Boef aangekeer danksy liefde vir selfies

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Twee mans wat twee jaar gelede op Kersdag ʼn gewapende roof uitgevoer het by ʼn huis in Montana, Kaapstad, is Dinsdag in die Parow-streekshof skuldig bevind op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Malusi Tikili (26) en Cyprian Slaai (27) het voor landdros Wezile Rixana verskyn.

ʼn Vrou het die Kersoggend om 08:00 haar tuin natgelei toe twee mans in ʼn donkerrooikleurige Renault Sandero by haar stilgehou het om aanwysings te vra na ʼn tegnikus. Sy het hulle na iemand beduie, en die mans het kort daarna teruggekeer om vir water te vra.

Sy is in die huis in om ʼn glas te gaan haal, maar toe sy die glas aan een van die mans oorhandig het, het hy ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en hulle het haar in die huis in gedwing. Een van die mans het haar man en seun oor die kop geslaan met die agterkant van die vuurwapen.

Die man het die drie slagoffers in ʼn vertrek toegesluit, en die huis geplunder. Hulle het verskeie items, waaronder televisiestelle, ʼn skootrekenaar en ʼn kamera gesteel. Een van die mans het daarna in die Sandero gevlug en die tweede in die egpaar se swart Volkswagen Jetta.

Slaai se gretigheid om dieselfde dag nog met die gesteelde kamera foto’s van homself en sy vriende op die strand te neem, het tot die mans se inhegtenisneming gelei. Hy was onbewus daarvan dat daar ʼn foto op die kamera was wat nie verwyder kon word nie, van die vrou van die huis wat hulle beroof het.

ʼn Buurvrou het vroeër die Sandero buite die huis sien staan en het by die kerk van die roof te hore gekom en die polisie in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir die donkerrooi motor. Die polisie het kort daarna die betrokke motor opgemerk en dit agtervolg tot by Tikili se huis. Die polisie het in die huis beslag gelê op die gesteelde televisiestelle en die kamera.

Die polisie het die kamera ondersoek en die permanente foto van die vrou, en foto’s wat Slaai van homself en sy vriende op die strand geneem het, gevind. Die polisie het die kamera vir die vrou gewys en sy het Slaai suksesvol uitgeken as een van die twee mans wat haar en haar gesin beroof het.

Die twee mans moet op 2 Maart weer in die hof verskyn vir vonnis oplegging. Hulle kan moontlik elk tot ʼn minimum van 15 jaar gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

THEA SWART ·

flippen hel 15jr vir roof dis rerig te goed om waar te wees maar vir moord kry hy of parool of slegs 6jr lyk my dis hoekom mense meer moor as roof –

zahn ·

Wat kan mens sê. Dis ook nie lekker as hulle die “fun” uit ‘n storie neem nie, nê? Hoe dom kan mens wees?

Wouter ·

Moontlik 15 jaar se alie. Hulle sal nie eers 2 jaar kry nie en dan nog opgeskort ook. Kyk die een wat die trok bestuur het in Pinetown het agt jaar gekry. Onwettige immigrant, nie werks permit nie, nie n geldige lisensie nie en onpadwaardige voertuig. Daar is klomp insittendes dood.

wilma ·

Mense ek gee nie eers water wanneer iemand my vra nie. Ek sal maar liewer as gevoelloos gebrandmerk word maar ek voel vere

Anton ·

…Wilma ek stem…ek voel ook vere…ek se net altyd beleefd…nee, my ma het my geleer om nie met vreemdelinge te praat nie…

humor ·

Wouter die man het moontlik so lig daarvan afgekom omdat hy so goeie werk gedoen het.

AL ·

Uitstekende werk wat die SAPD gedoen het. Verhoog die vonnisse, dalk is die volgende slagoffers nie so gelukkig om te lewe nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.