Boer dood ná trekker bo-oor hom rol

Org en Albert Viljoen (Foto: Verskaf)

“As dit by boer kom, was my pa my held. Daar was nog so baie wat ek hom wou vra en wat ek by hom wou leer.”

Só sê Albert Viljoen (34) oor sy pa, Org Viljoen, wat Woensdag ten aanskoue van sy seun en plaaswerkers onder ʼn trekker op hulle plaas, De Liefde, buite Wolseley in die Wes-Kaap beland het.

Org (62) is dood nadat die trekker bo-oor hom gerol het terwyl hy ʼn dam op die plaas met ʼn damskrop skoongemaak het.

Albert, Org se enigste seun, het sowat ʼn jaar gelede plaas toe getrek om by sy pa oor te neem nadat hy aan aftrede begin dink het en sy verantwoordelikhede op die plaas afgeskaal het.

“Sy aftreewerkie, waarvoor hy baie lief was, was om te werk met plaaswerktuie. Dit is hoekom hy gewerk het met die trekker en die damskrop. Ons het ʼn hele paar damme wat water op die plaas opvang en hy het dit geniet om dié damme skoon te skraap,” het Albert aan Maroela Media vertel.

Albert verduidelik dat die grond wat sy pa uit dié damme skraap, dan op die damwal gegooi word.

“Hy het ons die middag kom haal om hom te help om die damskrop te skuif sodat hy agteruit teen die damwal kon beweeg met die trekker. Soos hy agteruit gekom het met die los grond [op die wal], het die trekker egter begin gly. Die agterwiel het vasgesteek op die vaste grond en toe omgedop tot op sy dak. Die trekker het letterlik 180 grade omgerol,” verduidelik Albert.

Die yslike voertuig het in die proses bo-oor Org gerol en hy het onder die agterwiel van die trekker beland. Albert en die werkers het hom te hulp gesnel en inderhaas probeer om die trekker op te lig. Dié voertuig het egter teen ʼn opdraand van die wal te lande gekom. “Ons wou die trekker oplig om my pa net onder die wiel uit te kry, maar só ʼn trekker weeg ʼn paar ton. Ons het alles gedoen wat ons kon, maar dit was onmoontlik om die trekker op te lig.”

Org Viljoen (Foto: Verskaf)

Die Viljoens se buurman is noodgedwonge ontbied om die trekker sowat 15 minute later met ʼn ander trekker op te lig, maar dit was reeds te laat. “Al kon ons die trekker oplig, was die gewig op my pa nét te veel.”

Albert vertel dat dit nog onwerklik voel. “Dit het so vinnig gebeur. Agterna dink ʼn mens heeltyd wat jy anders kon doen om hom te red.”

Org het sy lewe lank op die plaas geboer, vertel sy seun. “Dit is wat hy geken het. Die plaas was sy alles. Hy het nooit met vakansie gegaan nie. Hy het net altyd op die plaas gebly,” sê Albert met ʼn effense hartseer laggie by die herinneringe aan sy pa.

“Ek sal hom onthou vir die bitter goeie boer wat hy was. Ons het eintlik ʼn klein plasie en die ouens sukkel vandag om ʼn bestaan te maak as plase nie groot genoeg is nie. Hy het baie goed gevaar met wat hy gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Abel ·

Shoe wat ñ tragiese verhaal, kan net dink hoe hulle moes voel terwyl hulle so hulpeloos was.

Sterkte en liefde vir sy geliefdes, riv oom!

christine ·

Sterkte aan jou en familie verskriklik om so iets te beleef en jy niks kan doen.

Rencia ·

Dis verskriklik tragies en hartseer. Sterkte aan die familie in hierdie hartseertyd.

Nadene ·

Ek het my pa ook so verloor, hy was besig gewees om pad te maak toe die trekker omslaan en bo op hom geland het. Niemand kon niks doen nie. Ek verstroos my net daaraan dat voor hy gegaan het, was hy besig om te doen wat hy geniet. Baie sterkte aan die familie!!

Philip ·

Ai tog so tragies. Sterkte aan die familie en mag die Here hulle toos in hierdie oomblik van verlies.

Beanie ·

Ai, hoe hartseer om dit nou vanoggend te lees. Alle sterkte aan Oom Org se familie en die wat vir hom lief was…rus un vrede oom Org

Dries ·

Tragies. Sterkte vir julle. Klink of hy n ryk lewe gehad het.

Tina du Toit ·

Dit is verskriklik hartseer. Ek bid vir julle in hierdie hartseer tyd. Mag God berusting bring en jou pappie in vrede rus. Sterkte

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan Albert en aan die familie… dit is tragies wat gebeur het. Sterkte aan jul in die tyd van hartseer.

Maria ·

My hoendervleis gee Here het ALbert voorberei geweet Org tyd min.
Nou is die plaas in goeie hande geplaas Albert. Van: Pa Org :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.