Boer (73) wat brand dink weer aan ploeg

Gert Nieuwenhuizen het ernstige brandwonde aan sy regtervoorarm en -hand, die vingers aan sy linkerhand en albei bene opgedoen. (Foto: Verskaf)

Die 73-jarige boer van Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo wat ernstige brandwonde opgedoen het terwyl hy ʼn veldbrand probeer blus het, is eindelik tuis ná weke in die hospitaal. Hy het boonop intussen Covid-19 óók opgedoen.

Gert Nieuwenhuizen is agt weke lank in die Mediclinic-hospitaal in Polokwane behandel. Hy het erg gebrand nadat die wind gedraai het terwyl hy ʼn veldbrand op sy plaas probeer blus en die vlamme hom vasgekeer het. Die brand is vermoedelik deur kwaaddoeners gestig.

Maroela Media het in Mei berig dat Nieuwenhuizen op die grond geval en probeer het om op sy hande en knieë uit die vlamme te kruip.

’n Plaasvoorman van ’n ander plaas kon daarin slaag om tot by Nieuwenhuizen te kom en hy is na ’n hospitaal gehaas.

Nieuwenhuizen het tydens die voorval ernstige brandwonde aan sy regtervoorarm en -hand, die vingers aan sy linkerhand en albei bene opgedoen. Die wonde moes verskeie kere in die teater skoongemaak word en hy het ook ’n veloorplanting aan sy regterbeen ondergaan.

Hy het boonop kort voor die veloorplanting positief getoets vir Covid-19 en moes twee weke lank met ligte simptome in ’n hospitaalkamer isoleer voordat die oorplanting gedoen kon word.

Gert Nieuwenhuizen (73) in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Dít terwyl sy vrou (68) en volwasse dogter die fort op die plaas moes hou.

Nieuwenhuizen is sedert die begin van die maand weer tuis. Hy skerts dat dr. Mmatlou Lioyd Chokoe, die plastiese en rekonstruktiewe chirurg wat hom behandel het, meen hy sal binnekort weer op een van sy trekkers kan klim.

“Ek sal eerste op die klein trekker klim, sodat ek my grasperk kan sny,” lag hy.

Hoewel Nieuwenhuizen deurgaans probeer positief bly en hoop om volkome te herstel, moes hy onlangs sy suster, swaer en hul seun weens Covid-19 aan die dood afstaan.

“Ek het al só gehuil. Hulle het só vir my gebid om huis toe te kom [ná die brand en Covid-19]. Daar kom ek toe veilig by die huis en hulle is dood.”

Nieuwenhuizen vertel dat hy te midde van sy hartseer baie dankbaar is dat hy die veldbrand oorleef het en dat sy wonde mooi genees.

“Ek is in een stuk.”

Nieuwenhuizen kan nie uitgepraat raak oor die wonderlike sorg wat hy van Chokoe, die verpleegsters wat sy wonde skoongemaak het, sowel as al die ander hospitaalpersoneel ontvang het nie. “Hulle was fantasties.”

Tog is dié stoere boer dankbaar om weer op die plaas en binnekort weer aan die ploeg en plant te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andries ·

Ja die wonde is verskriklik , my vrou lê nou al 6 maande in die bed nadat sy bedsere gekry het in Unitas hospitaal.

Elinette ·

In die ou dae moes ons pasiënte wat immobiel was, elke vier ure draai, was en smeer. En boeta, daar is op die junior verpleegsters, wie se werk dit was, opge-“check” om toe te sien dat dit gedoen is! Vandag doen die meeste verpleegpersoneel (veral in sekere staatsinrigtings) jou mos ‘n guns as jy die mees basiese sorg van hulle vra.

melW ·

Dit vat aan my hart, God staan nie stil nie, Hy beweeg. Ek dra my gebede oor vir elke gesin wat so weerloos staan teen covid.

Margaret ·

n Brawe man wat al so baie deurgemaak het. Dit onstel my baie dat brandstigting nie ernstig opgeneem is nie. Brandstigting moet dieselfde straf hê as poging tot moord. En as iemand doodbrand, moord. Hulle moet ook so n persoon skadeveegoeding laat betaal, al is dit vir die res van sy lewe.

Blomme ·

Wonderlik om iemand met so positiewe ingesteldheid midde soveel trauma en hartseer te sien. Spoedige herstel aan ń pragtige mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.