ʼn Voormalige boekhouer van die Rhodes-Universiteit in Makhanda (voorheen Grahamstad), Oos-Kaap, is Donderdag skuldig bevind daaraan dat sy geld ter waarde van meer as R480 000 van die universiteit in haar sak gesteek het.
Wendy Zimasa Xabiya (32) is Donderdag in die handelsmisdaadhof in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) skuldig bevind op aanklagte van vervalsing, bedrog, geldwassery en oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
Volgens Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, het Xabiya tussen 1 Januarie 2017 en 1 Desember 2018 as finansiële administrateur by die betrokke universiteit gewerk, waar sy bedrieglike reis- en verblyfeise verwerk het.
“Geld is onwettig in bedrieglike begunstigdes se rekeninge betaal vir haar persoonlike gebruik,” sê Mgolodela.
Die universiteit het van dié misdrywe te wete gekom en die saak na die ondersoekspan vir ernstige handelsmisdaad in Gqeberha verwys, wat gelei het tot haar inhegtenisneming op 3 Desember.
Sy het op dieselfde dag vlugtig in die hof verskyn en is met ʼn waarskuwing vrygelaat.
Die saak word tot 20 Junie uitgestel vir vonnisoplegging.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Gee haar n pos in die regering. Sy sal in haar element wees.
Apartheid made me do it
Sorry sorry eish.