Bob Hewitt-slagoffer: ‘Ek is wéér in die steek gelaat’

Die St. Albans-tronk in Port Elizabeth.

“Die stelsel het my gruwelik in die steek gelaat. Weer.”

Só het Olivia Jasriel Woensdag gesê nadat ʼn paroolraad gister besluit het die veroordeelde verkragter en voormalige tenniswêreldkampioen, Bob Hewitt, mag op parool vrygelaat word.

Jasriel sê sy is te midde van die Covid-19-pandemie van Centurion na Port Elizabeth, waar Hewitt sy vonnis van ses jaar uitdien, ontbied om te gaan getuig. En hoewel sy haar hart voor die raad uitgestort het, glo sy nie vir ʼn oomblik dat haar inset in ag geneem is nie.

“Hulle [die paroolraad] het my bloot laat kom om hulself goed te laat lyk,” het sy gesê.

Jasriel het gesê sy is vandag steeds vreesbevange vir Hewitt, maar omdat hy aan die bepalings vir parool voldoen, mag hy vrygelaat word. “Dié mense gee nie om wat buite die tronkmure gebeur nie,” het sy oor die besluit gesê.

Olivia Jasriel sê die strafregstelsel het haar in die steek gelaat.

Volgens Jasriel het Hewitt tot vandag steeds nie erken dat hy haar en nog ʼn slagoffer verkrag het nie. Hy het aan die paroolraad gesê dat hy iemand is wat van aanraking hou en dat hulle sy “bedoelings misverstaan het”. Sy sê daar is egter min om verkeerd te begryp oor dít wat Hewitt aan haar gedoen het. “Hy het my verkrag omdat hy ʼn pedofiel en ʼn verkragter is. Ek gaan dit nie net daar laat nie. Dalk eendag, maar nie nou nie.

“Hy glo nie dat hy ʼn verkragter is nie en stééds stuur hulle hom huis toe.”

Hewitt is in 2015 skuldig bevind aan die verkragting van Jasriel, Theresa “Twiggy” Tolken in die 1980’s, asook die seksuele aanranding van nog ’n vrou, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, in die 1990’s.

Die misdade is gepleeg terwyl hy vir hulle tennislesse gegee het. Hewitt het destyds onskuldig op die aanklagte gepleit en doen dit vandag steeds.

Jasriel het gesê sy gaan vra vir ʼn hersiening van die paroolraad se besluit en sal dit tot in die parlement beveg indien nodig.

“Niks gaan my stuit nie. Ek het ʼn platform. Ek het ʼn stem en ek sal nie ophou nie. Ek sal nie stilgemaak word nie. As hulle my daarvoor in die tronk wil stop, is dit goed so,” het sy gesê.

Jasriel het ook gesê ondanks die paroolraad se versoek dat die gebeure daar nie elders bespreek moet word nie, kan sy dit nie doen nie. “Hulle wil my weer probeer stilmaak, maar ek sal nie swyg nie.

“Daar was niks reg aan gister se verrigtinge nie.”

Sy sê ook as ʼn ouma van kleinkinders beskou sy dit des te meer as haar plig om te verseker dat ander kinders nié aan soortgelyke misbruik onderwerp word nie.

Volgens Jasriel moet sy boonop elke dag met die gebeure saamleef. “Afsluiting. Dis ʼn woord wat ek haat. Ek moet hierdie herinnering vir ewig met my saamdra – tot die dag dat ek sterf. Ek kán aanbeweeg, maar geregtigheid het nie geskied nie en ek kan dit nie net daar laat nie.”

Hewitt word na verwagting op 24 April op parool vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

Het die staat nie hul les geleer om verkragters vry te laat nie? Daar is ‘ n paar kinders wreed vermoor onlangs in die Wes-Kaap deur verkragters wat op parool uit was. Hou Hewitt agter tralies!

Johan Venter ·

Is die voorwaardes om vir parool te kwalifiseer in alle gevalle van waar misdaad gepleeg is en die skuldige gevonnis is, nie vooraf bekend nie?

koos10 ·

Nou weet ek nie meer nie.
Janusz Wallus dien meer as lewenslank uit (in SA terme) en mag nie op parool vry gelaat word nie omdat Hani se familie dit nie wil hê nie.
Hewitt dien nie sy volle vonnis uit nie en sy slagoffer pleit om hom nie vry te laat nie, maar hy mag maar loop.
Ons stelsel dien net die politiek, dis al.

Phillip ·

Hy gaan nie parool kry nie. Hier besluit die hof jy is skuldig en lê jou vonnis op en dan is dit die mense buite wat met hulle emosies besluit jy bly in vir ewig. Die paroolraad het geen sê nie. Hoekom nie maar vir die slagoffers vra of iemand vrygelaat mag word of nie. Dien n mens dan nie jou straf uit in die tronk nie.

myvyfsent ·

Laat hom sit! Hy verdien dit, hoekom kan hy aangaan met sy lewe en onskuldige vroue se lewens is vir altyd verander. Te veel pedofiele loop rond, hopeloos te veel. Beskerm ons vroue en kinders asseblief!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.