Bob Hewitt vandag tronk toe

Bob Hewitt. Foto: Werner Beukes/SAPA

Bob Hewitt. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die veroordeelde verkragter en voormalige tennisster Bob Hewitt sal hom na verwagting vandag by die St Albans-gevangenis in Port Elizabeth aanmeld.

Hewitt sal sy vonnis van ses jaar tronkstraf begin uitdien vir die verkragting en seksuele aanranding van drie tienermeisies wat sy tennisstudente was in die 1980-’90’s.

Maroela Media het vroeër berig die konstitusionele hof het die 76-jarige Hewitt verlof tot appèl teen sy vonnis geweier. Hewitt was uit op R10 000 borgtog hangende die uitspraak van die konstitusionele hof rakende sy aansoek om verlof tot appèl

Volgens die groep Women and Men against Child Abuse (Wamaca) het Hewitt die staat toestemming gevra dat hy hom by die St Albans-gevangenis kan oorgee wat naby sy huis in Addo is. Die Johannesburgse hooggeregshof het Hewitt se versoek toegestaan weens sy swak gesondheid en onvermoë om na Johannesburg te reis om hom oor te gee.

Miranda Friedmann, die direkteur van Wamaca, het gesê sy sal saam met ʼn span van Wamaca van Johannesburg af vlieg om by St Albans te wees wanneer Hewitt hom daar aanmeld. “Ons organisasie was al die pad saam met Hewitt se slagoffers sedert hulle hul stryd begin het. Ek het hul dapperheid eersterangs ervaar, asook die tol wat die proses geëis het. Om Hewitt agter tralies te sien, sal vir hulle ʼn oorwinning wees,” het Friedmann gesê.

Theresa “Twiggy” Tolken, een van Hewitt se slagoffers, het gesê sy wag al lank vir geregtigheid. “Ek en my ma wag al baie lank [vir Dinsdag]. Ek wens net my pa was hier om hierdie dag te sien. Bob Hewitt het die afgelope paar jaar die gereg ontduik en alles in sy vermoë gedoen om uit die tronk te bly. Hy het deurentyd gelieg oor sy veragtelike dade,” het Tolken gesê.

“Die waarheid haal ʼn mens altyd in en hopelik is dit ʼn les vir ander pedofiele daar buite. Moet nooit dink jy is bo die gereg verhewe nie, jy sal gevang word. Aan al die ander slagoffers, moenie bang wees om te praat nie. Daar is mense en organisasies soos Wamaca wat julle sal regop hou en ondersteun in jul beproewing.”

Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Ernest ·

Dis alles goed en wel. Ek sal net wil weet hoekom vat iemand wat so benadeel voel, 25 jaar om eers ‘n saak aan die gang te kry..???? Noudat hy al ‘n ou man is. ???? Het die gereg hulle dan vantevore geignoreer.? Dis nie vir my mooi duidelik nie…..dalk kan iemand ons meer inlig.

Jaques ·

Ernest,

Ek maak nou bottel wurms oop, maar ek gaan se wat ek wil se;

Ek sal ook graag wil weet hoekom wag hulle dat die man amper in sy graf is, ‘n mens skop mos nie iemand wat alklaar le nie?

Hoekom nie eerder aandring dat hy ‘n stewige bedrag geld aan ‘n organissie betaal en gemeenskap diens doen nie, ipv om ‘n ou afgeleefde ou man in die tronk te sit.

Ek dink dis veraglik van hulle om so verheug te wees dat hulle dit reggekry het om ‘n ou man in die tronk te sit.

Hendrik ·

Soos ek die reg sien, straf hulle ‘n skuldige namens die gemeenskap en met die doel dat die straf dien as ‘n afskrikmiddel vir die gemeenskap, asook ‘n beskerming van die gemeenskap teen sulke misdadigers. Die algemene gemeenskap sien ook nie die trama wat die slagoffer oor jare moes beleef het nie. Volgens my moet ‘n man maar die gevolge dra van sy dade.

