Boer huil in landerye: ‘Ons stuur af op ʼn ramp’

Sommige boere het Dinsdag tot meer as 100 mm reënval op hul plase gehad, terwyl die weerdiens nóg reën vir die volgende paar dae voorspel. (Foto: Verskaf)

Duisende hektaar plaasgrond en aanplantings in die Vrystaat is reeds deur hael-, versuip- en vloedskade verwoes, terwyl talle boere sidder om te dink wat nog oor die volgende vier maande vir hulle voorlê.

“Ons stuur af op ʼn ramp. Hier is boere wat reeds alles verloor het. Ek het self een van my plase weens haelskade heeltemal verloor. Ons het hael gehad wat jy nog nie vantevore gesien het nie,” het Janes Barnard, ʼn boer van die Hoopstad-omgewing, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Hy sê dat boere van onder meer Hoopstad, Heilbron, Bultfontein, Wesselsbron, Bothaville, Viljoenskroon, Kroonstad en selfs Theunissen en Parys veral Dinsdag erge skade gely het en dat ʼn misoes talle van hulle in die gesig staar.

Sommige boere het Dinsdag tot meer as 100 mm reënval op hul plase gehad, terwyl die weerdiens nóg reën vir die volgende paar dae voorspel.

Sommige boere het Dinsdag tot meer as 100 mm reënval op hul plase gehad, terwyl die weerdiens nóg reën vir die volgende paar dae voorspel. (Foto: Verskaf)

“Dis nou eers Januarie. Wat my bekommer, is dat ons reënmaande nog tot April duur. Dié plase wat tot dusver oorleef het en potensiaal toon, kan deur een só ʼn reënbui soos gister tot niet gaan.

“Hier is groot moeilikheid. Ek dink nie mense besef die omvang van dít wat aan die gebeur is nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat mielies op talle gebiede in die water staan en dat koring op sommige plekke nog nie gestroop kon word nie. Boonop is die gradering weens die aanhoudende reën swak.

Dít nadat die afgelope seisoen volgens Barnard “die mooiste koringoes” opgelewer het.

“Daar is koring wat aan die begin van Desember gestroop moes word, maar weens die reën kon dit nie gedoen word nie. Nou is daai koring tot niet.”

Sonneblomaanplantings is ook in sommige gebiede agter, terwyl plantjies in ander erg beskadig is. Intussen probeer boere wat suikerbone plant nog in sopnat lande inkom terwyl grootskaalse versuipskade in ander gebiede aangemeld is.

Jare laas ʼn “normale oes”

Barnard sê boere in die omgewing het in 2014 laas ʼn “normale, ordentlike oes” gehad. Van toe af probeer boere net oorleef, sê hy.

Skade op Hennie Roos se plaas. (Foto: Verskaf)

“Ná 2014 was daar vyf jaar lank droogtes met niks reën nie. Nou sit ons weer met dié toestande.

“Afgesien daarvan dat die lande groen is weens al die reën en die diere kos het, ly ons groot skade weens die nat toestande. Mense sê altyd ʼn nat misoes is beter as ʼn droë misoes, maar vir my is die finansiële skade weens ʼn nat misoes erger. Jou insette is hoog, terwyl jy min tot niks terugkry nie.”

Barnard sê boere het vanjaar boonop baie meer uitgawes gehad – nie net om vir die afgelope jare se droogtes op te maak nie, maar ook omdat aankooppryse op ander terreine, waaronder die pryse van kunsmis en gifstowwe, drasties verhoog het.

“ʼn Misoes vind nie net plaas as jy niks kan stroop nie. Nee, ʼn misoes vind plaas die oomblik dat ek nie my koste wat ek aangegaan het, kan verhaal nie. Al stroop ek iets, maar dit dek nie my onkoste nie, het ek ʼn misoes.

“Hoe gaan ons dit oorleef? My hart is seer vanoggend. Ek het in daai lande gestaan en huil,” het hy Woensdag gesê.

Groot skade

Skade op Hennie Roos se plaas. (Foto: Verskaf)

Hennie Roos, nog ʼn boer van dié omgewing, sê sowat 1 200 ha gesaaides op sy grond is deur hael weggeslaan.

“Ons het baie skade met gister [Dinsdag] se reën gekry. Ons het in ʼn baie kort tydjie 110 mm reën gehad en baie, baie hael. Minstens ʼn derde van ons aanplantings is weggeslaan.”

Roos sê hy weet van ander plase waar alles deur die hael vernietig is.

“Verder staan die lande onder water. Ons het baie moeilikheid hier by ons en ons is maar bekommerd. ʼn Ou weet nie regtig hoe nou gemaak nie, want daar is nie eintlik nou ʼn oes nie. Die jaar gaan maar lank word, maar ons hoop ons gaan weer kan plant om op te maak vir die skade wat nou gely is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Robert

Aaai, om te boer is nie maklik nie.

Bosveldbul73

My hart bloei vir ons boere. Janes Barnard na wie hier verwys word, was saam met my in die Valskerm Bataljon in 1992…dus beslis nie ‘n man wat sommer net vir niks sal huil nie. Alle sterkte aan almal wat skade gely het – julle is in ons gebede.

JL

Net ‘n boer of boervrou kan regtig hierdie tipe skade verstaan. Daar word so maklik gesê “”n Boer is nooit tevrede nie”. Dit strek vêr wyer as nie tevrede nie. Ons bid vir ons mede boere.

Diline

So jammer vir hierdie boere. Ons moet net vasstaan in die geloof en bid dat ons Hemelse Vader wel ‘n uitweg sal bring. Dis menslik om moed te verloor, hou julle in ons gebede.

Wicus

1966. Dis droog. Die dorpenaars het waterbeperkings. Ons breek sagte wilgertakkies af vir die diere. Pa plant in geloof mielies in die dro-e kluite. Toe kom re-en dit, die mielies versuip. Ek onthou soos gister, ons staan op die stoep en dit val emmers, Pa s-e hy weet nou nie wat is erger is, droogte of oorstromings. Die mielies versuip. Dis te laat om oor te plant en Pa plant bokwiet. ‘n Wilde mosterd kom tussen dit op en die Jood op die dorp stel nie belang in die besmette oes nie. Pa pak die sakke bokwiet op die stoep… Lees meer »