Bob Hewitt se tweede appèlaansoek geweier

Bob Hewitt saam met sy regspan tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Bob Hewitt saam met sy regspan tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die veroordeelde verkragter en voormalige tennisster Bob Hewitt se tweede aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis van ses jaar tronkstraf is geweier.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Hewitt (76) se aansoek is op 7 September van die hand gewys en hy het sewe werksdae om hom aan die Johannesburgse korrektiewe dienste oor te gee om sy vonnis te begin uitdien. Hewitt moet hom voor 20 September by die gevangenis aanmeld.

Hewitt was uit op R10 000 borgtog hangende die uitspraak van die konstitusionele hof rakende sy aansoek om verlof tot appèl. Hewitt se eerste aansoek om verlof tot appèl is in Junie deur die appèlhof van die hand gewys.

Hewitt is verlede jaar gevonnis nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding. Drie vroue, vir wie hy in die 1980’s en 1990’s tennisafrigting gegee het, het teen hom getuig. Een van die vroue het beweer dat Hewitt haar seksueel aangerand het toe sy net 12 jaar oud was.

Regter Bert Bam het tydens sy vonnisoplegging gesê dat die ernstige aard van die oortredings in ag geneem word, maar ook Hewitt se ouderdom en gesondheid. “As hy in sy 50’s skuldig bevind is, sou hy 20 jaar tronkstraf gekry het,” het Bam gesê.

Hy het gesê die reg moet geskied al is Hewitt in ʼn gevorderde ouderdom, en het bygevoeg dat hy nie terminaal siek is nie en in die tronk vir sy hartkwale behandel kan word.

Hewitt is ʼn voormalige professionele tennisspeler van Australië. Hy het ʼn Suid-Afrikaanse burger geword toe hy in 1967 met ʼn Suid-Afrikaner getroud is.

Hewitt het 7 titels in enkelspelle en 65 in dubbelspelle verower, asook al die Grand Slam-dubbeltitels en mans- en gemengde dubbelspelle. Suid-Afrika se enigste Davis-bekertitel in 1974 is aan hom te danke.

Sy naam is in 1992 in die internasionale tennis-eregalery opgeteken, maar dit is onbepaald opgeskort ná die saak van seksuele teistering teen hom in November 2012 aanhangig gemaak is.

Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Moet hom nou net nie weer parool gee na n paar maande nie! Pedofiele is onrehabiliteerbaar! Kry sy vrou baie jammer.

Rina ·

Daar is dinge wat (ondanks jou bekendheid/geld wat ookal) nie sommer net weggaan nie – baie mense verkies om saam met die onsigbare olifant te leef dog een of ander tyd ontplof dit in jou gesig! Hy verdien dit wat vandag met hom gebeur – jammer vir sy familie dog sy slagoffers se lewens is ook vernietig – en hoeveel is daar dalk wat nog wat net nie wou uitkom weens blootstelling van hulself of familie nie en steeds daarmee worstel. Ek verstaan nie wat in so ‘n mens se kop aangaan nie – veragtelike dade!

Columbiana ·

Die varkerige ou man gaan seker nou eers weer die konstitusionele hof nader in ‘n poging om vir tyd te speel.

Peet J ·

Die tweede appêlaansoek word geweier want hulle is seker bekommerd dat die appêl mag slaag want Hewitt het nuwe inligting bekom om sy saak te sterk. Waarom 30 jaar wag en dan lê die klaers gelyktydig hulle klagtes. Die NVG behoort nie eensydig op te tree nie en kan gerus Hewitt ondersteun om sy onskuld te bewys. Daar was onlangs weer ‘n “verkragter” wat onnodig tronkstaf sou moes uitgedien het gelukkig vir hom het sy saak ‘n ander wending geneem.

John ·

Hoekom is daar altyd mense wat die skuldiges wat verskriklike dade aanvang jammer kry? Dis juis die probleem met pedofiele. Hulle probeer altyd die tydsverloop aan hulle kant kry en hul goedgelowige vroue hang gereeld soos loodsvisse aan hul tog so onskuldige en dierbare eggenote se liefdevolle arms…. Nazi-slagters word gestraf, en met reg, al le hulle reeds plat met een voet in die graf. Verkeerd word nie reg sodra mens grys word of baie geld in die bank het nie.

Peet J ·

Dit gaan nie oor jammer kry nie maar eerder oor regverdigheid: Voorbeeld Hooggeregshof Wes-Kaap ‘n 75 jarige pedofiel, word skuldig bevind op 95 aanklagte van vervaardiging van kinderpornografie en seksuele aanranding sy vonnis van 15 jaar word na 4 jaar verminder. Sy ouderdom en gesondheid word in ag geneem. Childline het gesê sy slagoffers het nie noemenswaardige fisieke beserings opgedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.