Boer Appèlhof toe ná Landbank-uitspraak

Carel van der Merwe en Shani Taljaard (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Carel van der Merwe, ’n boer van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, se hofaansoek dat sy boerdery – wat onder jarelange droogte gesteier het –  in sakeredding geplaas word, is Dinsdag in die hooggeregshof van die hand gewys.

Regter Mpho Mamosebo het ook die magte van die likwidateurs en trustees uitgebrei en Van der Merwe se maatskappy en trust finaal gelikwideer en gesekwestreer.

Binne minute ná die uitspraak het Van der Merwe ʼn verlof tot appèl ingedien, maar dié is ʼn dag later deur die regter afgewys. Van der Merwe se regspan het gevra vir uitstel van die aanhoor van die aansoek om verlof tot appèl, maar dié is ook van die hand gewys en die regter het voortgegaan met die uitspraak van die aansoek.

Van der Merwe het hom daarna na die Appèlhof in Bloemfontein gewend en sy aansoek om verlof tot appèl daar voortgesit. Met dié aansoek word die regter se uitspraak opgehef en hangende die Appèlhof se uitspraak, kan die likwidateurs nie aan Van der Merwe se bedryfsbates raak nie.

“Ons verstaan die regsproses gaan van hier af moeiliker raak, maar indien ons ons tot ʼn  grondwetlike hofsaak moet wend, sal ons. Ons glo vas die regter se uitspraak was onbillik en partydig en die proses was nie reg hanteer nie,” het Van der Merwe aan Maroela Media gesê.

Van der Merwe, wat in sy persoonlike hoedanigheid reeds gesekwestreer is, voer reeds die afgelope twee jaar  ʼn hofstryd teen die Landbank om sy boerdery te behou.

Van der Merwe tesame met sy Merwede Trust en maatskappye Velvetcream en Project Multiply, skuld die Landbank R80 miljoen en Mamosebo het in Mei ’n voorlopige likwidasiebevel teen Van der Merwe se besittings gemaak. Van der Merwe se eiendomme, wat 80 000 ha tussen Vanwyksvlei en Fraserburg beslaan, is waarskynlik van die grootste stuk grond in private besit.

Die Landbank eis die betaling van die skuld en voer aan hy het sedert 2018 “nog nie ’n sent van Van der Merwe” gesien nie.

Mamosebo het in haar uitspraak veral klem gelê op skape wat Van der Merwe na bewering vir R7 miljoen laat slag het en die geld nie vir die Landbank betaal het nie. Die Landbank het vroeër in die hof geopper dat die skape “onregmatig” geslag is omdat hy (Landbank) vroeër reeds daarop beslag geneem en as sekuriteit geëis het.

In Mamosebo se uitspraak het sy aangevoer dat dit kommerwekkend is dat dié geld verdoesel is en van die skuldeiser weerhou is nadat “Van der Merwe die krediteure verseker het hy sal nie bates verkoop of vervreem nie. Dit is uit die bewysstukke wat ingedien is duidelik dat van die geld vir sy eie lewenskoste en regskoste gebruik is. Dit kom op minagting van wetlike prosesse neer.”

Sy het na die uitspraak ʼn kommissie van ondersoek gelas om Van der Merwe se sakebedrywighede onder die loep te neem.

Volgens Van der Merwe was dit egter normale boerdery-aktiwiteite en is geen geld verdoesel nie.

“Die hele uitspraak is grootliks geskoei op die bewerings en verdagmakery dat die vee gesteel is, dat die regter nie eers aan ons sakereddingsplan aandag geskenk het nie om te bepaal of dit wel lewensvatbaar is of nie. Sy het ook nie redes gegee waarom die sakeplan nie ʼn alternatief vir likwidasie kan wees nie.

“Die praktiese implikasie van die uitspraak is om die kanse wat daar kan wees om ’n lewensvatbare boerdery te red, so vinnig as moontlik te kniehalter en te dwing tot oorgawe vir likwidasie waar net die likwidateurs en prokureurs voordeel uit kan trek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Willie ·

Sterkte mnr Van der Merwe. As jou van Nkosi of iets soortgelyk was, het jy nie nou met die tameletjie gesit nie.

Henri ·

Verstaan ek reg? Hy het in 2018 laas ‘n betaling gemaak aan die Landbank? Dan dink ek die bank is binne sy regte om só op te tree.

Gaitsigubib ·

Ek dink jy weet dalk nie hoe sulke dinge werk nie. n Oeslening moet jy presies op die regte tyd kry. Wanneer jy op so lening begroot het en die bank vertel jou ewe skielik dat hulle bankrot is dan moet jy natuurlik jou eie oeste self finansier. Jou geld en jou rekeninge werk nie soos n oeslening wat jy aan die einde van jou oes eers hoef te betaal nie, jy moet dit aan die einde van die maand betaal, dan val dit wat jy die bank moet betaal agter, en n bose kringloop ontstaan. Almal weet dat SARS bankrot is, so jy sukkel ook om jou belasting terug te kry, maar waarom bekommer die boer hom nou oor 1 of 2 miljoen, ne? Begroot op R200’000/Ha om jou aartappels in die grond te kry. Dit kos jou in een seisoen dan R40miljoen om te plant (200ha), maar jy slaan die mark soos nou op R30.00/ sakkie terwyl gelyk breek R50/sakkie is. Ek dink ek moet dalk minder praat en vir jou vra om my te wys hoe laat mens hierdie som klop? Ek wag.

