Boer geopereer ná kleinhoewe-aanval

Mike Botha is op 2 September 2017 op ‘n kleinhoewe buite Witbank aangeval. Foto: Verskaf

Mike Botha, die groenteboer van Mpumalanga wat Saterdag met ʼn pik op ʼn kleinhoewe buite Emalahleni (Witbank) aangeval is, sal Maandag geopereer word om die skade aan sy regterbeen te herstel.

Willem Botha, Mike se broer, het aan Maroela Media gesê Mike word steeds in ʼn hospitaal in Johannesburg behandel. “Die tibia en fibula in sy regterbeen is gebreek. Hy het baie erge pyn, maar sy gemoed is positief. Hy het nog altyd ʼn goeie sin vir humor gehad, so selfs nou slaag hy daarin om hier en daar vir iemand te glimlag,” het hy gesê.

Willem het gesê nadat Mike Saterdag aangeval is, het die inligting oor die gebeure vinnig deur die gemeenskap versprei. Hy kon egter Sondag die ware gebeure met Mike bevestig. “Baie van die inligting was soos ek dit maar van mense af ontvang het, maar Mike kon Sondag verduidelik hoe hy die gebeure onthou,” het Willem gesê.

“Dit was net een werker wat hom aangeval het en nie twee soos ons aanvanklik gedink het nie. Die werker, net bekend as Moses, het hom Saterdagoggend kom wakker klop en vir hom gesê hy moet kom help, want daar is ʼn slang naby sy [Moses se] huis. Mike het opgestaan en uitgestap na die hoop grond waar die slang glo skuil. Toe hy buk om te kyk waar die slang is, het die eerste hou met die pik hom van agter af getref.”

Willem het gesê die hou op Mike se been het hom onmiddellik inmekaar laat sak en die aanvaller het aangehou om hom aan te rand. Mike het ook kneuswonde op sy voorkop en snywonde aan sy hande opgedoen. Die aanvaller het Mike daarna in sy woonkwartiere ingesleep waar hy hom vasgebind en in die huisie toegesluit het.

Mike Botha in die hospitaal. Foto: Verskaf

Hy het daarna glo van sy makkers gebel en aan hulle verduidelik hoe om by die kleinhoewe uit te kom. “Mike kon hoor hoe hy op die foon met mense praat en aan hulle die pad na die kleinhoewe verduidelik. Mike se bakkie is ook gesteel en dié man kan glad nie bestuur nie, so hy moes iemand kry om hom te kom help,” het Willem gesê.

Hy het gesê Mike se vriend en die vriend se dogter was ook nie by hom ten tyde van die aanval soos vroeër berig nie, maar het eers later by die kleinhoewe opgedaag. “Ek dink Mike het in ʼn stadium sy bewussyn verloor en later weer bygekom. Hy het wakker geword en gehoor hoe ʼn voertuig stilhou en ʼn dogtertjie se stem gehoor. Toe het hy besef dat dit sy vriend is wat daar aangekom het en hy het vir hulle geskree dat die aanvallers nog in die huis is,” het hy gesê.

Die vriend het sy dogtertjie gegryp en na die bure gehardloop om hulle te vra om hulp te ontbied, voordat hy teruggegaan het om Mike te help. “Ek is nie seker of die boosdoeners gevlug het toe Mike se vriend daar aankom en of hulle toe reeds weg was nie, maar hy het niemand in die huis gekry nie,” het Willem gesê.

Mike is die middag per helikopter na die hospitaal in Johannesburg geneem. “Ons was gister by hom en sy dogter is ook by hom in die hospitaal, so in die omstandighede gaan dit goed met hom. Hy het net baie erg pyn,” het Willem gesê.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê sake van voertuigdiefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek. Maroela Media wag op terugvoer oor die vordering van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Estelle ·

Die onderskrif by die eerste foto moet seker lees 2 September 2017 en nie 2016 nie?

Dalene de Vente ·

Dagsê Zhara

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

Franz ·

O so,nie poging tot moord nie soos die ander twee met die doodskis saak nie,nou toe nou.

Marisa ·

Nou ja toe. Die wetteloosheid en rasisme in die land is skrikwekkend.

piper ·

as die boer nou sy werknemer so aangerand het was toegesluit sonder n borg in sig. die werknemer sou gratis hospitaalbehandeling ontvang en die plaaslike bevolking het die plaas af gebrand winkels gelplunder het en voertuie uitgebrand het.

Annie ·

So is die beskuldige al gevang of nie?? En waarvoor word hy alles aangekla – diefstal, inbraak, poging tot moord ??????? of gaan hy soos al die ander nie gevang word nie en altyd vry loop.
Maar as dit ‘n blanke was was hy al agter tralies, geen borg. Maar nou is hy nie blank nie ek kan doen net wat hy lus het.

Schweinebraten ·

Aanranding met die doel om ernstig te beseer? Die man veg om sy lewe in die hospitaal! Dit terwyl die doodskisouens skuldig bevind is aan poging tot moord deur ‘n s.g. ompartydige hof, terwyl daardie slagoffer skaars ‘n skrapie opgedoen het. Kan die joernalis by Brig. Hlati uitvind hoekom poging tot moord nie in hierdie geval ondersoek word nie en sy kommentaar vir ons gee???

Chris Ws ·

Sterkte aan mnr Botha.Mag hy gou volkome herstel.’n Foto van ene Moses moes al vrygestel gewees het asn die media sodat hy gou opgespoor kan word.Hopelik weier hy om vreedsaam oor te gee . . . . .

Deon ·

Oumao, lekker lag ek nou….. kan kommentaar lewer op jou vraag, maar ken ons almal die antwoord. Die liedjie waar hul sing van “things will only get better” daai liedjie skrywer nie van hier. Hier sal dit gewysig moet word na “things will only get worse day by day”

AL ·

Sterkte aan die boer. Gierigheid en grypsug – Mag God hierdie land red van sy skewe weë.

Dankbaar ·

Mike ..so dankbaar jou lewe is gespaar vir al jou geliefdes ..dankie, Vader Genees alles liggaam siel en gees…help ons met vergifnis ..en om net U te Vertrou..asb skenk ons U Krag vir die lewe sodat ons humor kan behou en die Liefde vir U onbeskryflik groei.

Anna Botha - Moederhart ·

Wonder of boewe, moordenaars en diewe totaal gewetenloos is? Ja, Mike is my seun. Hardwerkend, regverdig, netjies,’n gesonde humorsin….’n man wat in sy 45 lewensjare nog altyd sy ma met respek behandel het.
Wonder of die boewe hoegenaamd hulleself kan indink in die geweldige hartseer en trauma van ons familie en vriendekring?
Wens ek kon verstaan hoekom monsters soos Mike se aanvaller(s) werd is om ons mooie Suid Afrika stukkie vir stukkie te verwoes . In die proses verwoes hulle oa hul eie voedsel deur ons land se boere een vir een aan te val en te vermink, te besteel en te vermoor!!!!
Ons bid dat Mike spoedig sal herstel sodat hy oa sy 2 kleinkindertjies kan sien grootword.

Leahim ·

Kom ek stel dit dan so hoe maklik om n boer in sy agtererf pak slae te gee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.