Boer in hospitaal ná veldbrand

Gert Nieuwenhuizen en sy vrou, Beverley. (Foto: Verskaf)

“Toe draai die wind en die vlamme kom op my af – so hoog soos wat ek is.”

Só vertel ’n 73-jarige boer van Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo vanuit sy hospitaalbed nadat hy onlangs ernstige brandwonde opgedoen het in ʼn poging om ʼn veldbrand te blus. Dié brand is vermoedelik deur kwaaddoeners gestig.

Gert Nieuwenhuizen word die afgelope tien dae in ’n private hospitaal in Polokwane behandel nadat sy veld buite Mookgophong verlede Sondag vermoedelik aan die brand gesteek is.

Nieuwenhuizen vertel aan Maroela Media hy was reeds agterdogtig toe hy en sy vrou die betrokke dag op pad terug van die dorp af verby twee mans gery het. Die egpaar is nietemin huis toe waarna Theo Coetzee, ’n plaasvoorman van ’n ander plaas in die omgewing, kort daarna by hulle aangekom het om te laat weet dat die veld brand.

“My beeste loop daar en die gras is hoog…”

Hy vertel dat hy dadelik sy plaaswerkers ontbied het terwyl die boere van die buurplase ook gekom het om hand by te sit. Die vlamme kon plek-plek geblus word.

Gert Nieuwenhuizen (73) in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ek het deur die land gery tot in ’n hoek. Die draad is daar stukkend. Ek wou deur die draad klim om die waterpomp aan te skakel.” Dis tóé dat die wind draai en die vlamme in sy rigting beweeg het.

Nieuwenhuizen kon in ’n stadium sien en voel dat die velle op albei sy bene af is.

“Die enigste ding wat ek toe kon dink om te doen is om op die grond te val en [uit die vlamme] te rol. Ek het probeer om op my hande en knieë uit te kruip. Coetzee het my gesien en my onder my arms opgetel en op die sementblok van die waterpomp neergesit.”

Hy vertel dat hy in dié stadium baie pyn gehad het.

’n Ander buurman, Dries Jooste, het Nieuwenhuizen se bakkie nader gebring en hy is in dié bakkie gelaai en eers terug huis toe, sowat 1,5 km daarvandaan, geneem. Nieuwenhuizen is later na die hospitaal vervoer waar sy wonde die volgende dag in die teater skoongemaak en behandel is. Dié behandeling het vier uur lank geduur.

“My regterarm se velle is van my elmboog tot by my pinkie af. Al die vingers op my linkerhand het vanaf die eerste lit groot waterblase gehad.”

Albei Nieuwenhuizen se bene het ook van sy knieë tot by sy voete gebrand.

Ondanks pynmedikasie verkeer Nieuwenhuizen steeds in geweldig baie pyn, veral wanneer sy verbande geruil word. Hy is reeds aan die beweeg, maar het nog ’n lang herstelpad wat voorlê.

Nieuwenhuizen se vee is ongedeerd ná die veldbrand. Sowat 20 ha se weiding het wel afgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ovelia ·

Die boer mag di brandstigter doodskiet want dan ht hy sy eiendom beskerm wt van hom weggevat is deur die brand

Misky ·

As hierdie storie nie getuig van ‘n ware boer se liefde vir sy plaas en vee (weiding vir diere beskerm) nie, dan weet ek nie wat sal ander oortuig nie. Boere het alreeds so baie beproewinge en dan gebeur sulke dinge. Sterkte vir die oom en glo hy sal vinnig herstel

Althes ·

Sterkte en spoedige herstel.
Ek wens die siek mentaliteit wil verander deur mense wat kwaadwillig ñ brand stig.

Anoniem ·

Ai, wat nog. Sterkte met die herstel. Wens net ‘n mens kan op sulke boosdoeners af kom en hul in eie munt terugbetaal. Wonder of hy ooit die pyn sal ervaar .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.