Boekhouer het van weeskind ‘gesteel’

Argieffoto

Die kommersiële misdaadhof in Port Elizabeth het Vrydag gehoor ʼn munisipale werknemer van Nelson Mandelabaai moet tot lang tronkstraf gevonnis word omdat sy meer as R1 miljoen gesteel het wat ʼn weeskind moes toekom.

Mary Madaka (50), afdelingshoof van rekenkunde vir die metro sy Bystand aan Armes-program (ATTP), het skuld beken op aanklag dat sy geld gesteel het wat geoormerk was vir Daniel Vanqa, die seun van nabye familievriende, oor wie sy en haar man voogdyskap het.

Toe Vanqa se pa terminaal siek geword het, het hy sy boedel aan Madaka toevertrou. Die geld moes aangewend word vir sy enigste seun se opvoeding en opheffing. Vanqa, nou 21 jaar oud, het as 15-jarige by Madaka begin bly.

Volgens hofdokumente was Vanqa die enigste begunstigde van sy pa se boedel, en ʼn maandelikse bedrag is uitbetaal vir sy versorging en opleiding. Hy moes ook as 18-jarige die opbrengs ontvang uit sy pa se voorsorgfonds, maar Madaka het volmag gehad en sy het binne ses weke die geld uit ʼn ABSA-rekening gebruik vir luukse opknappingswerk aan haar huis.

“ʼn Goeie ma steel nie van ʼn kind nie – nie jou eie of iemand anders sʼn nie,” het staatsaanklaer Ulrike de Klerk Vrydag aan die hof gesê ter verswaring van vonnisoplegging. Sy het in besonderhede verduidelik hoe Madaka in April en Mei 2010 die geld verkwis het en luukse dekoritems aangeskaf het. Op een dag in April het sy meer as R200 000 spandeer en betalings aan Easy Life Kitchens gemaak ter waarde van R51 000. Sy het ook R42 000 spandeer aan teëls vir haar badkamer.

“Sy het al die geld onttrek en daar is niks oor nie. Dit is dieselfde vrou wat gesê het sy kan [die seun] nie met sy eie geld vertrou nie. Sy is ʼn boekhouer. Die metro maak staat op haar. Maar wat eintlik gebeur het, is dat Madaka ʼn nuwe huis wou hê, sonder enige skuld,” het De Klerk gesê.

Die staat het verder aangevoer Madaka was streng met haar eie persoonlike begroting, maar het geen voorsiening gemaak vir ʼn kontantterugbetaling aan Vanqa nie. “Dit is ʼn ernstige vertrouensbreuk. Al wat sy moes doen is om die geld uit te los. As sy die geld uitgelos het, sou hy nou beter daaraan toe gewees het en daar sou nie enige hofsake gewees het nie.”

Anlen Murray, vir Madaka, het aangevoer Madaka het skuld beken op die aanklagte van diefstal en die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Murray het gesê Madaka het berou en het haar eiendom aan Vanqa gegee.

Die staat voer egter aan Madaka se beloftes van terugbetaling is leë woorde. Die batebeslagleggingseenheid moes ook betrek word sodat Vanqa behoorlik vergoed kon word.

Murry het ʼn opgeskorte vonnis versoek.

Landdros Lionel Lindoor sal op 17 Oktober uitspraak lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Siek en sat ·

Opgeskorte vonnis????? Asseblief. Sluit die dief toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.