Boer in rolstoel op KZN-plaas vermoor

(Argieffoto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Hy was in ʼn rolstoel. Dit is boosheid.”

Só het Alf Lees Sondag die moord op Neil McKay, ʼn KwaZulu-Natalse boer, die afgelope naweek beskryf. Lees is die DA se kiesafdelingshoof in Uthukela en woon in dié omgewing.

Lees sê McKay (46) was vroeg Vrydagaand in die kantoor op sy plaas in die Winterton-omgewing saam met die plaasbestuurder doenig, waarna die bestuurder en die res van die werkers huiswaarts is.

McKay het alleen agtergebly.

“Dit lyk of die aanvallers daarna toegeslaan het,” sê Lees. “Hulle moes hom dopgehou en gewag het.”

Volgens Lees is die kluis in die kantoor geplunder. Daar was moontlik kontant in van die pluimvee wat McKay van die plaas verkoop het.

“Hy sou hom nie teëgesit het nie en daar was geen tekens dat hy het nie. Om die een of ander rede het [die aanvallers] hom daarna oënskynlik in die huis ingeneem en die honde moes hulle bestorm het.”

Lees sê die aanvallers moes na iets gesoek het, moontlik ʼn vuurwapenkluis wat McKay nie besit het nie. Sy selfoon was onaangeraak.

Volgens Lees het McKay se huishoudster Saterdagoggend by die huis aangekom. McKay se kamerdeur was toegetrek en die vrou het glo aangeneem hy slaap nog en het met haar take aangegaan.

McKay se ma, Bev, woon elders en het omstreeks 10:00 op die plaas aangekom en na McKay gevra.

Die huiswerker het gesê hy slaap nog en Bev McKay is na McKay se kamer om na hom te soek. Sy het daar op haar kind se liggaam afgekom, sê Lees.

McKay se hande was vasgebind en hy is vermoedelik in sy rolstoel verwurg.

“Dit is verskriklik, regtig verskriklik,” sê Lees.

“Hoekom sou jy ʼn man in ʼn rolstoel vermoor? ʼn Man in ʼn rolstoel wat nie net ongewapen was nie, maar ook fisiek nie in staat was om homself te beskerm nie.

“ʼn Mens het nie woorde nie. Ons weet hierdie goed gebeur, maar ons sien nie vervolgings nie. Dit is swart en wit boere. Hierdie aanvalle het in ʼn rassekwessie verander en dit is nie wat dit is nie.”

Volgens Lees is McKay jare gelede in ʼn ander plaasaanval gewond. Hy het destyds vir ʼn ander boer in die omgewing gewerk, toe hy deur ʼn deur geskiet en in ʼn rolstoel gelaat is. Lees sê dit lyk boonop ook nie of enigiemand destyds vir dié voorval geboet het nie.

Neil se pa, Fred, het ná die destydse aanval alles op die familie se eie plaas aangepas sodat Neil verder kan boer – in sy rolstoel. Hy doen dit al jare lank uiters suksesvol.

“Neil McKay was ʼn saggeaarde, vriendelike en vredeliewende man wat klaarblyklik geweier het om ʼn vuurwapen te dra, ten spyte van die feit dat hy alleen op ʼn plaas gewoon het waar sy nou oorlede pa alles moontlik gedoen het om dit vir sy geliefde seun moontlik te maak om uit ʼn rolstoel te boer.

“Mense wat ʼn weerlose man vermoor, is ʼn gevaar vir die hele samelewing. Hulle moet opgespoor en sonder versuim toegesluit word – voor hulle weer moor.”

Lees sê McKay se honde het hul bes probeer om hul eienaar te beskerm. Die diere is beseer, maar indien gekyk word na die groot hoeveelheid bloed op die toneel, het hulle vermoedelik van die aanvallers gebyt. Die honde het oorleef.

Hy sê die polisie moet hul werk nou doen en ʼn deeglike forensiese ondersoek van stapel stuur om DNS- en ander bewysstukke op die toneel in te samel sodat McKay se moordenaars vervolg kan word.

“Die DA betuig sy diepste medelye met Neil se ma wat op sy plaas aangekom het, net om haar seun vermoor in sy slaapkamer aan te tref. Dit is onmoontlik om die skok en hartseer wat mev. McKay moes voel, te begryp en vir die res van haar lewe sal voel.