Columbiana ·

Jacques wat veragtelik is is die feit dat julle kan opkom vir ‘n verkragter. Dis denke soos hierdie wat die blaam altyd by die vrou/kind sit wat daartoe lei dat gespuis soos Hewitt vir jare wegkom met hul dade. Pleks jy eerder die vrouens prya vir hul bereidwilligheid om op te staan vir dit wat reg is. Dis skokkend day jy ‘n benadering het van dis ok verkrag maar kinders maak net seker jy word nie uitgevang totdat jy stokoud is en as jy uitgevang word gebruik dan jou ouderdom as verskoning. Nee sies man

MM ·

Daai een wil ek ook graag weet???? Verstaan dit nie! sy wag lank vir geregtigheid? Hoekom? Hoekom nie 30 jaar terug dit al aangemeld nie? Watse bewyse is daar nou? Was dit net haar woord teen sy woord???

Jaques ·

Columbiana,

Voor jy vuur spoeg, lees weer wat ek geskryf het, ek het hom nie verdedig nie, ek het gese daar is volgens my beter altenatiewe as straf vir ‘n ou man soos daai as om hom in die tronk te sit.
As hy gedwing word om in ‘n gemeenskap betrokke te raak en mense aan te moedig om meer oop te wees met wat gebeur het, kan slagoffers vroegtydig hulp ontvang en sodoende nie alleen op hul eie deur hul lewe sukkel nie, en met ‘n lekker stewige boete (hy het geld soos ek verstaan) kan daai fondse aangewend word om slagoffers by te staan in hulle nood en nodige berading. Wat gaan hy in die tronk doen, “lekker” lewe tot hy finaal die emmer skop?
Net so by the way, ek het ‘n dogtertjie van 5.5 jaar, en ek sal nie ‘n saak daar los as enigiets met haar moet gebreur nie.

Helene Heyns ·

Sjoe, maar die mense is wraakgierig. Verstaan ook nie hoekom hul gewag het tot die man oud en sieklik is nie.

Vic ·

Eerstens, omdat hulle gewoonlik kinders is wanneer die misdaad gepleeg word.
Tweedens, omdat kinders, verkeerdelik, gewoonlik nie geglo word nie.
Derdens, omdat dit erge trauma veroorsaak wat eers verwerk word as hulle volwasse is en gewoonlik landurige terapie ontvang het.
Vierdens, omdat, tot baie onlangs toe, hierdie soort van misdaad doodeenvoudig onder die mat ingevee is.
Genoeg redes vir jou?
As dit jou dogter was, sou jy tyd as n probleem sien?
As dit moord was, sou jy se die moordenaar moet nie tronktoe gaan nie omdat hy oud is?

Columbiana ·

Jacques ek sien jy sê jy het ‘n 5 jarige dogtertjie. So kom ons se iemand molesteer haar en eers 15 jaar van nou het sy die moed om iets te sê. Moet haar verkragter laat gaan word omdat 15 kaar verloop het? Dink jy moet dalk eers bietjie navorsing gaan doen oor die effel van moleatasie. Onthou tog ook dat van die kinders wel die saak aangemeld het. Een se afskuwelike ouers het haar geignoreer want hul wou eerder die voordeel van die gespuis Hewitt se tennis lesse kry. Die ander een het die saak aan die polisie geraporteer en hulle wou nols doen nie. Dit is dus sommer net snert om te se hulle het nils gesê vir jare. DIE WAARHEID IS HULLE HET DIT VIR JARE GESE MAAR NIEMAND HET VIR JARE GELUISTER NIE.

ig ·

Ernst,Daar is baie vrouens wat graf toe is wat as kinders gemolesteer is en dit nooit aangemeld het nie.In Hewitt se geval is dit maar net sy sondes wat hom ingehaal het.

Adeline ·

Stem saam ig, al het dit 50 jaar gevat, tyd kan niemand se oortredings uitvee nie. Presies soos jy se, sy sondes het hom ingehaal.

Karma ·

Dieselfde as met die klaers in die Ds. Solly Osrovech-sake? Waar is hulle vandag?

ig ·

Jaques,so maw dit is nie veragtelik om jong meisies se maagdelikheid,lewens vreugde ens ens te ontneem nie en dan agter ouderdom weg te kruip nie?

mosselbos ·

Ig stem 100 persent saam met jou. Laat hy sit hy lank genoeg daarmee weggekom. Hy IS mos. skuldig bevind deur die hof

Liesl ·

Jacques wat sou jy sê as dit met jou dogter gebeur het? Dink glad nie jy sou die arme ou oom nog jammer gekry het nie!! Hy kry wat hy verdien.

Jaques ·

Ig, Mosselbos en Liesl,

Ek het jul terug geantwoord, maar MAroela blok dit, so ek verwys maar terug na my antwoord aan Colombiana.

