Bob van Reenen-stadion nou ‘vervalle monument’

Die erg verwaarloosde Bob van Reenen-sportstadion. (Foto: Verskaf)

Die ANC in Gauteng is oneerlik as hy sê daar is planne om die Bob van Reenen-sportstadion in Krugersdorp te restoureer aangesien geen bedrag uit die 2020-’21-begroting daaraan toegewys is nie. Só sê die VF Plus na aanleiding van die begrotingsdebat in die Gautengse wetgewer wat Woensdag plaasgevind het.

Die LUR vir sport, kuns en kultuur, Mbali Hlophe, het op ʼn vraag van die VF Plus gesê dit word oorweeg om dié eens glorieryke sportbaken te restoureer vir die gebruik van skole en die gemeenskap.

Die sportkompleks, wat sportsoorte soos atletiek, rugby, fietsrenne, boks, stoei, karate en gimnastiek aangebied het, is so erg verniel dat dit volgens die VF Plus waarskynlik ʼn paar honderd miljoen rand sal kos om dit weer bruikbaar te maak. “Die tartanbaan sal ten volle vervang moet word, wat sekerlik die duurste item sal wees,” sê Amanda de Lange, VP Plus-lid van die Gautengse wetgewer.

Die stadion is meer as 20 jaar gelede gedeeltelik gesloop om plek te maak vir ʼn nuwe sokkerstadion wat as tuisveld vir die Kaizer Chiefs-klub sou dien. Daar is egter nooit met die bouwerk begin nie.

Die erg verwaarloosde Bob van Reenen-sportstadion. (Foto: Verskaf)

“Jare lange beloftes en ondernemings hieroor deur die Mogale City-munisipaliteit, asook die Gauteng-provinsie, het op niks uitgeloop nie,” sê De Lange. Volgens haar het die agteruitgang van die stadion begin by die eertydse burgemeester van Mogale City, Lentswe Mokgatle. “Onder hom, sy opvolgers en ander provinsiale politieke ampslui, is miljoene rande wat vir die herstelwerk aangewys is, nooit bestee nie.”

Mogale City asook die Gauteng-provinsie het in hul 2014-’15-begrotings geld vir opknapping bewillig. ʼn Bedrag van R314 miljoen is deur die provinsiale departement van sport uit sy begroting toegeken om die stadion se kleedkamers op te knap.

“Kort nadat die werk afgehandel is, is al die wasbakke, toilette en storte geplunder en net leë kleedkamers is agtergelaat. ʼn Transformator is ook aangekoop, maar dit het nie die vermoë gehad om die hele stadion van krag te voorsien nie. Die transformator is later verwyder,” sê De Lange.

Die VF Plus het in 2015 die destydse LUR vir sport, kuns en kultuur, Lebogang Maile, asook die voormalige premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, besoek om oor die stadion te praat. “Albei was vol beloftes en ondernemings om die stadion op te knap, maar niks het daarvan gekom nie en die miljoene rande wat daarvoor begroot is, het tussen neus en ore verdwyn,” sê De Lange.

“Die sportstadion is deesdae ʼn hartseer vervalle monument vir ANC-korrupsie, wanbestuur en leë beloftes van amper twee dekades.”

Die VF het ʼn skriftelike vraag gerig aan die premier, David Makhura, om verslag te doen oor die finansiële wanbestuur deur ANC-politici en amptenare wat betrokke was by die herstel en herontwikkeling van die stadion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jaco ·

Die stadion se naam sal eers moet verander. die huidige naam is te Afrikaans, so dis in die taal van die onderdrukker en dis die naam van iemand uit die apartheidsjare

Sarel ·

My vraag: 2014/ 2015 begroting en daar word nou eers daaroor gekla? Horkom het dit so lank geneem?

Albert Willem ·

Goeie vraag want nou nrm VF+ dit op hoekom het hulle of selfs DA dit nie lankal vernoem nie

Pierreli ·

Dit kan nie gebruik word as sokker stadion nie daarom sal dit net so vervalle bly.

Andre ·

BEE uitnemendheid. Vra vir Luci hoe vergelyk dit met Orania.

Scalla ·

Instandhouding en onderhoud bestaan nie in die anc regering se woordeskat nie.

Chantel ·

So verval als, want die als appartheid se skuld. Dis so pateties.

Aai ·

Alles waaraan die regering raak of moet omsien raak vervalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.