Bobbejaan versorg leeuwelpie in Krugerwildtuin

Die bobbejaanmannetjie by die leeuwelpie in ʼn boom in die Krugerwildtuin (1 Februarie 2020) (Foto: Kurt Schultz via AP)

ʼn Bobbejaanmannetjie wat ʼn leeuwelpie ronddra en hom versorg is oor die naweek in die Krugerwildtuin opgemerk.

Kurt Schultz, safari-operateur, het gesê hy het in 20 jaar nog nooit dié gedrag opgemerk nie. Die bobbejaan het die welpie in ʼn boom getel en hom versorg asof hy sy eie is.

“Die bobbejaan het die welpie versorg asof dit ʼn bababobbejaantjie is,” het Schultz in ʼn e-pos aan die Associated Press gesê. “Bobbejaanmannetjies is gereeld besig met versorging, maar die sorg wat dié welpie ontvang het, is dieselfde sorg wat ʼn wyfie aan een van haar eie babas sou gee.”

Schultz het gesê toe hy die trop bobbejane Saterdagoggend opgemerk het, was hulle opgewonde en besig. Dis moontlik dat hulle toe op die welpie afgekom het, het hy gesê.

Hulle het in ʼn gebied bymekaargekom waar leeus en luiperds gewoonlik hul welpies wegsteek wanneer hulle gaan jag, het Schultz verduidelik en bygevoeg dis waarskynlik hoe die trop bobbejane op die welpie afgekom het.

“Bobbejane is baie sterk en toe hulle so opgewonde was en oor die baba baklei het, is dit moontlik dat die welpie inwendige beserings opgedoen het. Dit was baie warm en die welpie het ook tekens van dehidrasie getoon.”

Terwyl die res van die trop rustig geraak het, het die mannetjie “van tak na tak beweeg, die welpie vir ʼn lang tyd rondgedra en hom deurgaans versorg”. “Die welpie het baie moeg gelyk.”

Schultz en ander op safari in die wildtuin het die ongewone toneel aanskou en foto’s geneem.

“Ek vermoed die welpie gaan nie oorleef nie. Dit is ʼn groot trop bobbejane en ʼn leeu sal nie die welpie kan terugkry nie. Die natuur is soms baie wreed en die oorlewing van ʼn jong roofdier is nie maklik nie. Die leeuwelpie sal ook ʼn bedreiging wees vir die bobbejane sodra hy groter word. Ek het al gesien hoe bobbejane luiperdwelpies doodmaak en gehoor dat bobbejane leeuwelpies doodmaak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

dis nou goeie bobbejaan maniere, net jammer die leeuwelpie sal nie alle voedingstowwe en natuulik water inkry nie
sal graag wil sien wat verder gaan gebeur en hoop so graag die leeutjie sal ‘survive”

Stephanie ·

Die arme Simba! Die natuur is maar “wreed” as dit met menslike norme beoordeel word ????

Marie ·

Hoe dink ek nou aan Lion King… maar ja shame daai welpie gaan dit nie maak nie, baie hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.