Boef kom moses teë danksy flink polisie-egpaar

Kol. Connie van Niekerk en kapt. Vernon van Niekerk (Foto: Facebook)

ʼn Vermeende rower van Port-Elizabeth in die Oos-Kaap het sy moses teëgekom toe hy vandeesweek enkele oomblikke ná hy ʼn vrou van haar selfoon probeer beroof het, deur ʼn polisie-egpaar van Mountweg in dié dorp vasgetrek is.

Kol. Connie van Niekerk, polisie-bevelvoerder, het aan Maroela Media vertel sy en haar man, kapt. Vernon van Niekerk, het Sondagoggend langs die kus in die Summerstrand-omgewing gaan draf, toe hulle skielik ʼn vrou hoor gil het.

Die egpaar, wat nie aan diens was nie, het die vrou onmiddellik te hulp gesnel.

Van Niekerk sê ʼn man het oomblikke vroeër probeer om die vrou van haar selfoon te beroof, maar sy het verbete vasgeklou terwyl sy om hulp geskree het.

“Die vrou was stomgeskrik en kon amper nie eens praat nie. Ons wou nog sin maak van wat aangaan en gebeur het, toe ons die man in die teenoorgestelde rigting sien weghardloop. Ons het hom agternagesit, en my man het hom platgeduik,” vertel sy.

Die egpaar het die vermeende rower terug na die toneel geneem. Van Niekerk sê sy het toe die slagoffer se selfoon gebruik om die polisie te ontbied.

“Ek het nie eens ʼn selfoon by my gehad nie, omdat ons net van plan was om vinnig te gaan draf. Maar ons albei het uit instink opgetree om die man vas te trek.”

Van Niekerk sê dit is oor voorvalle soos dié dat sy en haar man die polisiediens betree het.

“Mens voel goed omdat jy iets vir iemand beteken het. Dit was hoekom ek besluit het om in dié beroep te werk. Ons het almal ʼn verpligting teenoor die samelewing. Die vrou het skoon by die polisiekantoor, toe sy ʼn verklaring gaan aflê, gespot dat sy haar eie twee lyfwagte het. Ons is net bly ons kon help,” sê sy.

Volgens Van Niekerk is ʼn saak van poging tot roof teen die man aanhangig gemaak. Dit is nie seker wanneer hy voor die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Helen ·

Fantasties!
Maar ja da is hy alweer vry! Hy gaan niks oorkom nie!!! Hy is tien ten een al klaar weer op straat!

SARIE VAN HEERDEN ·

Veels geluk aan ‘n baie mooi en vreeslose paartjie. Beide van hulle s regtig baie SAG OP DIE OOG.

latie ·

polisie moes hom betaal want doen goeie diens sonder aan diens te wees

Anoniem ·

Die eintlike rede is omdat selfoon mense se aandag baie aftrek. Hoeveel mense loop rond met selfone in die hand en let glad nie op wat rondom hul gebeur nie. Ek het al gewonder hoeveel mense teen iets vasloop, as hul so op hul selfone konsentreer. Dieselfde gebeur in voertuie ook, los jul selfone as dit lui, die ander persoon kan weer later kontak maak.

Marius Meyer ·

Vantasties van ons Polisie maar, en ek mag nou swartgallig klink, die saak kan eers oor n paar maande voorkom en selfs dan kan dinge sloer. Teen die tyd wat hy gevonnis word het hy sy termyn gedien en is weer op straat om weer sy geluk te probeer.

CHRISTA ·

Maak altwee hierdie beamptes hoofde by ons polisie-opleidingskolleges!!! DAN sal jy oor ‘n paar jaar ‘n TOTALE ander polisiemag hê!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.