Bo-Karoo Opleiding maak landbou lekker

Die landboustudente by Bo-Karoo Opleiding se hande staan vir niks verkeerd nie. (Foto: Verskaf)

Bo-Karoo Opleiding (BKO) se landboustudente is al drie weke volstoom aan die studeer nadat die eerstejaars die eerste week hul inlywing, wat ook ʼn baie belangrike deel van studentwees is, geslaag het.

BKO bied vyf studierigtings – elektries, bou en siviele konstruksie, loodgieter en tuisversorging – aan. Die boerderybestuurskursus is nou een jaar oud, met 20 eerstejaars wat verlede jaar ingeskryf het. Daar is met vier gekrediteerde modules weggespring – boerderybestuur, finansiële bestuur, databestuur en onderhoud en tegnologie. Vanjaar het plant- en dierkunde bygekom (boonop met ʼn splinternuwe kurrikulum), wat die pakket volledig maak. Vanjaar is daar 14 eerstejaars en 11 tweedejaars.

Dié kursus strek oor drie jaar, twee jaar se teorie en dan ʼn jaar se voltydse prakties op ʼn plaas. Nadat die kursus voltooi is, het ʼn gegradueerde ʼn N4-, N5- en N6-vlak-kwalifikasie in sy sak, wat oor die eerste drie semesters verkry word.

Maroela Media het by BKO gaan kuier om te hoor wat die landboudosente se planne vir 2023 is. Hoewel almal baie opgewonde is en trots is om deel van hierdie groot begin te wees, kom die stigting van ʼn tersiêre instelling en ʼn studierigting op die platteland nie sonder uitdagings nie.

Afrikaners stroom na Orania en derhalwe is behuising ʼn groot uitdaging. Des te meer vir studente wat ongetwyfeld ʼn meer opwindende studentelewe in ʼn koshuis sal ervaar.

“Verblyf en klaskamers is tans ons grootste bottelnek en ons kon verlede jaar net 20 landbou-eerstejaars inneem,” sê Narina Meiring, hoof van akademie en studente-ontwikkeling. “Gelukkig is daar nou woonstelle in aanbou en die Olienhout-koshuis behoort in die middel van die jaar klaar te wees. Sodra dié bottelnekke uitgestryk is, sal ons meer studente kan inneem en weldra twee innames per jaar kan akkommodeer.”

 

Michelle Rust en Marcelle Badenhorst is landboudosente en Narina Meiring is hoof van akademie en studente-ontwikkeling by Bo-Karoo Opleiding. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Sy sê noudat die eerste jaar agter die rug is, is baie groeipyne uitgepluis. “Hierdie was vir ons ʼn groot leerskool, maar volgende jaar gaan ons vlieg.”

Michelle Rust en Marcelle Badenhorst is aan die stuur van die landboukursus en het vanjaar albei voltyds vir BKO begin werk nadat albei verlede jaar deeltyds betrokke was. Albei spog met ʼn string kwalifikasies in onderwys, landbou en landbouverwante rigtings, asook ʼn aantal jare se praktiese ondervinding.

Tussen hulle twee gaan die verskillende modules aangebied word.

“Ek is baie opgewonde oor die groep wat ingekom het. Die studente kom van alle vlakke uit die samelewing; party studeer met beurse en ander kom met hul eie bakkies hier aan en dan is hier plaas- en stadsjapies,” sê Meiring.

 

Vanjaar se landbou-eerstejaars by Bo-Karoo Opleiding. (Foto: Verskaf)

 

Boere koop in

Tussen die teorie moet die studente ook praktiese werk doen om hul ure te bou.

Badenhorst sê hulle het verlede jaar baie op die boere in die omgewing staatgemaak by wie die studente plaasbesoeke afgelê het.

“Orania is uitstekend geleë vir praktiese blootstelling, “want binne ʼn 100 km‑radius word hier onder besproeiing, op droëland, asook met verskillende graantipes, vee, pekanneute en wild geboer,” sê sy.

“Die konsep van die wêreld van werk, is vir ons baie belangrik,” sê Meiring. “Ons studente moet blootgestel word aan die praktyk en boere besoek en wenke te kry om beter roetes en prosesse te volg as wat in die handboek staan. Nog ʼn voordeel is dat ons die boere kan vra wat die behoefte daar buite is en wat soek hulle in ʼn plaasbestuurder.”

“Ons het reeds ʼn paar praktiese sessies agter die blad,” sê Rust.

Die studente moes vir grondkunde ʼn koppie uitklim en om te bepaal wat die invloed van topografie op plantegroei is. Hulle het ʼn plaas wat twee verskillende grondtipes in een sojaboonland het, besoek om die invloed daarvan op die opbrengs te ondersoek. Dié plaas het ook haelskade gehad en die studente moes die skade bepaal.

Oneweredige kunsmistoediening en die invloed van beurtkrag op gewasse onder besproeiings is ook ondersoek.

“Die ander dag moes hulle self onder ʼn plaas se elektriese heining gaan skoonmaak,” sê Rust. “Ons wil hulle leer dat hulle dieselfde werk as arbeiders moet doen, selfs tydens ʼn bloedige hittegolf wat toe in die gebied geheers het.

 

BKO se studente moet leer om self die hand aan die graaf te slaan. (Foto: Verskaf)

 

“Volgende week gaan ons ʼn springmieliefabriek op Hopetown besoek.”

Badenhorst sê hulle probeer ook kenners en sprekers inkry wat aanvullende kort kursusse kan aanbied en hulle het verlede jaar vir die studente wolklassering geleer, wat nie deur die kurrikulum gedek word nie.

Daar is ʼn aantal leierboere in die omgewing wat by georganiseerde landbou betrokke is en sy voel dit is ook ʼn komponent wat blootstelling moet geniet.

Vanjaar het nog meer boere uitgereik om hul hulp aan te bied en volgens Rust is hulle baie positief oor wat hier aan die gang is.

Toekomsplanne

Sonder ʼn proefplaas waar navorsing en proewe gedoen kan word, is landboustudente bykans verlore en dit is hoog op BKO se agenda.

“Die boere in die omgewing wil ons help en insette gee vir ʼn kampus en ʼn moderne proefplaas, wat in pas moet wees met die jongste boerderyneigings,” sê Rust. “Ons wil mettertyd op ʼn punt kom waar ons produkte kommersieel verbou en die proefplaas winsgewend maak, want dit is die mikpunt van landbou.

“Aangesien BKO se landboustudente sterk steun op die praktiese, sal dit nie maklik ʼn aanlyn kursus word nie, maar hulle sal moet werk aan ʼn stelsel om met die derdejaarstudente wat elders hul prakties te doen, kontak te hou,” sê sy.

Die dosente stem saam dat daar samehorigheid op BKO heers, dat dit ʼn veilige kampus is en dat hier ʼn tuiste vir Afrikaans geskep word en dat BKO ongetwyfeld gaan onwikkel om die top-instansie in Suid-Afrika te word.

“BKO se studente bestaan uit een kultuur, so ons hoef nie soos ander instansies 20 ander te akkommodeer en soos dit nou blyk te wees, allerhande sensitiwiteite die hoof te bied en ongerieflike toegewings te maak nie. Ons kan fokus op landbou.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie alle boereseuns is groot en sterk nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.