Boeing 727 eersdaags ’n luukse slaapplek

’n Lugfoto van die vliegtuig wat Vrydag in Hoedspruit aangekom het. (Foto: Verskaf)

Die Aerotel-boetiekhotel in Hoedspruit, Limpopo, het Vrydag nóg ’n vliegtuig ryker geword – dié keer ’n 18 ton-Boeing 727.

Maroela Media het Donderdag berig dat dié vliegtuig ’n groot oponthoud met sy vervoer van Johannesburg in Gauteng na Hoedspruit in Limpopo veroorsaak het.

Die reusevrag is Maandagoggend by die OR Tambo-lughawe opgelaai en teen ’n slakkepas na sy bestemming vervoer.

Die hotel, wat in Augustus verlede jaar deur Tracy den Dunnen en haar vlieënierman, Martin, oopgemaak is, bied tans slaapplek aan 12 gaste in die bestaande Boeing 737-vliegtuig. Den Dunnen sê die nuutste vliegtuig sal nóg ses gaste kan akkommodeer.

“Anders as ons eerste vliegtuig, is die Boeing 727 reeds vir baie belangrike gaste ingerig. Dit is uitgerus met slaapkamers en badkamers en ons gaan slegs minimale veranderings aan die binnekant aanbring.

“Die grootste veranderings sal aan die buitekant wees. Die voorsiening van water en elektrisiteit na en van die vliegtuig sal ook aangepas word.”

Die Boeing 727, sê Den Dunnen, sal ook as ’n as ses-slaapkamer-eenheid in sy geheel verhuur word, terwyl gaste afsonderlike kamers op die Boeing 737 kan bespreek.

Volgens Den Dunnen was dié vliegtuig meer as ’n dekade laas gevlieg en sou dit waarskynlik vir skrootmateriaal vernietig word indien sy en Martin dit nie aangekoop het nie.

“Dit sou ’n skande wees aangesien dit werklik ’n pragtige stuk ingenieurswerk is.”

Den Dunnen sê hulle beoog om die Boeing 727 binne die volgende drie tot vier maande vir die publiek oop te stel.

Hoewel die koste van dié eenheid nog nie vasgestel is nie, sê Den Dunnen dat dit uiteraard meer as dié van die enkelkamers sal wees, wat gaste tans sowat R3 000 per nag uit die sak jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

melaney ·

Moet seblief nie “SAL” op die vliegtuig verf nie….binne of buite. Ek sou rustig wou slaap. Baie dankie bv.

Windhond ·

Daar sal altyd n knaap en sy hond wees wat dit sal betaal vir n kooi

Niklaas ·

Daardie transito kostes was ook sekerlik dieselfde as een vliegtuig se prys. Nou moet hul met duur oorslaap tariewe fondse herwin. Maar daar is baie toeriste wat dit laglag sal kan betaal.

Cecilia ·

En weereens slegs vir buitelanders d tarief.
Skandelik laat ons mooiste dele vd land net vir Uitlanders beskroom is.
Hkm het d hotelle nie tariewe vir ons gewone SAners en tariewe vir d ryk uitlanders nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.