Bob Hewitt-verhoor: ‘Slagoffer’ se ma wou haar nie glo

Suellen Sheehan Dinsdag in die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA.

Suellen Sheehan Dinsdag in die hof. Foto: Werner Beukes/SAPA.

ʼn Vrou wat beweer dat Bob Hewitt, die voormalige Grand Slam tennis-dubbelkampioen, haar as kind verkrag het, het gesê haar ma het die aantygings as “snert” verwerp.

Suellen Sheehan het Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof wat in die Palm Ridge-landdroshof sit, getuig op die tweede dag van Hewitt se verhoor waar hy tereg staan op twee aanklagte van verkragting en ʼn aanklag van onsedelike aanranding. Hy het reeds onskuldig gepleit.

Sheehan het gesê sy het haar ma vertel hoe Hewitt haar een dag by die skool gaan oplaai en haar op pad na haar tennisoefening onder bome verkrag het. “Ek het begin om haar daarvan te vertel, maar sy het dit as ‘snert’ verwerp,” het sy gesê toe Hewitt se prokureur, Terry Price, haar onder kruisverhoor geneem het.

Sy en haar ma het nie ʼn goeie verhouding nie en haar ouers het sedert die voorval in 1982 toe Sheehan 12 was, afgetree en woon nou aan die kus. Sy het nie meer kontak met hulle nie.

Sheehan het gesê sy was in haar vroeë 20’s toe sy met verskeie mense, waaronder haar destydse kêrel Ryk Cloete, oor die voorval gepraat het. Cloete het ʼn verklaring by die hof ingehandig.

“My ma het gejok toe sy gesê het dat sy nooit mnr. Hewitt gevra het om my by die skool te gaan oplaai nie,” het Sheehan gesê. “My ouers ondersteun mishandeling. Hulle het dit aanvaar dat hy my misbruik het.”

Theresa Tolken Maandag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Theresa Tolken Maandag in die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Sheehan was die tweede klaagster om te getuig sedert die verhoor Maandag afgeskop het.  Theresa Tolken het eerste getuig hoe Hewitt haar seksueel aangerand het.

Sheehan het in haar hoofgetuienis aangevoer dat Hewitt haar een dag in 1982 voor haar tennisoefening onder bome in sy motor verkrag het. “Op daardie dag was die perseel se opsigter, Themba, nie in die omgewing nie,” het sy gesê. Sy het getuig Hewitt het die passasiersitplek van sy motor laat sak en vir haar gesê om haar onderklere af te trek voor hy haar verkrag het. “Ek kan nie onthou hoe lank dit geduur het nie, of dit 20 sekondes of 20 minute aangehou het nie. Ek kan onthou ek het net vir Themba bly uitkyk,” het sy gesê.

Bob Hewitt saam met sy regspan tydens Dinsdag se verrigtinge. Foto: Werner Beukes / SAPA

Bob Hewitt saam met sy regspan tydens Dinsdag se verrigtinge. Foto: Werner Beukes / SAPA

Hewitt het daarna glo vir haar gesê om haarself te gaan skoonmaak. “Ek het myself nie verset nie. Ek is aangesê om iets te doen, en ek was gehoorsaam,” het sy gesê en bygevoeg dat sy Hewitt respekteer het.

“Ek moes na hom luister om groot en volwasse te word. Ek het nie beslissend gesê dat dit iets is wat ek nie wil hê nie. Ek het nie enige weerstand gebied nie. Ek het dit aanvaar,” het Sheehan bygevoeg.

Hewitt het in die aanklagtebank saam met sy vrou Delaille gesit en vir Sheehan gekyk terwyl sy getuig het.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Bob Hewitt op Maroela Media.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre Celliers ·

Pleit onskuldig en hoop om skotvry daarvan af te kom?!
Imbisiel!!!

Drieks ·

Mag die hele land se dogters gered word teen molesteering. Staan op en laat ons praat. Die ouer geslag het hierdie dinge probeer toesmeer. Ek wil graag een vraag geantwoord hé, hoekom moet ‘n persoon ‘n liggaam soek om sy dade uit te voer, hoekom…..
Ek het dit netnet vry gespring, ja my skoolhoof op laerskool. En die ander meisies was nie so gelukkig om weg te kom.
My ouers het geluister en hy is gepos,,, ja, nie afbetaal nie.

Theresa ·

Hoe kan ‘n ma nie haar dogter glo as sy sulke vreeslike goed vir haar vertel nie? Jy hoef nou nie histeries te raak nie maar stel ondersoek in, kry professionele mense om te help en stel ondersoek in na die bewerings. Liewe hemel tog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.