BMW gekap oor advertensie

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (GRS) het BMW gekap oor ʼn omstrede advertensiebord van die maatskappy se Mini Cooper-motor.

Die Sowetan-koerant het Dinsdag berig die advertensiebord is buite Soweto opgerig. Die advertensie wys die buitelyne van ʼn Mini Cooper maar met ʼn groot gat waar die motor moes wees. Die woorde “Drive it like it’s stolen!” [bestuur dit asof dit gesteel is] staan oor die advertensiebord geskryf.

Twee inwoners van Soweto het ʼn klag by die GRS ingedien oor die advertensiebord en aangevoer die advertensie moedig motordiefstal, spoedoortreding en roekelose bestuur aan.

Macbeth Ngema en Candice Nene het gesê die advertensiebord is veral in swak smaak, aangesien dit naby die gebied opgerig is waar die sanger Molemo “Jub Jub” Maarohanye en sy vriend Themba Tshabalala in 2010 met Mini Coopers gejaag het en vier skoolkinders doodgery en twee ernstig beseer het. Die twee is in 2012 tot 25 jaar tronkstraf elk gevonnis. Die hof het verlede maand uitspraak voorbehou in ʼn appèlaansoek teen hul skuldigbevinding en vonnisse.

Die GRS het besluit om nie ʼn uitspraak te lewer nie, aangesien BMW onderneem het om nie die woorde: “Drive it like it’s stolen!” te gebruik nie.

Die oorspronklike advertensiebord is egter glo nadat die klagtes gelê is, gesteel en BMW het gesê die nuwe advertensiebord verwys tong in die kies na dié diefstal.

Edward Makwana, ʼn woordvoerder van BMW, het aan die koerant gesê die maatskappy verwelkom die GRS se besluit. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Mens kry nog mense vandag wat verstand het. Ek is dankbaae daai twee het gaan kla.

Dit wys hulle gee om vir hulle gemeenskap en al die voetgangers en bestuurders op ons paaie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.