Bobroffs moet miljoene aan POF terugbetaal – NGV  

Ronald Bobroff en sy seun, Darren, is deur die appèlhof in Suid-Afrika beveel om R103 miljoen aan die Padongelukfonds (POF) terug te betaal. (Foto: Sydney Morning Herald)

Die omstrede prokureur Ronald Bobroff en sy seun, Darren, is deur die appèlhof in Suid-Afrika beveel om onmiddellik die R103 miljoen wat hulle van die Padongelukfonds (POF) gesteel het, terug te betaal.

Dít volg nadat die appèlhof dié pa en seun se aansoek om ’n hofbevel deur die Noord-Gautengse hooggeregshof tersyde te stel, met koste van die hand gewys het.

“Die hooggeregshof het in Augustus 2019 bevind dat die Bobroffs die geld moet terugbetaal nadat daar in die guns van die batebeslagleggingseenheid van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) beslis is,” het Sipho Ngwema, woordvoerder vir die NVG, gesê.

Maroela Media het in 2016 berig dat Bobroff, ’n Johannesburgse prokureur wat persoonlike skadevergoedingseise hanteer het, saam met sy seun na Australië gevlug het nadat hulle in die hooggeregshof verskyn het. Die noordelike Prokureursorde van die noordelike provinsies het destyds geëis dat hulle van die rol van prokureurs geskrap moet word nadat die Bobroffs glo buitensporige fooie gehef het van slagoffers wat suksesvol van die POF geëis het.

Die Bobroffs het gevlug voordat hulle hulself aan die Valke sou oorgee en die geld is in twee afsonderlike bankrekenings in Israel onder die Bobroffs se name gehou. Die Israelse owerhede het dié rekeninge ook in ’n stadium gevries nadat hulle agterdogtig geraak het oor die transaksies wat die Bobroffs gemaak het.

“Die hofbevel wat in Augustus 2019 deur die hooggeregshof bekragtig is, is die gevolg van uitstekende samewerking tussen die Suid-Afrikaanse en Israelse owerhede,” het Ngwema gesê.

Die appèlhof se beslissing bepaal dat die geld in die strafregtelike bateherwinningsfonds van Suid-Afrika inbetaal moet word. Die bevel is ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) toegestaan.

“Ons is verheug oor die uitspraak aangesien dit aan ons die geleentheid bied om gesteelde geld wat tans in die buiteland is, na Suid-Afrika terug te bring,” het Ngwema gesê.

“Daar is geen plek om die vrugte wat deur middel van kriminele dade gepluk is, weg te steek  nie.”

Adv. Ouma Rasethaba, nasionale adjunkdirekteur van die NVG, het voorts gesê dat prokureurs wat die mees kwesbare mense bedrieg, nie daarmee sal wegkom nie.

“Hulle moenie dink dat hulle kan steel en dan in die buiteland gaan wegkruip nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Misky ·

Ja Miskruier, my pa het ook altyd gesê pasop vir ‘n ou wie se oë so naby mekaar sit

Frans ·

Vra eerder wie in die POF het die uitbetalings goed gekeur.

Charmain ·

Die meeste van die geld is uitbetalings deur POF gemaak op eise wat deur die Bobroffs namens kliente ingedien was. Die Bobroffs het egter versuim om die geld aan hulle kliente oor te betaal. Of hulle het baie minder oorbetaal as wat die POF uitbetaal het

Frans ·

Waarom dan nie die geld invorder en oorbetaal aan die eisers nie.Die POF moes tog die eise ondersoek het en daarna tenminste vasgestel het of die skelms wel hul kliente se regmatige deel betaal het. Het nie een van hul kliente dan gekla by die POF oor die min geld wat hul ontvang het.Iewers is daar iets wat nie klop nie.

Charmain ·

Ek verstaan ook nie hoekom hierdie geld nie aan die Eisers gaan nie. Miskien is hierdie geld waarop nou beslag gelê is net die punt van die ysberg en is dit bedrieglik bekom terwyl die geld wat aan Eisers verskuldig is, nog verhaal moet word.
Daar was menige klagtes deur Eisers teen die Bobroffs by POF gemaak maar soos ek reeds gesê het hy was Mr Law Society.

Charmain ·

Werknemers by die POF het al so ver terug as die laat 90s gesê die Bobroffs is n klomp skelms maar Bobroff Snr was mos Mr Law Society so al die klagtes het op dowe ore geval…

quartus ·

ons moet hierdie outjies terugbring na SA sodat ons oranje oorpakke aan hulle kan gee.

John ·

“Die hofbevel wat in Augustus 2019 deur die hooggeregshof bekragtig is, is die gevolg van uitstekende samewerking tussen die Suid-Afrikaanse en Israelse owerhede,” het Ngwema gesê.

Snaaks né, die Suid Afrikaanse regering ondersteun die Palistyne en Mogoeng word veroordeel maar as daar geld te sprake is dan is daar “Uitstekende samewerking”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.