Henri ·

Ek boer. Ek weet hoe werk die goed. Jy teken jou onderbroek weg wanneer jy enige skuld aangaan. Maar as jy nie betaal nie, geld die ou wet van Transvaal en jy het nie meer jou onderbroek om die eerste deel te vang nie…

Wie dink jy is naas die boere in elk geval die bangste vir die onteieningswet? Die banke of SARS?

En almal wat die spesifieke persoon ondersteun hier in die kommentaar dink sekerlik Markus Jooste is ook ingedoen…

Gaitsigubib ·

Markus het nie geld by die bank geskuld nie, maar by mense wat by hom bele het. Die verskil is dat die bank kolateral vra voor hul die geld aan jou leen. Mense bele op goedertrou en kry gewoonlik min of niks in die geval van verstek (defualt). Waarom jy die vergelyking maak en jou bes doen om die boer in n swak lig te stel, terwyl jy volgens jou self n boer is, weet ek nie.

Henri ·

Ek stel dit net dat ‘n saak meer as een kant het, en alle boere (Afrikaners) is nie engele nie. Dus, my verwysing na Markus Jooste.

Ek doen aansoek vir ‘n lening by ‘n bank en as die bank in my “belê” op my besigheidsplan, bly ek nog verantwoordelik vir my skuld. Reëls geld.

Lillian ·

so kry die regering hul kloue op ons boere se plase en onteien hulle sonder dat enige haan daaroor kraai

Andries ·

Betaal jou R80 miljoen skuld dan sal jy nie probleme gehad het nie.

sopbeen ·

Sy vrou ry seker ‘n VX Cruiser en hy ‘n dubble cab cruiser. Daar is baie sulke boere

Piet Snot ·

Klink my Mpho weet nie hoe ʼn groot plaasmaatskappy werk nie.

Henri ·

Boer jy? En het jy skuld? As jy nie betaal nie, geld die ou wet van Transvaal…

Papsak ·

TROTS OP JOU MNR VAN DER MERWE GAAN AAN WYS HULLE !!!!!!!!

ouma1 ·

Julle wat so lekker kommentaar lewer dat hy sy skuld moes betaal, weet seker nie van al die probleme wat hy dalk die hoof moes bied sodat hy ook vir sy familie kon voorsien nie. Hy het mos n alternatief voorgestel, maar dit is mos beter om met klippe te gooi, want die wat oordeel is volmaak. Daar was dalk onvoorsiene familie probleme ens. Hierdie is een manier om grond van boere af te vat sonder om te betaal. Wat as jy more in dieselfde posisie sit ??????

Danie ·

Boerdery is nie spelletjies nie.Sterkte aan almal wat sukkel.Met die goeie ondersteuning van ons die edele.!!!

Gaitsigubib ·

Dankie Danie, as dit nie vir die Here se ganade was nie dan weet ek nie wat sou word nie. Mense het geen genade nie en versommend genoeg verlekker hulle hul soms. Hul tekort aan kennis is groot, maar jy kan hul niks vertel nie.

Dries ·

Die las is R1.000 per hektaar. Ek weet nie wat grond daar werd is nie, maar dit sal kos om daardie skuld te diens uit boerdeey in daardie geweste. Ek reken die las is net te groot, veral met die verhoging in rentekoerse.

Oom ·

Met 40,000 skape (2ha per skaap) en ‘n lamkoers van 80% is dit moontlik om die skuld en rente terug te betaal. Die moeilikheid kom wanneer dit nie gereeld reën nie en die skape uit die winkel gevoer moet word. Saam met ‘n sjampanje-lewenstyl haal die moeilikheid jou gou in.

Oom ·

“…Van der Merwe se eiendomme, wat 80 000 ha tussen Vanwyksvlei en Fraserburg beslaan…”. Uit die berig is dit nie duidelik waar die eiendom geleë is nie. Carnavon is tussen Vanwyksvlei en Fraserburg geleë. Die afstand tussen die Vanwyksvlei en Fraserburg is “net” 215km. Het self 55/60 jaar gelede in Fraserburg en Carnavon gewoon.

Oom ·

Nie so seker dat hulle regtig die grond wil hê nie. Daar is weinig of geen grondeise in die Karoo nie. Min mense wil daar woon en nog minder kan daar ‘n suksesvolle boerdery bedryf. Hare op jou tande is nie eers genoeg nie.

Nico ·

Dit is hoe dit werk om die beste plase in die hande te kry, word weg gegee en dan verwoes, die mense het mos nie kennis van boerdery nie. Selfs die swart boere begin swaar kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.