Bob Hewitt doen aansoek om parool

Bob Hewitt saam met sy regspan tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (78) het aansoek gedoen om parool ná hy in Mei 2015 skuldig bevind is op aanklag van verkragting en onsedelike aanranding.

Drie vroue het getuig dat hy hulle mishandel het toe hy hul tennisafrigter was.

Maroela Media het vroeër berig regter Bert Bam het Hewitt tot ses jaar tronkstraf gevonnis. “Daar is duidelik geen vooruitsigte van rehabilitasie nie,” het Bam in daardie stadium gesê. Die regter het verduidelik indien Hewitt in sy 50’s skuldig bevind is, sou hy tot minstens 20 jaar tronkstraf gevonnis word. Hy het gesê Hewitt het net homself te blameer vir sy ellende.

Hewitt is in Maart 2015 skuldig bevind aan die verkragting van Theresa “Twiggy” Tolken en Suellen Sheehan in die 1980’s en die seksuele aanranding van nog ’n vrou, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, in die 1990’s. Die misdade is gepleeg terwyl hy vir hulle tennislesse gegee het. Hewitt het onskuldig gepleit op die aanklagte.

Hy dien sedert September 2016 sy tronkstraf uit by die St Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth ná die konstitusionele hof sy aansoek om verlof tot appèl afgekeur het.

EWN berig sy slagoffers sal die aansoek om parool teenstaan. Die Teddy Bear Clinic en Women And Men Against Child Abuse sal na verwagting ook die aansoek teenstaan.

Hewitt is ʼn voormalige professionele tennisspeler van Australië. Hy het ʼn Suid-Afrikaanse burger geword toe hy in 1967 met ʼn Suid-Afrikaner getroud is.

Hewitt het 7 titels in enkelspelle en 65 in dubbelspelle verower, asook al die Grand Slam-dubbeltitels en mans- en gemengde dubbelspelle. Suid-Afrika se enigste Davis-bekertitel in 1974 is aan hom te danke.

Sy naam is in 1992 in die internasionale tennis-eregalery opgeteken, maar dit is onbepaald opgeskort ná die saak van seksuele teistering teen hom in November 2012 aanhangig gemaak is.

Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Sit met n vraag. Daar bestaan tog seker n aanloop voor so iets gebeur. Is daar nie betyds onraad bemerk in die verloop van sake nie. Hoekom dan nie betyds vermydend opgetree nie. Of verloop dit nie noodwendig so nie?

Janine ·

Nee neee NEEEEEEEEE!!!! Hy hoort agter tralies!!! Net soos pedofiele wat klein dogtertjies en seuntjies verkrag.

estelle venter ·

hy behoort agter tralies want sy slagoffers het nie enige keuse gehad nie –
ouderdom is nie verskoning nie .

Casper ·

Na my mening moet hy maar bly sit. My vroutjie met wie ek nou al agt en dertig jaar getroud is, was op vyftien jarige ouderdom deur ‘n pedofiel “gegroom” en daarna vir drie jaar lank herhaaldelik verkrag. Dit is maklik vir sekere mense om te sê moet nie wraak neem nie, maar ek beleef saam my vroutjie vandag nog die nagevolge, en die ergste van alles is dat haar ouers (Groot Christene) my skerp aangespreek het om nie wraak te neem deur die man te probeer opspoor nie, terwyl hulle destyds die pedofiel wetend by haar toegelaat het. Glo my, dit laat ‘n vreeslike merk op die onskuldige meisies, asook soos in ons geval, ons huwelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.