Sus ·

Ouderdom se voet! En toe lieg hy nog daaroor tot op die einde??

Elma ·

Die demone wat hom al die jare beskerm het, het hom versaak want sy doel is nou uitgedien. Mens sien dit baie, bejaardes wat voortvarend was en met enigiets kon wegkom, en baie invloed en groot vriendekringe gehad het, word op hul oudag tot skande gebring, en aan hul eie verarmde en patetiese lot oorgelaat. Die demone wat hulle gebruik het om skade aan te rig, om onskuld te vernietig, en als wat goed en mooi is te vertrap, het hulle verlaat vir beter geleenthede, en daarmee saam verval die beskerming en voortvarendheid wat hulle geniet het.

Marlene ·

Ek het in n tyd grootgeword waar jy “grootmense” altyd met respek moes hanteer.
Kommunikasie was nie wat dit vandag is met ouers nie.
Daar is n mate van, het ek iets verkeerd gedoen?Hoe langer jy stil bly hoe meer vreet dit aan jou, dit het n inpak op jou verhouding met ander en ook jou vertroue in mense.
Mens dink konstant aan die onskuldige mense wat gaan seer kry as jy praat oor die molestering, jou ouers wat n skuld gevoel gaan het, want hul gaan dink hulle moes die tekens raak gesien het.
Ek bewe terwyl ek hier tik, die samelewing se verwyte oor hoekom jy nou eers praat maak dit nog moeiliker om daaroor te praat. Die seer bly altyd by jou, jy lees intens artikels in die media en wens in jou bineste dat jy ook die “guts” kan het om te praat.
Jy lees negatiewe terugvoer en dan bly jy weer stil…

Adeline ·

Liewe Marlene, ek sukkel met die trane terwyl ek jou stukkie gelees het, want ek weet waarvan jy praat. Ek dink dit het reeds guts van jou gevat om dit te tik. Baie sterkte vir jou, en n stywe drukkie. xxx

Esmay ·

Marlene. Ek voel saam met jou jou en my pyn waaroor ons maar net swyg. Ja ons het in n era grootgeword waar sekere gesprekke met ons ouers maar net taboe was. So na wie kon ons gaan vir enige raad!!!!!

xxx ·

Dit het my 35 jaar gevat voor ek daaroor kon praat…en steeds bly dit diep in jou gene in, die skok bly vashaak…die skande te veel…diep binne wil jy dit uitskree, maar die stemmetjie wat uitkom is te dun, te bang, te seer…

Desire Lombard ·

As ek reg onthou het die een ma glad nie haar dogter geglo nie en hulle is vervreem agv die verkragting. Ek sal my dood skaam as ek jy is mevrou, jou kind moes hoelank alleen loop met die vieslike gebeurtenis, omdat jy haar nie geglo het nie! Aan die slagoffer, geregtigheid het geskied, bitter jammer oor jou stryd ALLEEN maar baie bly die swak verskoning vir n man gaan waarheen hy hoort.

Mike ·

Ek ken persoonlik mense wie se dogter ook deur dieselfde trauma moes gaan. Die slagoffer kan vandag nie eers normale lewe ly nie en is as biopolêr gediagnoseer. En dit van jare se opkrop. In hierdie geval was die oortreder n kwansuise Christen en het sy gedink niemand sal haar ooit glo nie. En toe kom die waarheid uit. En glo my die oortreder het ook gestry tot hy gesien het hy gaan nie meer kan wegkom nie. En dit deur mense wat familie moet wees. Vertrou niemand en wees te alle tye op die uitkyl vir gevaartekens. Ek het nie genade vir die ou man nie laat hy gaan sit en sy sondes oordink en die Here om vergifnis vra na hy boetedoening agter die rug het vir sy sondes.

Mike ·

Skuus iewers fout ingesluip met die tik dit is n hy waarna hier verwys word.

nannie ·

Dit is waar woorde Mike. Ek sit met dieselfde probleem. Net my kleinkind is op 3 jarige ouderdom gemolesteer en aangesien hy toeslaan elke keer as daar oor gepraat word is die saak uit die hof gegooi. Die saak bly vir 20jaar in die polisie se system en kan enige tyd oopgemaak word. Niemand weet waardeur so n kind gaan nie. Kan eers op die ouderdom van 18jaar geklassifiseer word as biopolere en die skuldige loop lekker rond. Weet waarvan ek praat wat my klein kind bly by my.

