Boer gevonnis wat renosterhoring sonder permit verkoop

Die horing waarop die Valke beslag gelê het. (Foto: Valke)

ʼn Boer van Mpumalanga is drie jaar tronkstraf of ʼn boete van R10 000 opgelê nadat die Middelburg-streekhof hom daaraan skuldig bevind het dat hy vyf van sy wettige renosterhorings sonder ʼn permit verkoop het.

Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê Deon Cornelius (48), ʼn bekende boer in die streek, moet ook ʼn bykomende boete van R50 000 aan die Mpumalanga-parkeraad betaal.

Genl.maj. Zodwa Mokoena, die Valke se provinsiale hoof, het die ondersoekspan en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir hul werk geloof. “Ons glo dit gaan ʼn les wees vir ander wat wildlewe-verwante misdade pleeg dat hul dae getel is.”

Cornelius is in 2018 reeds by die ondersoek betrek nadat die Valke in Mpumalanga inligting opgevolg het oor ʼn verdagte van Gauteng wat renosterhorings by Cornelius koop sonder dat hy permit het om dit te koop of te vervoer.

Die Valke en lede van die polisie se honde-eenheid het ʼn perseel dopgehou waar dié verdagte glo sou opdaag. In die vroeë oggendure van 5 Januarie 2018 het die polisie toegeslaan, die voertuig deursoek en die horing van ʼn witrenoster wat met kabelbinders aan die onderstel van die voertuig vasgemaak is, gevind. Dit was nagenoeg R175 000 werd.

ʼn Kontantbedrag van R699 129 is ook gevind en twee Chinese burgers, Yansen Feng en Lui Li Hong, is in hegtenis geneem.

Sowat ʼn week later is nog twee betrokkenes, Joseph Albertus du Plessis en Susanna Johanna du Plessis, in Bloemfontein as deel van dieselfde ondersoek in hegtenis geneem.

Deon Cornelius. (Foto: Valke)

Cornelius se inhegtenisneming het kort daarna gevolg en hy is aangekla vir oortreding van natuurbewaringswetgewing omdat hy die horings sonder ʼn permit verkoop het. Hy is Maandag gevonnis.

Die twee Du Plessis-verdagtes is aangekla van die onwettige handel in ʼn bedreigde spesie en is twee jaar gelede al gevonnis tot ʼn boete van R20 000 of tronkstraf van twee jaar.

Die saak teen Feng is ook in 2018 reeds afgehandel. Hy is aangekla van die onwettige handel van ʼn bedreigde spesie en is ʼn boete van R60 000 of ses maande tronkstraf opgelê. ʼn Verdere 18 maande tronkstraf is vir vyf jaar opgeskort. Hy moes ook R1 miljoen aan ʼn renosterbewaringsorganisasie betaal. Hong is aangekla vir die onwettige besit van ivoor, die onwettige besit van dwelms en onwettige immigrasie. Sy is ʼn boete van R60 000 of twee jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Androclus ·

Betaal sommer daarie ou boetejie met jou renosterhoring geld,wat bang.

Androclus ·

Hy betaal dit sommer met sy geld wat hy gemaak het met sy horings.wat bang.

Pieter ·

Die boetes kan maklik betaal word uit die opbrengs van renosterhoringverkope. Met so ‘n straf moedig die gereg onwettige handel aan, solank hulle net ‘n sny van die koek kry en dan is hulle gelukkig. So werk Seksie 24 (g) van NEMA ook. Betaal as jy droogmaak. Na jy betaal het, gaan voort met magtiging van die Departement.

Annatjie ·

Ek verstaan die berig nie “sy wettige renosterhorings” Het hy die renosters se horings afgesny en verkoop of het hy die diere doodgemaak vir hulle horings?

Aai ·

Annatjie ek stem hy het niks verkeerd gedoen behalwe dat hy nie ‘n permit gehad het dit is sy renosters so of hy haal dit af of die kriminele kom maak hulle dood en verwyder dit onwettig.

agnes ·

Wat n skande vir ons nasie, hoe laag kan n mens daal. Verwag nie soiets van ons eie mense nie.

Tanja ·

Dis mos nou ń grap van ń vonnis, sal baie swaarder moet straf as ons erenstig is oor renoster stroopery

Realis Thailand ·

Die man se lewe word moeilik gemaak oor wettige horings aan sjinese maar waar is al die mense wie vir stropery aangekeer word se vonnisse al publiseer.
Dis die mense wie hulle aandag aan moet gee
Mense moet reverdige kritiek lewer en ek kan die man van geen kant af nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.