: skoolklere moet standaard by ketting winkels gekoop word en net die skoolwapen moet skool-spesifiek wees.

Swerwer ·

Skoolklere kan eenvormig en goedkoop gehou word, maar ongelukkig jaag almal die geld god na en kyk waar hul ander kan uitbuit. Dit is tyd dat die ANC her besin oor gemaklike eenvoudige skooldrag en dit vir almal moontlik maak. Net soos die jaarlikse skryfbehoeftes wat jaarliks aangeskaf moet word ten duurste. Waar is die 70 en 80’tigs waar ons ouers skoolfonds betaal het en ons dit van die skool ontvang het.

SwartBees ·

Steeds word skoolfonds betaal MAAR skryf behoeftes en reinigings behoeftes word ook deur ouers voorsien. Dit laat mens wonder wat gebeur met die skoolfonds geld….veral as onnies kla dat hulle werk vir baie min salaris.

SwartBees ·

Moenie vergeet van die skryfbehoeftes nie…. dis ook net so duur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.