Peet J ·

‘n Span van Wamaca vlieg van Johannesburg na St Albans seker om hulle te verlustig in Hewitt se neerlaag. Sulke optrede laat ‘n wrang smaak in ‘n mens se mond en grens eerder aan ‘n drang om te wreek as’n Christelike optrede.

Adeline ·

My Christelike plig vertel my dat hierdie vroue ondersteuning nodig het. Daar is honderde sulkes. Hewitt moes gedink het voordat hy homself aan kinders vergryp het, soos ig se, sy sondes het hom ingehaal. Ek is saam met hierdie vroue bly.

Columbiana ·

Ongelooflik dat dit die ding is wat ‘n wrang smaak in jou mond los en nie die verkragtings nie. Asb tog hou op agter Christenskap wegkruip om elke vieslike ding te probeer regverdig. Was dit Christelik van Bob om die kinders (die enigste suiwer ding wat God ons gee) te verniel? Nee magtig dis om van naar te word

humor ·

Dat n volwasse grootmens dit aan himself kon doen is onbegryplik. Daars tog so iets soos nugtere denke en weerstand teen versoekings. Moontlik n verskeurde huwelik wat tot so iets aanleiding kan gee.

Bly eerder stil... ·

Mans wat negatiewe kommentaar lewer, wat weet julle? Het jy dit beleef, weet jy hoe dit voel, ken jy die pyn en hartseer wat soos dolke steek en elke dag deel uitmaak daardie slagoffers se lewe? Bly eerder stil en dank God dat dit nie iemand in jou familie is nie. Glo my, daar is BAIE vrouens daar buite wat stilbly. Moontlik iemand na aan jou ook. Vrouens wat as dogtertjies gemolesteer is word hulle HELE lewe lank gestraf. Hul loop met die pyn, die verwyt, die wete, die verskriklike seer, die “geheim” want “wat gaan die mense sê” , die hartseer, hul beleef die nagmerries. Hul sterf eendag met daardie prentjie in hul brein. Hulle kyk na hulle dogters en kleindogters en bid elke dag vir God dat dit asb tog net nie met hulle ook moet gebeur nie. So, sy word so 70-80 jaar lank gestraf en jy bekommer jou oor die tiran wat dit gedoen het! Hierdie vrouens word ELKE dag van hulle lewe gestraf. Julle praat van ‘n orige ou man se 6 jaar straf terwyl hy ‘n lekker lewe gehad het? Hy het met die, spreekwoordelike, moord weggekom. Mag God Hom vergewe. Aan die klaers, julle was dapper. Mag dit vir julle ‘n mate van genesing bring want volkome genesing is onmoontlik. Sterkte vir julle pad vorentoe en weet net daar is baie vrouens wat trots is op julle…

TM ·

Ek hoop van harte vrouens kry vroegtydig die krag om hierdie goed aan te meld. Mense soos Hewitt kon al vroeër geboet het vir sy dade. Hy het ‘n rustige lewe gehad terwyl die vrouens elke dag met hierdie verlede moet saamleef. Omdat so iets geweldig traumaties moet wees kan ek verstaan vrouens is bang ens. maar praat en rapporteer so iets so gou as moontlik.

WitBlits ·

Bob sal nou genoeg tyd kry om na te dink oor sy dade en hy moes sy volwasse oordeel gebruik het voordat hy met minderjarige meisies gelol & verkrag het.
Boontjie kry sy loontjie, maar ongelukkig sal dit nooit die slagoffers se lewens teruggee wat onherstelbaar deur sy dade by hulle gesteel is nie.

Columbiana ·

HULLE HET VIR JARE GESE HY HEY HULLE VERKRAG MAAR VIR JARE WOU NIEMAND LUISTER NIE.
GEREGTIGHEID IEMAND HET UITEINDELIK GELUISTER EN IETS GEDOEN!!

NICKEY ·

Vic, jy slaan die spyker op die kop. Kon dit nie beter gestel het nie.

Slakgif ·

Tronkstraf is maar die beste medisyne vir hom. Ek dink nie dis in gemeenskapsbelang dat n ou katoolse omie vry rondloop nie.

MAB ·

Wonder maar net…hoe moet die persone wat van kleins af en in kinderhuis was en deur Solly Ozrovech misbruik is aangaan? Hy rus in vrede maar hierdie mans moet voortgaan en elke dag deur hel gaan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.