Boer en sy vrou in veld aangehou

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Maroela Media)

Pieter Sofianos (58), ’n boer van Barberton in Mpumalanga, het Dinsdag met alle mag baklei om aan die lewe te bly toe hy gewurg is deur vier mans wat hom op sy plaas oorval en aangerand het.

Sofianos se hande en voete is vasgebind, hy is geblinddoek en vir sowat vyf uur in die veld aangehou. Die aanvallers het later sy vrou óók na die veld laat kom en haar vasgebind.

“Ek kon net hoop hulle maak my nie dood nie,” vertel Sofianos aan Maroela Media.

Sofianos het omstreeks 13:00 sy bokke uitgevat veld toe. Hy het op sy vierwielmotorfiets stadig agter die bokke aangery.

Vier mans wat in nabygeleë bosse weggekruip het, het Sofianos van agter gegryp en van die motorfiets afgeruk.

“Hulle het my hande en voete vasgebind en ’n ding oor my kop getrek. Hulle het my na ’n boom gevat en daar sowat vyf uur lank aangehou.”

Volgens Sofianos het die mans klapmusse gedra en was met pangas en ’n mes gewapen. Hulle het geld van hom geëis.

“Ek het vir hulle gesê as hulle my huis toe vat, sal ek vir hulle kontant kan gee. Hulle wou dit egter nie doen nie.”

Die aanvallers het toe vir Sofianos aangesê om sy vrou, Marietjie (57), wat pas van die winkel tuisgekom het, te bel om al die geld in die huis na die veld te bring.

“Sou sy die polisie bel, sou hulle my doodmaak.”

Die mans het sy selfoon na Sofianos uitgehou en hy het sy vrou gebel.

“Ek het in Afrikaans gepraat, maar hulle het die foon weggeruk en gesê ek moet Engels praat sodat hulle ook kan verstaan.”

Die mans het ’n ruk later weer vir Marietjie gekontak en vir haar beduie waar hulle is.

“Sy het ’n ruk later daar aangekom en die mans het die geld gevat en haar toe ook vasgebind en geblinddoek. Hulle het ons fone gevat.”

Daarna is drie van die mans na die plaashuis, terwyl een oor die egpaar gewaak het. In die plaashuis het die mans onder meer vuurwapens, televisiestelle, luidsprekers, kruideniersware en juwele gebuit.

“Die drie mans het ’n ruk later teruggekom en ons losgemaak, ons fone vir ons teruggegee en weer laat spaander.”

Dit was toe reeds omstreeks 18:00.

Die egpaar is terug na die plaashuis waar hulle hul seun, Pieter jr., wat in Barberton bly, gebel het. Hy het toe die polisie gebel.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, is een van die verdagtes dieselfde aand nog vasgetrek. Die ander drie is nog op vrye voet.

Sofianos is ná die voorval na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar hy behandel is vir sy beserings.

“My ribbes is gekraak en ek sukkel om te eet weens die beserings aan my lugpyp wat deur die verwurging veroorsaak is. Ek het ook ʼn paar merke op my voorkop.”

Marietjie het ongedeerd van die voorval afgekom.

Die egpaar is erg getraumatiseerdeur die aanval , wat op hul “aftreeplaas” plaasgevind het.

Sofianos sê die moeilikheid het reeds begin toe van sy vee verlede maand op sy plaas begin verdwyn het.

“Altesaam 11 varke en sewe bokke is die afgelope maand gesteel. Daarom het ek saam met die bokke in die veld beweeg om seker te maak hulle is veilig.”

Volgens Sofianos het hy die veediefstalvoorvalle by die polisie aangemeld, maar daar het dadels van gekom.

“Ons boere word genoop om na onsself om te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

SKUIM van die aarde – Glo vas die EFF sit agter al hierdie aanvalle op kleinhoewes en plase. Wil boere van die plase afdwing. Hoop hulle vang die ander ook, maak die 1 praat wat gevang is

R1ker ·

Dit en die plase wat so aan die brand gesteek word ook. Ek glo dis alles EFF

De Villiers ·

Hulle sal my maar moet dood kap en steek, maar ek gaan baklei tot die dood!

Pietertjie ·

Lees maar tussen die lyne: diegene wat die probleem geskep het, kan nie (of sal nie) ‘n oplossing daarvoor kry nie. Hoe gouer ons mense besef dat ons op onsself aangewese is, hoe beter.

Danie ·

Die verdagtes het terugekom en hul fone teruggegee en losgemaak???? Ek wil niks verder hoor nie.Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.