Bo-Karoo Opleiding verwag rekordgetal inskrywings

BKO is ʼn opleidingsinstelling met vyf nasionaal geakkrediteerde kwalifikasies: boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieterswerk, elektries en tuisversorging. (Foto: Facebook/Bo-Karoo Opleiding)

Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania in die Noord-Kaap verwag ʼn rekordgetal inskrywings vir die 2025- akademiese jaar.

BKO is ʼn opleidingsinstelling met vyf nasionaal geakkrediteerde kwalifikasies: boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieterswerk, elektries en tuisversorging.

Die instansie is boonop besig om studenteverblyf uit te brei, nuwe werkswinkels is vanjaar geopen en BKO spog met ʼn splinternuwe kenteken. Nuwe senior personeel het ook by die span aangesluit.

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, sê hulle is gereed om ʼn groot impak in die nuwe groep studente se lewens te maak.

“Ons is dankbaar oor die jaarlikse groei in studentegetalle en sien uit na die verwagte groei vir 2025.”

Vogel sê studente verwerf nie net ʼn kwalifikasie nie, maar word ook tot roepinggedrewe volwassenes gevorm wat die arbeidsmark, stewig gegrond in hul geloof en kultuur, betree.

“BKO verseker nie net goeie kwalifikasies en ervaring nie; daar word ook ʼn sterk fokus op ʼn gesonde studentelewe geplaas.”

In Orania kan studente vrylik en veilig student wees en op die kampus sonder mure rondbeweeg. Sodoende vorm hulle deel van die dorp en die gemeenskap.

Die studentelewe floreer in die koshuise Duiker, Steenbok en Vaalbos. Studente op die dorp, of diegene wat van private verblyf gebruik maak, kan ook by die daghuis, Heldehuis, aansluit om aan die studenteaktiwiteite deel te neem.

Dan is daar ook sport, kultuuraktiwiteite en leierskapontwikkeling en studente leer ook oor diensbaarheid binne ʼn trotse Afrikanergemeenskap, sê die instelling in ʼn verklaring.

Studente het ook toegang tot verskillende ondersteuningstrukture tydens hul studie. Hulle word ten volle deel van die Orania-gemeenskap en bou saam aan ʼn volhoubare toekoms.

“Deur aansoek te doen neem jy jou eerste tree na ʼn hoopvolle toekoms. Saam kan ons hoop vir die toekoms skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.