“Mev. McKay moes deurmaak hoe haar seun twee keer aangeval word; die tweede keer vermoor deur mense wat nie enige plek in ons samelewing verdien anders as in ʼn maksimumveiligheid-tronk nie.”

Lees sê die DA gaan ook antwoorde by die minister van polisie, Bheki Cele, eis oor die versuim om enige aanvallers in die eerste aanval aan te kla en te vervolg.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê die Winterton-polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Geen inhegtenisnemings is tot dusver gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Persheks Adri ·

Nóg ‘n sinnelose moord magtag man! Innige simpatie met die familie en vriende.

Groot hoed gaan NIKS doen nie pffft seker net die tannie besoek gggmmmfff pateties. Die vorige aanval is nou nog nie op gelos nie so die polisie bly in elk geval net lus useless!!!

Tiptol ·

Nee, en moenie skuldig voel daaroor nie. Daarom God ons ‘n gesonde verstand gegee.

Anel ·

En in ‘n voorige berig waar 2 doodgeskiet is, is 4 klaar verhoor, veroordeel en toegesluit. Sterkte aan hierdie ma. Hoop geregtigheid sal seëvier.

Korrelkop ·

Dis nou te sê AS hulle nie kop in een mus met die boewe is nie

Daleen ·

Gewetenlose LAFAARDS! Kan nie wag vir die dag wat julle verantwoording gaan doen nie. GOD slaap nie. My innige simpatie aan die familie en vriende.

FM ·

Maksimumgevangenis waar hul op jou en my koste soos babas gepamperlang word??

Ek het ‘n ander voorstel……

SomeOne ·

jammer om te verneem en sterkte aan naas bestaandes,
die: “deeglike forensiese ondersoek van stapel stuur om DNS- en ander bewysstukke op die toneel in ” kan en sal nie gebeur nie want die eenheid is 10jaar agterstallig met hul antwoorde

Werner ·

Hulle het die boer maar net vreetsaam kom vra vir geld.Dit is hoe hulle ons boere benader vreetsaam al kos dit ons lewens.Ons moet dit tog net nie durf waag om onsself te beskerm nie hoor.Dit is hoe die groot wonderwerk van FW en veraaiers werk.

Nikki ·

Groot hoeveelheid bloed op toneel en die huiswerker merk niks? Baie ontoplettend.

Jeeper ·

Lees die berig pompies.
Lees sê McKay se honde het hul bes probeer om hul eienaar te beskerm. Die diere is beseer, maar indien gekyk word na die groot hoeveelheid bloed op die toneel, het hulle vermoedelik van die aanvallers gebyt. Die honde het oorleef.””

AH ·

Dit kom vir my ook maar verdag voor – dat die huishulp nie die bloed en die gewonde honde opgelet het nie. Tien teen een kop in een mus met die moordenaars.

Johan D ·

Ek lees nie hier van dieselfde optrede as in die geval van die skietdood van twee mense op ʼn plaas waar die boer gearresteer is nie!
Gaan die polisie nie in hierdie geval die daad veroordeel, mense tot kalmte aanmaan en ʼn span van kenners aanstel om die sinnelose moord te ondersoek nie?
Is daar dalk rasse verskille in die twee gevalle se daders en slagoffers dat die optrede verskillend is?

Samuel ·

Ek is stomgeslaan! Wat ‘n sinnelose moord. Ek bid die familie sterkte en God’s vrede toe.

Hoekom ·

Tussen die berig en die ander waar ons mense gearresteer word vir self verdediging, is ons op ons eie gelaat. Berei julself voor vir die onvermydelike…

Jakes ·

Ek is sprakeloos. Innige simpatie met die familie. Sal liewer nie my woede in woorde omskryf nie.

Dries ·

Die boer is vermoor omdat hy die aanvallers sou herken, moontlik van die werkers.

Jack ·

Hy het geweet wie die aanvallers was of dit is eenvoudig rassehaat wat in die meeste gevalle van moord en marteling teenwoordig is. Dit gaan nie verander nie en ons as wit mense sal onsself moet verskans teen die moordenaars deur te leef asof ons die prisoniers is. Dan het jy n kans. Skiet eers en vra later lyk my is al wat oorbly.

akkedismis ·

Ons oues van dae en boere MOET ALTYD n VUURWAPEN op ons dra !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.