Bobani nie terug in pos ná hofaansoek

Mongameli Bobani (links) in die hooggeregshof in Port Elizabeth voor die United Democratic Movement se hofaansoek aangehoor is. Foto: Raahil Sain/ANA

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Donderdag ʼn dringende aansoek deur die UDM om Mongameli Bobani weer terug in sy pos as adjunkburgemeester te kry van die rol geskrap.

Die UDM het ʼn aansoek voor die hooggeregshof gebring om ʼn interdik te bekom en sodoende die munisipaliteit te verhoed om ʼn besluit wat op 24 Augustus tydens ʼn raadsvergadering geneem is om Bobani van sy amp te onthef, te implementeer. Die UDM wil hê Bobani moet weer in sy pos aangestel word en voer aan die stemproses waartydens hy uit sy posisie verwyder is, was ongrondwetlik en onwettig.

Regter Dayalin Chetty het beslis dat die saak nie as dringend beskou word nie. Lionel Trichardt, die UDM se regsverteenwoordiger, het buite die hof gesê die uitspraak is slegs van toepassing op die dringendheid van die aansoek en nie die meriete van die saak om Bobani terug in sy pos te kry nie. Trichardt het gesê die saak sal dus steeds in die hooggeregshof aangehoor word, maar nie op dringende basis nie.

Bobani is verlede maand op ʼn raadsvergadering uit sy posisie verwyder deur 60 stemme van die DA, die ACDP, Cope en die Patriotic Alliance. Hy is daarvan beskuldig dat hy die administrasie ondermyn het deur by verskeie geleenthede saam met die ANC te stem.

Sekere opposisiepartye, insluitend die EFF en die ANC, het uit die raadsaal uitgestap terwyl die mosie van wantroue aan die gang was.

Die Patriotic Alliance se Marlon Daniels het Dinsdag in reaksie op die hofbeslissing gesê die party plaas sy vertroue in die hof en is daarom nie verras deur die hof se beslissing nie, omdat die party die reëls gevolg het tydens die stemproses waarmee Bobani van sy amp onthef is.

“Ek is tevrede dat geregtigheid geskied het en ek vertrou dat die hofbeslissing die goedkeuring van die publiek en die gemeenskap van die Nelson Mandelabaai-metro sal wegdra,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.