Bob Hewitt skuldig bevind

Bob Hewitt

Bob Hewitt word ondersteun deur sy vrou, Delaille, in die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA


Die voormalige tenniswêreldkampioen Bob Hewitt (75) is Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, skuldig bevind aan verkragting en onsedelike aanranding.

“Die staat se getuienis teen die beskuldigde is oorweldigend,” het regter Bert Bam gesê nadat hy Hewitt skuldig bevind het op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding. “Die drie klaers het basiese regte. Tyd het nie die misdade uitgevee nie. ʼn Skuldige persoon moet nie ongestraf gaan nie,” het Bam gesê.

Terry Price, Hewitt se regsverteenwoordiger, het kort nadat Bam sy uitspraak gelewer het, aan die hof gesê hy wil getuienis ter strafversagting aanvoer. “Ons het te doen met ʼn man wat 75 jaar oud is,” het hy aan Bam gesê. Die hof het hierna verdaag en sal later hervat word om te besluit oor borg en vonnisverrigtinge.

Hewitt is daarvan beskuldig dat hy Theresa “Twiggy” Tolken en Suellen Sheehan in die 1980’s verkrag het en ʼn ander vrou, wie se naam nie genoem mag word nie, in die 1990’s onsedelik aangerand het. Hy was al drie die vroue se tennisafrigter. Hewitt het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Tolken het getuig dat Hewitt haar 34 jaar gelede onbehoorlik aangeraak het, en haar gedwing het om orale seks op hom uit te voer. Sheehan het getuig dat hy haar in 1982 in sy motor verkrag het voor ʼn tennisoefening. Albei vroue was toe 12 jaar oud. Die derde vrou het getuig dat Hewitt homself teen haar rug gevryf het tydens hul private tennislesse.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manda ·

Hy was nie 75 jaar oud toe hy die misdaad gepleeg het nie… Dis jammer dat hy nou eers uitgevang is

Aletta ·

Presies Manda!! Hy moet maar vat wat na sy kant toe kom. En deur alles het sy vrou by hom gestaan….ek wonder hoe voel sy nou….

lizelle ·

Bastard, gedink omdat hy oud is, hy sal onskuldig bevind word – ek hoop jy sit vir ewig

Vic ·

Ja wel, dit het hom nie gepla dat sy slagoffers 12 jaar oud was nie…… Dink nie die regter moet te veel aandag skenk aan die feit dat hy 75 is nie – net jammer hy sal nie lank sit nie

Drieks ·

Ek wens dat hierdie hof berig in elke skool in die land aan die kinders voor gelees word, om aan hul te verduidelik, wat is molesteering en verkragting. Dit moet stop.

Tammy ·

Het nou net op die radio gehoor die oompie is in aanhouding. Ek kry sommer so n lekker gevoel in my, want ek het self n jong dogter , kinder is so kwesbaar. Wonder net wat se sy trotse vroutjie nou. Hulle was getroud toe hy sy rolletjie gespeel het.

Pierre Celliers ·

Ek het vroeer jare baie respek gehad vir hierdie man en sy dubbels maat Frew Mc Millan, want hulle was ‘n gedugte wereldklas span. Na die berigte oor sy skandelike gedrag, het ek gehoop en bid dat hy skuldig bevind sal word. Ek is nou verheug en hoop hy sit baie lank!!!

ig ·

Kry vir jou ,jou varknek.Solly was net gelukkig dat Niek hom kom haal het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.