Bob Hewitt-verhoor: ‘Slagoffer het nie genoem sy was verkrag nie’

Bob Hewitt tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Bob Hewitt tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, het Dinsdag gehoor een van Bob Hewitt se beweerde slagoffers het tydens ʼn onderhoud met die media gesê die voormalige tenniswêreldkampioen het haar seksueel aangerand, maar geen melding van verkragting gemaak nie.

Shaun Gillham, ʼn joernalis wat vir die verdediging getuig, het aan die hof gesê hy het ʼn onderhoud met Suellen Sheehan gevoer vir ʼn berig wat in 2011 in die Weekend Post gepubliseer is, en dat sy nooit die woord verkragting gebruik het nie.

Volgens die berig het Hewitt haar seksueel aangerand toe sy nege jaar oud was.

Sheehan is een van twee vroue wat beweer dat Hewitt hulle in die 1980’s verkrag het. ʼn Derde getuie beweer Hewitt het haar in die 1990’s seksueel mishandel.

Hewitt (75) staan tereg op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding, waarop het reeds onskuldig gepleit het.

Sheehan het getuig dat Hewitt haar in sy motor voor ʼn tennisoefening verkrag het, toe sy 12 jaar oud was.

Gillham het egter aangevoer dit is nie wat sy aan hom gesê het nie. “Ek staan by my berig,” het Gillham gesê. Volgens hom het Sheehan gesê Hewitt het haar seksueel begin misbruik toe sy nege jaar oud was.

“So dit was haar woorde?” het Terry Price, Hewitt se regsverteenwoordiger, gevra.

“Beslis,” het Gillham geantwoord.

Gillham het gesê dit is altyd belangrik vir ʼn joernalis om bronne woordeliks aan te haal. Die notas wat hy tydens die telefoniese onderhoud met Sheehan gevoer het, is nie meer beskikbaar nie.

Sheehan het aan die hof gesê dat sy in verskeie koerantberigte verkeerdelik aangehaal was, veral oor haar ouderdom toe Hewitt haar verkrag het. Gillham het gesê Sheehan het nooit ná die tyd die berig betwis nie, en dat hy verskeie opvolgberigte oor die saak geskryf het.

Gillham het onder kruisverhoor aan staatsaanklaer Carina Coetzee gesê hy het met nog een van Hewitt se beweerde slagoffers ʼn onderhoud gevoer, maar dat hy nie haar naam kan onthou nie.

In sy berig het Gillham geskryf hulle is ingelig dat Hewitt aan Alzheimer se siekte ly. Toe hy later met Hewitt ʼn onderhoud gevoer het, het hy nooit dié bewering bevestig nie. Hy het gesê die stelling is in die berig gehou om “kleur by te voeg”.

Nóg ʼn joernalis sal na verwagting later geroep word om te getuig.

Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Dis belaglik dat hulle die woord van n joernalis teen die vrou gebruik in die hof. Haar verklaring moet mos water dra. Is dit nou n manier om n skuldige vark weer te laat loslaat in die samelewing? Die media verdraai dinge so en las sterte aan, ek kan nie sien dat die hof na die snert luister nie, en al is dit dan so; ek glo ook nie ek sal sulke goed aan die media uitblaker nie, dis mos meer iets wat gelos moet word om in die hof aangehoor te word. Punt bly staan, die ou is skuldig en om dit onder n mat in te vee gaan nie help nie. Kan nie dink dat die skuldiges altyd so beskerm word nie, geen wonder sommiges vat die reg in eie hande, dis tyd dat die vrot kolle uitgeroei moet word uit ons samelewing uit. Hoop regtig hy gaan vir jare in die tronk sit, dis skandelik wat hy aan onskuldige kinders gedoen het, en dit nadat ouers hom vertrou het. Hy is gewetenloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.