Boer, buitelanders vas oor renosterhoring

Argieffoto

Vyf mense is in Mpumalanga vasgetrek vir die besit en verkoop van renosterhoring.

Kapt. Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van die Mpumalanga Valke het inligting oor verdagtes wat glo renosterhoring by ʼn boer in die omgewing aangekoop het opgevolg.

Die verdagtes se wit Lexus-voertuig is deur die Valke en die honde-eenheid voorgekeer en die horing van ʼn witrenoster is vasgemaak aan die onderplaat van die voertuig aangetref.

“Yansen Fenc en die 32-jarige Liu Li Hong is vasgetrek. Daar is ook ʼn glaspyp en Mandrax ter waarde van R24 000 in ʼn sneesdoekiehouer in hul besit gevind,” het Sekgotodi gesê.

Opvolgoperasies het tot die inhegtenisneming van nog drie verdagtes gelei: Jozeph Albertus du Plessis (71) en sy vrou, Susanna Johanna Du Plessis (55), wat vasgetrek is in Bainsvlei in Bloemfontein asook Deon Cornelius (46) by wie Fenc en Hong glo die horing gekoop het. Cornelius is ʼn wildboer in die Middelburg-omgewing.

“Cornelius het ʼn permit gehad om die horings te besit, maar nie om dit te verkoop nie.”

Die verdagtes het reeds in die hof verskyn.

Fenc is op R50 000 borgtog vrygelaat, maar is in huisarres geplaas. Du Plessis sowel as Cornelius is elk op R1 000 borgtog vrygelaat.

Hong bly in aanhouding omdat sy nie enige reisdokumente kon aanbied om te bewys dat sy wettig in die land is nie.

“Die Valke het tydens opvolgondersoeke olifantivoor in Hong se kamer in Mabopane in Pretoria aangetref. Sy sal gevolglik ook teregstaan op aanklagte van die onwettige besit van ivoor.”

Die saak is tot 25 Januarie uitgestel wanneer die verdagtes na verwagting sal pleit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish ·

Onwettige verkoop van wettige eiendom.
Eish!
Deurmekaar wetgewing met die vir en teen stemme vir die handel in die grote se eelte!

Rosie ·

Ongelooflik dat wanneer ‘n BOER by enige iets betrokke is, dit ALTYD in die opskrif genoem word, net om boere se name nog meer sleg te maak. Sien dat enige van die ander mense se beroepe genoem word nie??? Bv. “Boer” in hegtenis geneem of “Boer” skiet werker. Ander berigte sal slegs noem ‘n man of vrou dit of dat….

Geblokte ·

Altyd. Die media soek mos meer spanning in die land want dit maak meer stories. Dis soos n insleepdiens wat olie op die pad gooi en dan wag vir die ongeluk om te gebeur.

Daan ·

Dankie tog vir die beste Presedent in die wêreld soos DonaldTrump wat nie n langbroek is nie en die waarheid spreek soos dit is

JoeV ·

Jy is reg, vel kleur as dit wit is, is dit die trots van die media om dit swart te smeer, maar anders om is dit asvaal… word nie genoem nie.

Tammy ·

In die hele berig is dit die 71 jarige skurk wat my onmiddelik laat wonder het…. hy leef op geleende tyd, nou waarom doen hy sulke lelike dinge? Ag nee, hy moet liewers in die tronk gestop word sodat hy tyd het om te dink oor sy dade.

Cherokee ·

Hierdie berig het in herinnering geroep ‘n paar witmense wat klompie jare gelede verhoor is vir die slag van renosters. Ek onthou nie name nie maar wel dat dit plaaseienaar, vlieënier, veearts en meer mense was. Daar was vroue ook betrokke. Dit het lank gesloer en ek kan nie onthou wat daarvan geword het nie. Miskien was dit Warmbad. Indien iemand dit onthou en weet wat daarvan geword het, vertel asseblief.

Tessa ·

Jy is reg Cherokee! Was in 2010. As ek reg onthou was die bende van Pietersburg. Swanepoel lui ‘n klokkie….

Zulu ·

Dit was in 2010 veearts en sy vrou en die ander was van messina, hul was onskuldig bevinf

Cherokee ·

Tessa, omdat ek dink jy is reg met die jaartal 2010, het ek daaronder gegoogle. Het steeds nie die betrokke saak opgespoor nie maar die volgende verstommende sin raak gelees:
*
In 2011 a single rhino horn was valued at around $400,000, twice the value of the equivalent amount gold when it was at record highs.

Cherokee ·

Zulu, jy is reg met Messina. Dink (een van) hulle het daar ‘n plaas besit. Jy sê hulle is onskuldig bevind. Dankie vir die terugvoering.

Pieter ·

Hoekom is julle nie bang om n boer op die naam te noem maar doodbang om na die kleur swart te verwys??

Andre ·

As boere wette oortree sal die woord” boer” in die opskrif voorkom net soos wanneer dit ‘n onderwyser of tiener ens is. So moenie jou besig met kriminele aktiwiteite nie, dan bly jy outomaties uit die nuusopskrifte. Maklik ne. Want ‘n krimineel bly ‘n krimineel ongeag sy beroep, kleur of geslag.

Jacques venter ·

Hallo André
Jy het dit baie mooi en presies gestel

Daan ·

Ek stem nie saam ,sal julle dan sê as n verdagte by n plaas aanval swart is moet hy n moordenaar genoem word of n verdagte.Die woord boer of hy wit of swart is word gekonekteer met n wit persoon reg of verkeerd dit veroorsaak rasse spanning so my opinie of noem die ras beide wit of swart die beste opsie of verwys nėt na verdagtes

Vermeende ·

Hong word in aanhouding gehou omdat sy nie reisdokumente het nie en dus onwetig in die land is, is dit dan nou nie growe rassisme van die staat se kant af nie?
Uit watter wereld streek moet jy kom om onwettig te wees en uit watter wereld streek moet jy kom on net n ongedokumenteerde immegrant te wees volgens die wet.
Hoekom is almal uit Zim en Afrika nie ook dan in aanhouding nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.