Bobbejaan vat hap uit man se skouer

Max de Kock vertel sy nekhare het omtrent gerys toe die bobbejaan hom uit die bloute bestorm (Foto: Verskaf)

ʼn Man van Mpumalanga herstel goed nadat ʼn bobbejaan hom verlede Sondag buite sy huis in Marlothpark langs die Krugerwildtuin aangeval het. Die bobbejaanmannetjie het Max de Kock uit die bloute bestorm en aan die linkerskouer gebyt.

De Kock is in die Mediclinic Nelspruit opgeneem, waar hy Maandag geopereer en Woensdag ontslaan is. Die wond was aanvanklik ongeveer 10 cm groot.

De Kock vertel hy het die Sondag alleen by hul gesin se vakansiehuis in die Marlothpark-vakansiedorp, digby Komatipoort, deurgebring. De Kock se vrou en dogter het agtergebly by hul huis in Mbombela (Nelspruit).

“Ek was in die slaapkamer om die plafon reg te maak toe ek ʼn geskarrel in die kombuis gehoor het. Dit het geklink asof ʼn bak op die vloer val. Ek het gaan kyk wat aangaan en dit is toe dat ek die bobbejaan in die kombuis gewaar het,” vertel De Kock.

De Kock sê hy het aanvanklik nie die bobbejaan gesien nie. Dié ongenooide gas het toe van agter die eilandtoonbank in die kombuis uitgekom en reg voor De Kock – sowat vier meter weg van hom – gaan staan.

“Hy het my gesien en my bestorm. Hy het my kuit geklap en by die voordeur – wat oop gestaan het – uitgehardloop.”

De Kock het vrugte en groente wat reg oor die kombuis besaai was, opgetel en toe uitgegaan om te kyk of die bobbejaan nog in die omtrek is.

“Ek het by die voordeur uitgeloop en op ons houtdek gaan staan. Ek het voor my in die verte ʼn paar apies gesien. Ek het toe na die huis se kant toe gedraai en die bobbejaan by die sitkamervenster gewaar. Hy was so ses meter van my af.

“Die volgende oomblik het die bobbejaan my bestorm en aan die linkerskouer gebyt. Toe vlug hy.”

Die wond was ongeveer 10 cm groot (Foto: Verskaf)

De Kock vertel sy nekhare het omtrent gerys toe die bobbejaan hom só skielik bestorm het.

“Ek het geweet ek moet kalm bly en stilstaan. Ek is lief vir die natuur en weet wilde diere is onvoorspelbaar. Maar dit was vir my vreemd dat die bobbejaan my só vir geen rede nie aangeval het. Hy was nie bedreig nie en was vry om in die veld in te gaan.”

De Kock vertel hy het daarna ʼn waslap natgemaak en op sy wond gedruk om die bloeding te stop. Hy het eers ʼn rukkie in die huis vertoef voordat hy na ʼn nabygeleë kliniek gegaan het.

“Ek moes eers tot verhaal kom.”

Die kliniek was egter toe. Hy het hul noodnommer geskakel, maar kon niemand in die hande kry nie.

“Ek het van my vriende wat ook ʼn huis in Marlothpark besit en ʼn sekuriteitswag wat in die omtrek was, gevra vir hulp. ʼn Ambulans is vanuit Komatipoort ontbied en het 40 minute later daar opgedaag.

“Ek het aanvanklik gedink die paramedici gaan sommer net daar my wond skoonmaak en toebind, maar helaas het hulle gesê ek moet hospitaal toe gaan.”

De Kock val Maandag weer in by die werk.

“My arm is darem nie te seer nie.”

Veldwagters van Marlothpark is ook in kennis gestel van die voorval en ʼn soektog na die bobbejaan is begin.

Cyril Repinga, woordvoerder van die Nkomazi‑ plaaslike owerheid, sê die bobbejaan is nog nie opgespoor nie.

“Sodra die bobbejaan gevind is, sal ʼn assessering gedoen word om te vas te stel wat met die bobbejaan moet gebeur,” het Repinga aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Mannetjiesbobbejane wat so optree soek loodpille. Maak honde dood en sulke optrede is gevaarlik. So ‘n mannetjie se tande is groter as ‘n luiperd s’n.

groenboer ·

Mens hoop hulle het hom net vir die wis en onwis teen hondsdolheid ingeënt…

Cherokee ·

Hulle soek na die bobbejaan en ek wonder hoe hulle hom gaan herken. Al wat werklik gebeur het is dat die bobbejaan in die huis wou oes en hy het hom gewip vir die stoornis.

pestilensie ·

Gehoor hy lyk blykbaar soos ou Karel , selfde agressie geopenbaar ????

Mrs H ·

Dit gaan altyd oor kos… Huidiglik is dit selfs vir diere baie sleg daar buite. Bitter min kos…. Maar slim genoeg om te weet dat daar altyd kos by mense is. Hulle ruik dit ook n myl ver.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.