Boer in veldbrand vasgekeer: ‘Ek het gedink ek gaan doodbrand’

Dawid Steenkamp in die hospitaal. Foto: Verskaf.

ʼn Boer (45) van die Vrystaat sê dit is ʼn wonderwerk dat hy lewe ná hy Sondag in ʼn verwoestende brand naby sy plaas vasgevang is.

Dawid Steenkamp, wat op die grens van Vredefort en Kroonstad ʼn gemengde boerdery bedryf, is vanoggend uit die Netcare Kroon-hospitaal in Kroonstad ontslaan.

Johan Breytenbach van die Freestate Umbrella Fire Protection Association (FSUSPA) het gesê die brand het tussen Viljoenskroon en Vredefort sowat 10 km wes van die R721 in die Renosterspruit-omgewing uitgebreek en altesaam tussen 2000 ha en 3000 ha verbrand.

Breytenbach het gesê warm weerstoestande met sterk winde van tot 55 km/h het toestande geskep waartydens brande vinnig kon versprei.

Volgens Steenkamp het talle boere in die omgewing kom help om die brand te probeer bekamp.

“Ek het gesien waarheen die vuur op pad is en is met die trekker vooruit om brandbane te sny. Die vuur was sowat 150 m van my af toe die wind draai. Ek het die implemente opgetel en probeer wegry. Ek kon ʼn hele ent ry, sowat 400 m, toe ek besef ek kan nie vir dié brand wegry nie,” het Steenkamp gesê.

Hy vertel daar was ʼn oomblik dat hy skielik tot die besef gekom het die vuur is vinniger as die trekker. Hy het toe besluit om die trekker om te draai en as’t ware in die rigting van die vuur te ry om sodoende déúr die vuur te ry tot anderkant waar die vlamme begin het en klaar gebrand het.

Foto: Verskaf.

Steenkamp het sy kinders, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, vroeër gestuur om die skape met die bakkie uit die pad van die vuur te jaag. “Ek het besef hulle sou sien wat gebeur en daarom het ek ook besluit om om te draai,” vertel hy.

“Toe ek binne-in die vlamme was, het die trekker gevrek. Daar was nie genoeg suurstof vir die enjin om te ontbrand nie. Ek het toe besluit om uit te klim en te loop – dit was ʼn bestiering dat ek anderkant uitgekom het. Dit was net genade. Ek het regtig gedink ek gaan doodbrand.”

Steenkamp vertel hy het ʼn oorpak en skoene aangehad en sy hande en gesig het die ergste onder die vlamme deurgeloop. Hy het derdegraadse brandwonde op sy hande opgedoen.

Ander mense in die omgewing het toe met hul bakkies na Steenkamp gejaag en sy vrou, Chrisna, gebel sodat sy hulle by die teerpad kon ontmoet. Chrisna het hulle daar met yswater ontmoet en met Steenkamp na die hospitaal gehaas waar hulle hom onmiddellik met morfien behandel het vir die pyn.

Steenkamp sê sy neus is “een groot blaas” en dat daar selfs blase in sy ore is. Hy moet nou elke dag na die hospitaal terugkeer vir wondsorg.

Volgens Steenkamp het hy sowat 400 ha weiding in die brand verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Dankbaar Jy lewe Dawid ! God is GOED elke keer Sterkte vir die hande en gesig se herstel ! Ek ken daardie sonder suurstof gevoel ! ‘n Brand isi ‘n grapi !! ???

Leser ·

Liewe aarde! Dankie tog hierdie boer het oorleef. Die Here se genade is groot. Ek hoop vir spoedige herstel.

GM ·

Nou kyk nou net waardeur boere alles gaan, en hoe hulle saamstaan. Gaan dié wat die grond net kry, hul lewens so op die spel plaas vir ander (of vir hul oes, of hul diere)?
Sterkte aan hom en sy naasbestaandes. Mens kan sien dis hande wat hard werk daai. God bless.

J O H A N N E S !!! ·

Dawid! !!!!
DIE HERE IS LIEF VIR JOU!
HALLELUJAH! !!

jennefer ·

En orals langs nasionale roetes word die veld aan die brand gesteek, soos die 7 plekke tussen Modimolle en Bela Bela verlede maand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.